Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Miga 6:8 – “Wandel met jou God”

Miga 6:8 – “Wandel met jou God”

 “Hy het jou vertel, o mens, wat goed is. En wat verwag Jehovah van jou? Net dat jy geregtigheid moet beoefen, lojaliteit moet liefhê en beskeie moet wandel met jou God!” – Miga 6:8, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” – Miga 6:8, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

Betekenis van Miga 6:8

 Die profeet Miga verduidelik dat dit nie te moeilik vir mense is om Jehovah a God se hart bly te maak nie (1 Johannes 5:3). Wat God van ons verwag, word deur middel van drie betekenisvolle uitdrukkings in hierdie vers opgesom. Die eerste twee uitdrukkings gaan oor hoe ’n persoon ander behandel, en die derde uitdrukking het te doen met ’n persoon se verhouding met God.

 ‘Beoefen geregtigheid.’ God vra dat sy aanbidders moet doen wat regverdig is. Dit beteken dat die manier hoe ons dink en die dinge wat ons doen, moet ooreenstem met wat God sê reg en verkeerd is (Deuteronomium 32:4). Byvoorbeeld, diegene wat God se standaarde volg, doen hulle bes om alle mense op ’n eerlike en onpartydige manier te behandel, maak nie saak wat hulle agtergrond, nasionaliteit of sosiale status is nie. – Levitikus 19:15; Jesaja 1:17; Hebreërs 13:18.

 Wees lief vir lojaliteit. Hierdie uitdrukking kan ook beteken dat jy “lojale liefde moet liefhê” (Miga 6:8, voetnoot). In die oorspronklike Hebreeus beteken die woord vir “lojaliteit” nie net dat jy getrou in ’n verhouding moet wees nie, maar ook dat jy goedhartig en genadig moet wees en meer moet doen as wat van jou verwag word. God vra diegene wat hom gelukkig wil maak, om nie net goedhartig en genadig te wees nie, maar ook om lief te wees vir hierdie eienskappe. Dit beteken dat sy aanbidders bly moet wees om ander te help, veral dié wat dit nodig het. Om te gee maak ons gelukkig. – Handelinge 20:35.

 ‘Wandel beskeie met jou God.’ Die frase in die Bybel ‘om te wandel’, kan beteken “om dinge op ’n sekere manier te doen”. ’n Persoon wandel met God deur op ’n manier te lewe wat Hom gelukkig maak. Noag is ’n goeie voorbeeld. Hy “het met die ware God gewandel” omdat hy regverdig in God se oë was, en “hy was anders as die mense van sy tyd” (Genesis 6:9). Vandag ‘wandel ons met God’ deur die leringe in sy Woord, die Bybel, in ons lewe toe te pas. Om dit te doen, moet ons beskeie wees. Dit beteken dat ons ons beperkings aanvaar en erken dat ons op God vertrou vir alle dinge. – Johannes 17:3; Handelinge 17:28; Openbaring 4:11.

Konteks van Miga 6:8

 Miga was ’n profeet in eertydse Israel gedurende die agtste eeu VHJ. In daardie tyd was die land vol afgodediens, bedrog en onderdrukking (Miga 1:7; 3:1-3, 9-11; 6:10-12). Die meeste Israeliete het God se vereistes geïgnoreer, wat vir hulle in die Wet van Moses gegee is. Op dieselfde tyd het baie verkeerdelik geglo dat hulle God se goedkeuring kon kry deur sekere godsdiensrituele en -gebruike te volg. – Spreuke 21:3; Hosea 6:6; Miga 6:6, 7.

 Honderde jare ná Miga se tyd het Jesus weer gesê dat diegene wat liefde, geregtigheid en genade betoon, sy Vader bly maak. Maar hy het ook gesê dat dit sy Vader nie bly maak wanneer mense net dinge doen om dit te laat lyk asof hulle aan God toegewyd is nie (Matteus 9:13; 22:37-39; 23:23). Jesus se woorde help ons om te verstaan wat God van Sy aanbidders vandag verwag.

 Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek Miga te kry.

a Die naam Jehovah is ’n Engelse vertaling van die Hebreeuse naam vir God – die vier letters יהוה (YHWH), wat bekend is as die Tetragrammaton. Die Nuwe Wêreld-vertaling in Afrikaans gebruik ook hierdie vorm van die naam Jehovah. Hierdie naam word as “die HERE” in hierdie vers in die Ou Afrikaanse Bybelvertaling weergegee. Vir meer inligting oor Jehovah en hoekom party Bybelvertalings nie hierdie naam gebruik nie, kyk na die artikel “Wie is Jehovah?