Eksodus 6:1-30

  • Belofte van verlossing herhaal (1-13)

    • Jehovah se naam nie heeltemal geopenbaar nie (2, 3)

  • Geslagslyn van Moses en Aäron (14-27)

  • Moses moet weer voor Farao verskyn (28-30)

6  Toe het Jehovah vir Moses gesê: “Nou sal jy sien wat ek aan Farao sal doen.+ ’n Magtige hand sal hom dwing om hulle weg te stuur, en ’n magtige hand sal hom dwing om hulle uit sy land uit te dryf.”+  Toe het God vir Moses gesê: “Ek is Jehovah.  Ek het altyd aan Abraham, Isak en Jakob verskyn as God die Almagtige,+ maar wat my naam Jehovah+ betref, ek het my nie deur middel daarvan aan hulle geopenbaar nie.+  Ek het ook ’n verbond met hulle gemaak om die land Kanaän aan hulle te gee, die land waar hulle as uitlanders gewoon het.+  En ek het die gekreun van die Israeliete gehoor, wat deur die Egiptenare in slawerny gehou word, en ek het nie my verbond vergeet nie.+  “Daarom moet jy vir die Israeliete sê: ‘Ek is Jehovah, en ek sal julle bevry van die onderdrukking van die Egiptenare en van julle slawerny aan hulle,+ en ek sal julle met ’n uitgestrekte* arm en met groot oordele verlos.+  Ek sal julle as my volk neem, en ek sal julle God wees,+ en julle sal beslis weet dat ek Jehovah is, julle God wat julle bevry van die onderdrukking van Egipte.  Ek sal julle in die land inbring wat ek met ’n eed belowe het* om aan Abraham, Isak en Jakob te gee, en ek sal dit aan julle as ’n besitting gee.+ Ek is Jehovah.’”+  Later het Moses hierdie boodskap aan die Israeliete gegee, maar hulle het nie na Moses geluister nie omdat hulle ontmoedig was en hard moes werk as slawe.+ 10  Toe het Jehovah vir Moses gesê: 11  “Gaan sê vir Farao, die koning van Egipte, dat hy die Israeliete uit sy land moet wegstuur.” 12  Maar Moses het vir Jehovah gesê: “Nie eers die Israeliete het na my geluister nie.+ Hoe sal Farao ooit na my luister? Ek sukkel om te praat.”*+ 13  Maar Jehovah het weer vir Moses en Aäron gesê watter bevele hulle vir die Israeliete en vir Farao, die koning van Egipte, moet gee, sodat die Israeliete uit Egipte uitgelei kan word. 14  Dít is die hoofde van die vaderhuise: Die seuns van Ruben, Israel se eersgeborene,+ was Hanog, Pallu, Hesron en Karmi.+ Dit is die families van Ruben. 15  Die seuns van Siʹmeon was Jeʹmuel, Jamin, Ohad, Jagin, Sohar en Saul, die seun van ’n Kanaänitiese vrou.+ Dit is die families van Siʹmeon. 16  Dít is die name van die seuns van Levi,+ volgens hulle geslagslyne: Gerson, Kehat en Meraʹri.+ Levi het 137 jaar oud geword. 17  Die seuns van Gerson was Libni en Siʹmeï, volgens hulle families.+ 18  Die seuns van Kehat was Amram, Jishar, Heʹbron en Usʹsiël.+ Kehat het 133 jaar oud geword. 19  Die seuns van Meraʹri was Magli en Musi. Dit was die families van die Leviete, volgens hulle geslagslyne.+ 20  En Amram het Joʹgebed, sy pa se suster, as vrou geneem.+ Sy het geboorte gegee aan Aäron en Moses.+ Amram het 137 jaar oud geword. 21  Die seuns van Jishar was Korag,+ Nefeg en Sigri. 22  Die seuns van Usʹsiël was Miʹsael, Elʹsafan+ en Sitri. 23  En Aäron het Eliseʹba, Amminaʹdab se dogter, die suster van Nagson,+ as vrou geneem. Sy het geboorte gegee aan Nadab, Abiʹhu, Eleaʹsar en Iʹtamar.+ 24  Die seuns van Korag was Assir, Elkaʹna en Abiʹasaf.+ Dit was die families van die Koragiete.+ 25  Eleaʹsar,+ Aäron se seun, het een van die dogters van Puʹtiël as vrou geneem. Sy het geboorte gegee aan Piʹnehas.+ Dit is die hoofde van die vaderhuise van die Leviete, volgens hulle families.+ 26  Dit is die Aäron en Moses vir wie Jehovah gesê het: “Lei die Israeliete uit Egipte uit, afdeling vir afdeling.”*+ 27  Dit is hulle, Moses en Aäron,+ wat met Farao, die koning van Egipte, gepraat het om die Israeliete uit Egipte uit te lei. 28  Op daardie dag, toe Jehovah met Moses in Egipte gepraat het, 29  het Jehovah vir Moses gesê: “Ek is Jehovah. Sê vir Farao, die koning van Egipte, alles wat ek vir jou sê.” 30  Toe het Moses voor Jehovah gesê: “Ek sukkel om te praat.* Hoe sal Farao dan ooit na my luister?”+

Voetnote

Of “’n magtige”.
Lett. “[waaroor] ek my hand opgelig het”.
Lett. “Ek is onbesnede van lippe”.
Lett. “volgens hulle leërmagte”.
Lett. “Ek is onbesnede van lippe”.