Spring na inhoud

Hoe het Jesus gelyk?

Hoe het Jesus gelyk?

Die Bybel se antwoord

 Niemand weet regtig hoe Jesus gelyk het nie omdat hy nie in die Bybel beskryf word nie. Dit wys vir ons dat dit nie belangrik is hoe Jesus gelyk het nie. Maar die Bybel gee ons wel min of meer ’n idee van hoe Jesus gelyk het.

  •   Kenmerke: Jesus was ’n Jood, en hy het heel moontlik ’n algemene Semitiese voorkoms gehad wat hy by sy ma geërf het (Hebreërs 7:14). Dit is onwaarskynlik dat hy spesiale kenmerke gehad het waaraan hy uitgeken kon word. Eenkeer het hy in die geheim van Galilea na Jerusalem toe gegaan sonder dat iemand hom herken het (Johannes 7:10, 11). En wanneer hy tussen sy dissipels was, het hy nie juis uitgestaan nie. Dit is interessant dat Judas Iskariot vir die gewapende groep mans moes wys wie Jesus is toe hulle hom in hegtenis wou neem.—Matteus 26:47-49.

  •   Hoe lank was sy hare: Jesus sou nie lang hare gehad het nie, want die Bybel sê dat “dit ’n man tot oneer strek as hy lang hare het”.—1 Korintiërs 11:14.

  •   Baard: Jesus het ’n baard gehad. Hy het volgens die Joodse wet gelewe. Die wet het mans verbied om ‘die rand van hulle baard te vernietig’ (Levitikus 19:27; Galasiërs 4:4). Die Bybel verwys ook na Jesus se baard in ’n profesie oor die lyding wat hy sou deurmaak.—Jesaja 50:6.

  •   Liggaam: Alles dui daarop dat Jesus fisies sterk was. Gedurende sy bediening het hy kilometers ver geloop (Matteus 9:35). Hy het twee keer die tafels van die geldwisselaars by die Joodse tempel omgegooi, en een keer het hy diere met ’n sweep daar uitgedryf (Lukas 19:45, 46; Johannes 2:14, 15). McClintock en Strong se Cyclopedia sê: “Die hele evangelieverslag [die eerste vier boeke van die Griekse Geskrifte] wys daarop dat [Jesus] sterk en gesond was.”—Deel IV, bladsy 884.

  •   Gesigsuitdrukkings: Jesus was vriendelik en het mense jammer gekry. Dit kon op sy gesig gesien word (Matteus 11:28, 29). Alle soorte mense het na hom toe gekom sodat hy hulle kon troos en help (Lukas 5:12, 13; 7:37, 38). Selfs kinders was gemaklik by hom.—Matteus 19:13-15; Markus 9:35-37.

Hoe mense dink Jesus gelyk het

 Wat mense dink: Party redeneer dat Jesus gelyk het asof hy van Afrika af gekom het. Hulle dink so omdat sy hare in die boek Openbaring met wol en sy voete met “fyn koper” vergelyk word.—Openbaring 1:14, 15.

 Feit: Die boek Openbaring word “in tekens” oorgedra (Openbaring 1:1). Jesus se hare en voete word simbolies beskryf sodat ons eienskappe wat Jesus ná sy opstanding sou hê, kan verstaan. Dit beskryf nie hoe hy gelyk het toe hy op die aarde was nie. Wanneer Openbaring 1:14 sê dat Jesus se “hare wit soos wit wol, soos sneeu” was, word sy hare vergelyk met die kleur van die wol en nie die tekstuur nie. Sy wit hare beeld sy wysheid af omdat hy baie oud is (Openbaring 3:14). Hierdie vers vergelyk nie Jesus se hare met hoe wol voel nie, net soos dit nie sy hare vergelyk met hoe sneeu voel nie.

 Jesus se voete het gelyk “soos fyn koper wanneer dit in ’n oond gloei” (Openbaring 1:15). En sy gesig was “soos die son wanneer hy in sy krag skyn” (Openbaring 1:16). Omdat daar geen ras is met ’n velkleur soos wat hier beskryf word nie, moet hierdie visioen simbolies wees. Dit beeld Jesus ná sy opstanding af as die een “wat in ontoeganklike lig woon”.—1 Timoteus 6:16.

 Wat mense dink: Jesus was swak en pieperig.

 Feit: Jesus het manlik opgetree. Toe die groep gewapende mans gekom het om hom in hegtenis te neem, was hy dapper toe hy erken het dat hy die een is na wie hulle soek (Johannes 18:4-8). Jesus moes ook fisies sterk gewees het om gereedskap te gebruik en houtwerk met die hand te doen.—Markus 6:3.

 Waarom was dit dan nodig dat iemand Jesus moes help om sy folterpaal te dra? En waarom het hy gesterf voordat die ander mans wat saam met hom tereggestel is, gesterf het? (Lukas 23:26; Johannes 19:31-33). Net voordat Jesus doodgemaak is, het hy baie dinge deurgegaan wat sy liggaam swak gemaak het. Hy was die hele nag wakker. Een rede hiervoor is omdat hy in emosionele pyn was (Lukas 22:42-44). Gedurende die nag is hy deur die Jode mishandel, en die volgende oggend het die Romeine hom gemartel (Matteus 26:67, 68; Johannes 19:1-3). Hierdie faktore het veroorsaak dat hy gouer as die ander mans gesterf het.

 Wat mense dink: Jesus was altyd ernstig.

 Feit: Jesus het presies dieselfde eienskappe as sy hemelse Vader, Jehovah. Die Bybel beskryf Jehovah as “die gelukkige God” (1 Timoteus 1:11; Johannes 14:9). Die waarheid is dat Jesus ander mense geleer het hoe om gelukkig te wees (Matteus 5:3-9; Lukas 11:28). Hierdie feite wys dat mense baie keer op Jesus se gesig kon sien dat hy gelukkig is.