Spring na inhoud

Wat sê die Bybel oor wilsvryheid? Beheer God alles?

Wat sê die Bybel oor wilsvryheid? Beheer God alles?

Die Bybel se antwoord

 God gee ons die gawe van wilsvryheid, die vermoë om ons eie besluite te neem in plaas daarvan dat God of die noodlot voorbestem wat ons doen. Kyk na wat die Bybel leer.

  •   God het die mens na sy beeld geskep (Genesis 1:26). In teenstelling met diere, wat hoofsaaklik op instink reageer, kom ons met ons Skepper ooreen wat ons vermoë betref om eienskappe soos liefde en geregtigheid te openbaar. En soos ons Skepper, het ons wilsvryheid.

  •   Ons kan in groot mate ons toekoms bepaal. Die Bybel spoor ons aan om ‘die lewe te kies deur na God se stem te luister’, dit wil sê deur te kies om sy gebooie te gehoorsaam (Deuteronomium 30:19, 20). Hierdie uitnodiging sou sinloos, selfs wreed, wees as ons nie wilsvryheid gehad het nie. God dwing ons nie om te doen wat hy sê nie, maar pleit eerder by ons: “Ag, as jy maar aan my gebooie aandag sal skenk! Dan sal jou vrede net soos ’n rivier word.”—Jesaja 48:18.

  •   Ons sukses of mislukking word nie deur die noodlot bepaal nie. As ons sukses wil behaal in iets, moet ons hard werk. “Alles wat jou hand vind om te doen”, sê die Bybel “doen dit met jou mag” (Prediker 9:10). Dit sê ook: “Die planne van die vlytige lei gewis tot voordeel.”—Spreuke 21:5.

 Wilsvryheid is ’n kosbare gawe van God, want dit stel ons in staat om hom met ons “hele hart” lief te hê—omdat ons wil.—Matteus 22:37.

Beheer God nie alles nie?

 Die Bybel leer wel dat God almagtig is, dat sy mag deur niemand anders beperk kan word nie (Job 37:23; Jesaja 40:26). Maar hy gebruik nie sy mag om alles te beheer nie. Die Bybel sê byvoorbeeld dat God ‘selfbeheersing beoefen het’ teenoor eertydse Babilon, ’n vyand van sy volk (Jesaja 42:14). Hy kies nou eweneens om diegene te duld wat hulle wilsvryheid misbruik om ander leed aan te doen. Maar God sal dit nie vir altyd doen nie.—Psalm 37:10, 11.