Spring na inhoud

Is die hel ’n regte plek? Wat is die hel volgens die Bybel?

Is die hel ’n regte plek? Wat is die hel volgens die Bybel?

Die Bybel se antwoord

 Verskillende ouer Engelse Bybelvertalings, soos die King James-vertaling, gebruik die woord “hel” in party verse (Psalm 16:10; Handelinge 2:27 a). Soos die kunswerk in hierdie artikel wat op godsdiensleringe gebaseer is vir ons wys, glo baie mense dat die hel ’n plek van ewige vuur is waar goddelose mense gestraf word. Maar is dit wat die Bybel vir ons leer?

In hierdie artikel

 Is die hel ’n plek waar mense vir ewig ly?

 Nee. Die oorspronklike woorde wat in party ouer Bybelvertalings (Hebreeus, “Sjeool”; Grieks, “Hades”) as “hel” vertaal word, verwys basies na “die Graf”, dit wil sê die gemeenskaplike graf van die mensdom. Die Bybel wys dat mense wat in “die Graf” is, nie bestaan nie.

  •   Die dooies is bewus van niks nie, en daarom kan hulle nie pyn voel nie. “Daar sal geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die hel wees nie” (Prediker 9:10, Douay-Rheims-vertaling). Die hel is nie vol mense wat skree van pyn nie. Die Bybel sê eerder: “Laat die goddeloses skaam kry, en in stilte neerdaal in die graf [hel, Douay-Rheims].” – Psalm 31:17; King James-vertaling (30:18, Douay-Rheims); Psalm 115:17.

  •   God het gesê dat die dood die straf vir sonde sal wees, en nie pyniging in ’n helse vuur nie. God het vir die eerste man, Adam, gesê dat die dood die straf sou wees vir ongehoorsaamheid aan God se wet (Genesis 2:17). Hy het niks gesê oor ewige pyniging in die hel nie. Later, nadat Adam gesondig het, het God vir hom gesê wat sy straf sou wees: “Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). Hy sou ophou om te bestaan. As God van plan was om Adam eintlik na ’n brandende hel te stuur, sou Hy dit sekerlik genoem het. God het nie die straf verander vir ’n persoon wat ongehoorsaam is aan sy wette nie. Lank nadat Adam gesterf het, het God ’n Bybelskrywer geïnspireer om te sê: “Die betaling vir sonde is die dood” (Romeine 6:23). Geen verdere straf is nodig nie, want “hy wat gesterf het, is vrygespreek van sy sonde”. – Romeine 6:7.

  •   Die idee van ewige pyniging is iets wat God haat (Jeremia 32:35). Hierdie idee is in stryd met die Bybellering dat ‘God liefde is’ (1 Johannes 4:8). Hy wil hê dat ons hom moet aanbid omdat ons hom liefhet en nie omdat ons bang is dat ons vir ewig gepynig sal word nie. – Matteus 22:36-38.

  •   Goeie mense het hel toe gegaan. Die Bybels wat die woord “hel” gebruik, wys dat getroue manne, soos Jakob en Job, verwag het dat hulle hel toe sou gaan (Genesis 37:35; Job 14:13). Daar word selfs gesê dat Jesus Christus vanaf die tyd van sy dood tot sy opstanding in die hel was (Handelinge 2:31, 32). So, dit is duidelik dat hierdie Bybels, wanneer dit die woord “hel” gebruik, bloot na die Graf verwys. b

 Wat van Jesus se illustrasie oor die ryk man en Lasarus?

 Hierdie illustrasie is deur Jesus gebruik en word gevind in Lukas 16:19-31. Illustrasies leer ons standaarde oor reg en verkeerd en oor hoe God oor dinge voel. Die illustrasie oor die ryk man en Lasarus het nie regtig gebeur nie (Matteus 13:34). Om meer oor hierdie illustrasie uit te vind, sien die artikel “Wie was die ryk man en wie was Lasarus?

 Beteken hel dat iemand daarvan bewus is dat hy nie ’n verhouding met God het nie?

 Nee. Die lering dat die dooies daarvan bewus kan wees dat hulle nie ’n verhouding met God het nie, bots met wat die Bybel sê. Die Bybel wys duidelik dat die dooies van niks bewus is nie. – Psalm 146:3, 4; Prediker 9:5.

 Is enige iemand al ooit vrygelaat uit die hel?

 Ja. Die Bybel gee breedvoerige verslae van nege mense wat na die Graf (in party Bybels as “hel” vertaal) gegaan het en weer tot lewe opgewek is. c As hulle bewus was van wat om hulle aangegaan het in die hel, sou hulle vir ander kon vertel wat daar met hulle gebeur het. Maar dit is interessant dat nie een van daardie nege mense gesê het dat hulle pyn of enige iets anders ervaar het nie. Hoekom nie? Soos die Bybel regdeur vir ons wys, was hulle bewus van niks, asof hulle in ’n diep “slaap” was. – Johannes 11:11-14; 1 Korintiërs 15:3-6.

a Die meeste moderne Afrikaanse vertalings gebruik nie die woord “hel” in Handelinge 2:27 nie. Hulle gebruik eerder uitdrukkings soos “die graf” (Nuwe Lewende Vertaling) en “die doderyk” (Ou Afrikaanse Bybelvertaling, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Of hulle translitereer basies net die Griekse woord as “Hades”. – Nuwe Lewende Vertaling.

b Sien die venster “ Bybelwoorde in die oorspronklike tale”.