Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Spreuke 3:5, 6 – “Steun nie op jou eie insig nie”

Spreuke 3:5, 6 – “Steun nie op jou eie insig nie”

 “Vertrou op Jehovah met jou hele hart, en moenie op jou eie begrip staatmaak nie. Neem hom in ag in alles wat jy doen, en hy sal jou paaie gelykmaak.” – Spreuke 3:5, 6, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.” – Spreuke 3:5, 6, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.

Betekenis van Spreuke 3:5, 6

 Wanneer ons belangrike besluite maak, moet ons dit nie net op ons eie doen nie, maar eerder op Jehovah a God staatmaak vir leiding.

 “Vertrou op Jehovah met jou hele hart.” Ons wys dat ons God vertrou wanneer ons dinge op sy manier doen. Ons moet God ten volle vertrou, met ons hele hart. In die Bybel verwys die hart gewoonlik na die mens wat ons van binne is, en dit sluit iemand se emosies, beweegredes, gedagtes en gesindheid in. So, dit is nie net ons gevoelens wat daarby betrokke is om God met ons hele hart te vertrou nie. Dit is ’n keuse wat ons maak omdat ons heeltemal daarvan oortuig is dat ons Skepper weet wat die beste vir ons is. – Romeine 12:1.

 “Moenie op jou eie begrip staatmaak nie.” Ons moet God vertrou, want ons kan nie op ons eie onvolmaakte manier van redeneer staatmaak nie. As ons net op onsself en op ons gevoelens staatmaak, sal ons dalk keuses maak wat aan die begin goed lyk, maar op die ou end slegte resultate het (Spreuke 14:12; Jeremia 17:9). God se wysheid is baie groter as ons s’n (Jesaja 55:8, 9). As ons dink soos Jehovah dink, sal ons lewe suksesvol wees. – Psalm 1:1-3; Spreuke 2:6-9; 16:20.

 “Neem hom in ag in alles wat jy doen.” In elke belangrike aspek van ons lewe en elke belangrike besluit wat ons maak, moet ons uitvind wat God daarvan dink en hoe hy daaroor voel. Ons doen dit deur te bid en te vra vir sy leiding en deur te doen wat hy in sy Woord, die Bybel, sê. – Psalm 25:4; 2 Timoteus 3:16, 17.

 “Hy sal jou paaie gelykmaak.” God maak ons paaie gelyk deur ons te help om volgens sy regverdige standaarde te lewe (Spreuke 11:5). So vermy ons onnodige probleme en geniet ons ’n gelukkiger lewe. – Psalm 19:7, 8; Jesaja 48:17, 18.

Konteks van Spreuke 3:5, 6

 Die Bybelboek Spreuke bevat basiese beginsels vir ’n gelukkige lewe wat God se hart bly maak. Die eerste nege hoofstukke is geskryf as raad van ’n pa aan ’n geliefde seun. Hoofstuk 3 wys watter voordele dit inhou vir dié wat die Skepper se wysheid op prys stel en toepas. – Spreuke 3:13-26.

a Jehovah is die persoonlike naam van God. – Psalm 83:18.