Volgens Lukas 7:1-50

  • Geloof van ’n militêre offisier (1-10)

  • Jesus wek ’n weduwee se seun in Nain op (11-17)

  • Johannes die Doper geprys (18-30)

  • Geslag word veroordeel (31-35)

  • ’n Vrou se sondes vergewe (36-50)

    • Illustrasie van mans met skuld (41-43)

7  Toe hy dit alles vir die volk gesê het, het hy in Kaperʹnaum ingegaan.  ’n Sekere militêre offisier het ’n slaaf gehad wat vir hom baie beteken het, maar die slaaf was ernstig siek en het op sterwe gelê.+  Toe die offisier van Jesus hoor, het hy ’n paar ouermanne van die Jode na hom toe gestuur om vir hom te vra om sy slaaf te kom genees.  Hulle het na Jesus toe gekom en hom ernstig begin smeek en gesê: “Hy verdien u hulp,  want hy is lief vir ons nasie en hy het ons sinagoge gebou.”  Jesus het toe saam met hulle gegaan. Maar toe hy naby die huis was, het die militêre offisier reeds vriende gestuur om vir hom te sê: “Meneer, moenie moeite doen nie, want ek verdien nie dat u onder my dak inkom nie.+  Daarom dink ek nie dat ek waardig is om na u toe te kom nie. Maar sê die woord en laat my kneg gesond word.  Want ek is ook ’n man wat onder die gesag van iemand anders geplaas is, en ek het soldate onder my, en ek sê vir die een: ‘Gaan!’ en hy gaan, en vir ’n ander een: ‘Kom!’ en hy kom, en vir my slaaf: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.”  Toe Jesus hierdie dinge hoor, was hy verbaas, en hy het omgedraai en vir die skare wat hom gevolg het, gesê: “Ek sê vir julle: Ek het nie eers in Israel sulke groot geloof gevind nie.”+ 10  En toe dié wat gestuur is, weer by die huis kom, het hulle gesien dat die slaaf gesond is.+ 11  Kort daarna het hy na ’n stad gereis wat Nain genoem word, en sy dissipels en ’n groot skare het saam met hom gereis. 12  Toe hy naby die poort van die stad kom, kyk! toe word daar ’n dooie man uitgedra, die enigste seun van sy ma.+ Sy was boonop ’n weduwee. Daar was ook ’n groot groep mense van die stad by haar. 13  Toe die Here haar sien, het hy baie jammer vir haar gevoel,+ en hy het vir haar gesê: “Hou op huil.”+ 14  Hy het toe nader gegaan en aan die draagbaar geraak, en die draers het gaan staan. Hy het gesê: “Jong man, ek sê vir jou: Staan op!”+ 15  En die dooie man het regop gesit en begin praat, en Jesus het hom aan sy ma gegee.+ 16  Hulle almal was verbaas, en hulle het God begin loof en gesê: “’n Groot profeet het onder ons verskyn,”+ en: “God het aandag aan sy volk geskenk.”+ 17  En die nuus oor hom het deur die hele Judeʹa en die hele omliggende gebied versprei. 18  Johannes se dissipels het hom al hierdie dinge vertel.+ 19  Toe het Johannes twee van sy dissipels geroep en hulle na die Here toe gestuur om te vra: “Is u die Een+ wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?” 20  Toe hulle by hom kom, het die mans gesê: “Johannes die Doper het ons na u toe gestuur om te vra: ‘Is u die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?’” 21  In daardie uur het hy baie mense genees van siektes,+ ernstige kwale en bose geeste, en hy het baie blindes laat sien. 22  Hy het vir hulle gesê: “Gaan sê vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: Die blindes kan nou sien,+ die kreupeles loop, die melaatses word genees,* die dowes hoor,+ die dooies word opgewek en die armes word van die goeie nuus vertel.+ 23  Gelukkig is die een wat geen rede vind om te struikel as gevolg van my nie.”+ 24  Toe Johannes se boodskappers daar weg is, het Jesus met die skare oor Johannes begin praat en gesê: “Waarna wou julle in die wildernis gaan kyk? ’n Riet wat deur die wind heen en weer gewaai word?+ 25  Waarna wou julle gaan kyk? ’n Man wat sagte* klere dra?+ Dié wat pragtige klere dra en in weelde lewe, is in paleise.* 26  Waarna wou julle dan nou eintlik gaan kyk? ’n Profeet? Ja, sê ek vir julle, en baie meer as ’n profeet.+ 27  Dit is die een oor wie daar geskryf is: ‘Kyk! Ek stuur my boodskapper voor jou uit, wat jou weg vir jou sal voorberei.’+ 28  Ek sê vir julle: Van almal wat al gebore is, is daar niemand groter as Johannes nie. Tog is die persoon wat die kleinste in die Koninkryk van God is, groter as hy.”+ 29  (Toe al die mense en die belastinggaarders* dit hoor, het hulle erken dat God regverdig is, want hulle is met die doop van Johannes gedoop.+ 30  Maar die Fariseërs en dié wat die Wet goed geken het, het die raad* verwerp wat God vir hulle gegee het,+ aangesien hulle nie deur Johannes gedoop is nie.) 31  “Met wie sal ek dan die mense van hierdie geslag vergelyk, en soos wie is hulle?+ 32  Hulle is soos jong kinders wat op ’n markplein sit en na mekaar roep en sê: ‘Ons het vir julle op die fluit gespeel, maar julle het nie gedans nie. Ons het ’n treurlied gesing, maar julle het nie gehuil nie.’ 33  Net so het Johannes die Doper gekom en nie brood geëet of wyn gedrink nie,+ maar julle sê: ‘Hy het ’n demoon.’ 34  Die Seun van die mens het gekom en geëet en gedrink, maar julle sê: ‘Kyk! ’n Vraat en iemand wat aan wyn verslaaf is, ’n vriend van belastinggaarders en sondaars!’+ 35  Maar wysheid word reg bewys deur sy resultate.”*+ 36  En een van die Fariseërs het hom bly vra om by hom te kom eet. Toe het hy in die huis van die Fariseër ingegaan en sy plek by die tafel ingeneem. 37  ’n Vrou wat in die stad as ’n sondaar bekend gestaan het, het uitgevind dat hy in die huis van die Fariseër eet,* en sy het ’n albasterfles met lekkerruik-olie gebring.+ 38  Sy het agter hom by sy voete gaan kniel. Sy het gehuil en sy voete met haar trane begin natmaak en dit met haar hare afgedroog. Sy het ook sy voete gesoen en die olie daarop gegooi. 39  Toe die Fariseër wat hom genooi het, dit sien, het hy gedink: “As hierdie man regtig ’n profeet was, sou hy geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ’n sondaar is.”+ 40  Maar Jesus het vir hom gesê: “Simon, ek het iets om vir jou te sê.” Hy het gesê: “Leermeester, sê dit!” 41  “Twee mans was in die skuld by ’n sekere man wat geld aan ander geleen het. Die een het 500 denaʹrii* geskuld, maar die ander een 50. 42  Toe hulle hom nie kon terugbetaal nie, het hy hulle al twee vryelik vergewe. Wie van hulle sal hom dan die meeste liefhê?” 43  Simon het geantwoord: “Dit is seker die een wat hom die meeste geskuld het.” Hy het vir hom gesê: “Jy het reg geoordeel.” 44  Toe het hy na die vrou gekyk en vir Simon gesê: “Sien jy hierdie vrou? Toe ek in jou huis ingekom het, het jy nie vir my water vir my voete gegee nie. Maar hierdie vrou het my voete met haar trane natgemaak en dit met haar hare afgedroog. 45  Jy het my nie gesoen nie, maar van die uur dat ek ingekom het, het hierdie vrou nie opgehou om my voete te soen nie. 46  Jy het nie olie op my kop gegooi nie, maar hierdie vrou het lekkerruik-olie op my voete gegooi. 47  Ek sê vir jou: As gevolg hiervan is haar sondes vergewe,+ al is dit baie,* want sy het baie liefde betoon. Maar die een wat min vergewe word, betoon min liefde.” 48  Toe het hy vir haar gesê: “Jou sondes is vergewe.”+ 49  Dié wat saam met hom aan tafel was, het toe vir mekaar begin vra: “Wie is hierdie man wat selfs sondes vergewe?”+ 50  Maar hy het vir die vrou gesê: “Jou geloof het jou gered.+ Gaan in vrede.”

Voetnote

Lett. “gereinig”.
Lett. “koninklike huise”.
Of “die beste”.
Persone wat belasting vir die regering invorder.
Of “leiding”.
Of “geregverdig deur al sy kinders”.
Of “aan tafel is”.
Of “groot”.