Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

Die Bybel se duidelike, logiese antwoorde het my beïndruk

Die Bybel se duidelike, logiese antwoorde het my beïndruk
  • GEBORE: 1948

  • GEBOORTELAND: HONGARYE

  • GESKIEDENIS: HET GESMAG NA ANTWOORDE OP DIE BELANGRIKSTE VRAE IN DIE LEWE

MY VERLEDE:

Ek is gebore in Székesfehérvár, Hongarye, ’n stad met ’n ryk geskiedenis van meer as 1 000 jaar. Ek voel nog steeds hartseer wanneer ek dink aan die letsels wat die verwoesting van die Tweede Wêreldoorlog daar gelaat het.

Toe ek klein was, het ek by my oupa en ouma gebly. Ek het mooi herinneringe van hulle—veral my ouma Elisabeth. Sy het my gehelp om sterk geloof in God te ontwikkel. Vandat ek drie jaar oud was, het ek elke aand die Onse Vader saam met haar opgesê. Tog het ek eers in my laat 20’s die betekenis van daardie gebed verstaan.

My oupa en ouma het in my kinderjare na my omgesien omdat my ouers dag en nag gewerk het om genoeg geld op te spaar sodat hulle ’n ordentlike huis kon koop. Maar die hele familie het elke tweede Saterdag bymekaargekom vir ’n ete. Daardie tye wat ons saam deurgebring het, was vir my baie kosbaar.

In 1958 is my ouers se droom bewaarheid; hulle kon ’n huis koop waarin ons drie kon woon. Uiteindelik kon ek by my ouers woon—ek was in die wolke! Maar ses maande later het hierdie geluk skielik tot ’n einde gekom. My pa het aan kanker gesterf.

Ek was verpletterd. Ek onthou dat ek gebid het: “God, ek het u gesmeek om my pa te red. Ek het hom nodig. Hoekom het u nie my gebede verhoor nie?” Ek wou bitter graag weet waar my pa is. Ek het gewonder: ‘Het hy hemel toe gegaan? Of bestaan hy nie meer nie?’ Ek het ander kinders beny wat nog ’n pa gehad het.

Ek het jare lank amper elke dag na die begraafplaas gegaan. Ek het by my pa se graf gekniel en gebid: “Asseblief God, ek wil weet waar my pa is.” Ek het God ook gevra om my te help om die doel van die lewe te verstaan.

Toe ek 13 jaar oud was, het ek besluit om Duits te leer. Ek het gedink dat ek dalk in die groot skatkis Duitse literatuur antwoorde op my vrae sou vind. In 1967 het ek in die stad Jena, wat destyds in Oos-Duitsland was, begin studeer. Ek het gretig boeke gelees wat deur Duitse filosowe geskryf is, veral boeke oor die doel van die mens se bestaan. Hoewel ek ’n paar interessante idees gevind het, het dit nie my vrae beantwoord nie. Ek het aangehou om vir antwoorde te bid.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

In 1970 het ek na Hongarye teruggegaan waar ek my toekomstige vrou, Rose, ontmoet het. Op daardie stadium was Hongarye onder Kommunistiese bewind. Kort nadat ons getrou het, het ek en Rose na Oostenryk gevlug. Ons doel was om uiteindelik na Sydney, Australië, te emigreer, waar my oom gewoon het.

Ek het gou in Oostenryk werk gekry. Eendag het ’n werksmaat vir my gesê dat ek antwoorde op al my vrae in die Bybel kan vind. Hy het vir my ’n paar boeke gegee wat die Bybel bespreek. Ek het daardie boeke verslind en wou meer leer. Daarom het ek geskryf aan Jehovah se Getuies, die uitgewers van die boeke, en nog lektuur aangevra.

Op ons eerste huweliksherdenking is ek en Rose deur ’n jong Oostenrykse Getuie besoek. Hy het die lektuur wat ek aangevra het, gebring en my ’n Bybelstudie aangebied. Ek het dit aanvaar. Aangesien ek gretig was om te leer, het ons twee keer per week gestudeer, en elke studiesessie was omtrent vier uur lank!

Ek was opgewonde oor die dinge wat die Getuies my uit die Bybel geleer het. Toe hulle vir my God se naam, Jehovah, in my Hongaarse Bybel gewys het, kon ek dit skaars glo. In die 27 jaar dat ek kerk toe gegaan het, het ek nie een keer gehoor dat God se naam genoem word nie. Die Bybel se duidelike, logiese antwoorde op my vrae het my beïndruk. Ek het byvoorbeeld geleer dat die dooies van niks bewus is nie; dit is asof hulle in ’n diep slaap is (Prediker 9:5, 10; Johannes 11:11-15). Ek het ook geleer van die Bybel se belofte van ’n nuwe wêreld waar “die dood . . . nie meer [sal] wees nie” (Openbaring 21:3, 4). Ek hoop om my pa weer te sien, want in daardie nuwe wêreld sal daar “’n opstanding . . . wees”.—Handelinge 24:15.

Rose het die Bybel heelhartig saam met my begin studeer. Ons het vinnig vordering gemaak en die studiepublikasie in net twee maande voltooi! Ons het elke vergadering bygewoon wat die Getuies by die Koninkryksaal gehou het. Ons is baie beïndruk deur die liefde, behulpsaamheid en eenheid onder Jehovah se Getuies.—Johannes 13:34, 35.

In 1976 het ek en Rose toestemming gekry om in Australië te gaan woon. Ons het Jehovah se Getuies onmiddellik opgespoor. Die plaaslike Getuies het ons dadelik tuis laat voel. In 1978 het ons self Getuies geword.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Ek het uiteindelik antwoorde op die vrae gevind waaroor ek so lank gewonder het. Deur nader aan Jehovah God te kom, het ek ook die beste Vader denkbaar gevind (Jakobus 4:8). En die hoop om my biologiese vader weer in die komende nuwe wêreld te sien, beteken vir my baie.—Johannes 5:28, 29.

In 1989 het ek en Rose besluit om na Hongarye terug te keer sodat ons ons vriende en familie, sowel as ander, van ons oortuigings kon vertel. Ons het die voorreg gehad om honderde mense van die Bybel te leer. Meer as 70 van hulle dien Jehovah nou saam met ons, insluitende my dierbare ma.

Ek het 17 jaar lank vir antwoorde op my vrae gebid. Nog 39 jaar het verbygegaan, en ek bid nog steeds—maar nou kan ek sê: “Dankie, my dierbare hemelse Vader, dat u die gebede van my kinderjare verhoor het.”