Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOLG HULLE GELOOF NA | JOSEF

“Is uitleggings nie ’n saak van God nie?”

“Is uitleggings nie ’n saak van God nie?”

JOSEF het in die donker gang af gestap. Die sweet het hom afgetap ná ’n harde dag se werk in die verstikkende hitte. Buite het die Egiptiese son op die tronk neergebak sodat dit soos ’n oond gevoel het. Soms het dit gevoel asof hy elke baksteen en elke kraak in elke muur van hierdie plek geken het. Dit was nou sy hele wêreld. Hier het mense hom wel baie gerespekteer, maar tog was hy ’n gevangene.

Hoe dikwels moes hy tog teruggedink het aan sy lewe in die hoë, rotsagtige heuwels van Hebron, waar hy na sy pa se kudde omgesien het! Hy was omtrent 17 jaar oud toe sy pa, Jakob, hom met ’n boodskap gestuur het wat hom tientalle kilometers van die huis af geneem het. Nou kon hy hom sulke vryheid amper nie voorstel nie. Josef se jaloerse broers het met moorddadige haat teen hom gedraai en hom as ’n slaaf verkoop. Hy is na Egipte geneem, waar hy eers in die huis van die Egiptiese amptenaar Potifar gewerk het. Josef se heer het hom vertrou totdat Potifar se vrou hom valslik van verkragting beskuldig het, en dit is waarom hy in die tronk gegooi is. *Genesis, hoofstuk 37, 39.

Nou was Josef 28 jaar oud en het hy omtrent ’n dekade van slawerny en gevangenskap verduur. Sy lewe het nie juis verloop soos hy verwag het nie, om dit sagkens te stel. Sou hy ooit vrygelaat word? Sou hy sy dierbare bejaarde vader of sy geliefde jonger broer, Benjamin, weer sien? Hoe lank sou hy in hierdie kuil gevange bly?

Het jy al ooit soos Josef gevoel? Soms verloop die lewe glad nie soos ons gehoop het toe ons jonk was nie. Ja, dit kan voel asof pynlike situasies eindeloos voortduur, en dit kan moeilik wees om ’n uitweg te sien of ’n manier te vind om te volhard. Kom ons kyk wat ons uit Josef se geloof kan leer.

‘JEHOVAH WAS VOORTDUREND MET JOSEF’

Josef het geweet dat sy God, Jehovah, nooit van hom vergeet het nie, en dit het hom ongetwyfeld gehelp om te volhard. Selfs hier in ’n tronk in ’n vreemde land het Jehovah maniere gevind om Josef te seën. Ons lees dus: “Jehovah was . . . voortdurend met Josef en het steeds liefderyke goedhartigheid teenoor hom bewys en gegee dat hy guns in die oë van die hoofbeampte van die gevangenis vind” (Genesis 39:21-23). Omdat Josef aangehou het om hard te werk, het hy God ’n rede gegee om hom te seën. Hoe vertroostend moes dit tog vir hom gewees het om te weet dat Jehovah altyd met hom is!

Was Jehovah van plan om Josef vir ewig in daardie tronk te laat bly? Josef kon maar net raai, en hy het ongetwyfeld onophoudelik oor die saak gebid. Soos dit dikwels gebeur, het die antwoord op ’n baie onverwagte manier gekom. Op ’n dag was die tronk in beroering omdat twee nuwe gevangenes ingekom het—amptenare van Farao se persoonlike huishouding. Die een was die hoof van die bakkers, die ander die hoof van die skinkers.—Genesis 40:1-3.

Die hoof van die lyfwag het daardie twee mans, wat vroeër vernaam was, aan Josef se sorg toevertrou. * Een aand het elkeen van hulle ’n treffende en raaiselagtige droom gehad. Toe Josef hulle in die oggend gesien het, was dit vir hom duidelik dat iets fout was. Daarom het hy gevra: “Waarom is julle gesig vandag somber?” (Genesis 40:3-7). Dalk het sy vriendelike benadering hulle verseker dat hulle hom van hulle drome kon vertel. Josef het nie geweet dat hierdie gesprek tot ’n keerpunt in sy lewe sou lei nie. Maar as Josef nie besluit het om liefdevolle besorgdheid oor ander te toon nie, sou hierdie gesprek dalk nooit plaasgevind het nie. Sy besluit kan ons aanspoor om ons af te vra: ‘Lewer ek bewys van my geloof in God deur belangstelling in my medemens te toon?’

Josef het sy medegevangenes op liefdevolle en waardige wyse behandel

Die twee mans het verduidelik dat hulle verontrus was oor hulle raaiselagtige drome en omdat daar niemand was wat dit vir hulle kon uitlê nie. Drome was vir die Egiptenaars baie belangrik, en hulle het baie staatgemaak op die mans wat beweer het dat hulle dit kon uitlê. Die twee mans het nie geweet dat hulle drome van Josef se God, Jehovah, gekom het nie. Maar Josef het dit geweet. Hy het hulle gerusgestel: “Is uitleggings nie ’n saak van God nie? Vertel [die droom] asseblief vir my” (Genesis 40:8). Josef se woorde is nog steeds vir alle opregte studente van die Bybel betekenisvol. As alle godsdienstige mense maar net dieselfde nederigheid wou toon! Ons moet bereid wees om hoogmoedige menslike denke opsy te skuif en op God te vertrou terwyl ons die korrekte uitlegging van sy woord soek!—1 Tessalonisense 2:13; Jakobus 4:6.

Die skinker het eerste gepraat. Hy het vir Josef vertel dat hy gedroom het van ’n wingerdstok met drie lote waarop daar druiwetrosse gegroei het. Die druiwe het ryp geword, en die skinker het die sap in Farao se beker uitgedruk. Danksy Jehovah het Josef onmiddellik geweet wat die droom beteken. Hy het vir die skinker gesê dat die drie lote drie dae beteken; binne daardie tydperk sou Farao die skinker in sy amp herstel. Josef kon moontlik die verligting op die skinker se gesig sien en het verder gesê: “Jy moet asseblief liefderyke goedhartigheid aan my bewys en van my melding maak by Farao.” Josef het verduidelik dat hy uit sy land ontvoer is en dat hy sonder ’n grondige rede in die tronk gegooi is.—Genesis 40:9-15.

Die bakker is aangespoor deur die goeie nuus wat die skinker ontvang het en het Josef gevra wat sy droom beteken. Hy het drie mandjies met brood gesien, en voëls wat dit uit die mandjie bo-op sy kop geëet het. Die uitlegging van hierdie droom is ook aan Josef geopenbaar. Maar dit was nie goeie nuus nie. Josef het gesê: “Dít is die uitlegging daarvan: Die drie mandjies is drie dae. Binne drie dae sal Farao jou kop van jou af ophef en jou beslis aan ’n paal hang; en die voëls sal beslis jou vlees van jou afeet” (Genesis 40:16-19). Soos al God se getroue knegte, het Josef moedig God se boodskappe bekend gemaak, die goeie nuus sowel as die nuus van naderende oordeel.—Jesaja 61:2.

Josef se woorde is drie dae later bewaarheid. Farao het ’n verjaarsdagpartytjie gehou—iets wat God se volk in Bybeltye nie gedoen het nie—en oordeel oor sy twee knegte uitgespreek. Die bakker is tereggestel, net soos Josef voorspel het, terwyl die skinker in sy amp herstel is. Maar ongelukkig het daardie agterlosige man heeltemal van Josef vergeet.—Genesis 40:20-23.

“EK HOEF NIE IN AANMERKING GENEEM TE WORD NIE!”

’n Volle twee jaar het verbygegaan (Genesis 41:1). Stel jou voor hoe frustrerend dit vir Josef moes gewees het! Miskien het hy hoë verwagtinge gehad nadat Jehovah hom gehelp het om die raaiselagtige drome van die skinker en die bakker te verstaan. Josef het dalk elke dag opgestaan met die hoop dat dít die dag sou wees waarop hy vrygelaat sou word—maar die vervelige roetine van die lewe in die tronk het onveranderd voortgesleep. Daardie twee jaar was heel moontlik vir Josef die moeilikste om te verduur. Nogtans het hy nooit sy vertroue in sy God, Jehovah, verloor nie. Hy het nie wanhopig geword nie, maar was eerder vasbeslote om te volhard, en daardie beproewinge het van hom ’n sterker mens gemaak.—Jakobus 1:4.

In hierdie moeilike tye moet ons almal leer om te volhard. Om die lewe se voortdurende beproewinge die hoof te bied, het ons die soort vasbeslotenheid, geduld en innerlike vrede nodig wat net God ons kan gee. Soos hy met Josef gedoen het, kan hy ons help om nie hoop te verloor nie.—Romeine 12:12; 15:13.

Al het die skinker van Josef vergeet, het Jehovah nooit van hom vergeet nie. Een aand het hy Farao twee onvergeetlike drome laat droom. In die eerste het die koning sewe mooi, vet koeie gesien wat uit die Nylrivier opgekom het, en hulle is gevolg deur sewe lelike, maer koeie. Die maer koeie het die vettes opgeëet. Later het Farao gedroom van ’n stingel waaruit sewe goeie graanare gespruit het. Maar toe het nog sewe graanare, wat deur die wind verskroei en sieklik was, opgekom en die goeies ingesluk. Toe Farao die volgende oggend wakker geword het, was hy diep verontrus oor die drome en het hy al sy wyse manne en towerpriesters laat roep om dit uit te lê. Niemand kon dit regkry nie (Genesis 41:1-8). Hetsy dit beteken dat die drome hulle dronkgeslaan het of dat hulle met verskeie teenstrydige idees vorendag gekom het, weet ons nie. Hoe dit ook al sy, Farao was teleurgesteld—maar hy was desperaat om ’n antwoord op hierdie raaisel te vind.

Uiteindelik het die skinker Josef onthou! Sy gewete het hom gepynig, en hy het vir Farao vertel van die merkwaardige jong man in die tronk wat sy droom en dié van die bakker twee jaar vroeër uitgelê het. Farao het Josef onmiddellik uit die tronk laat roep.—Genesis 41:9-13.

Stel jou voor hoe Josef gevoel het toe Farao se boodskappers vir hom gesê het dat die koning hom roep. Hy het vinnig ander klere aangetrek en geskeer. Hy het waarskynlik al die hare op sy kop afgeskeer, want dit was die gebruik in Egipte. En hy het ongetwyfeld vurig gebid dat Jehovah hom moet seën! Kort voor lank het hy hom in die weelderige hof van die koninklike paleis bevind waar hy voor die koning staan. Ons lees: “Toe het Farao vir Josef gesê: ‘Ek het ’n droom gedroom, maar daar is niemand wat dit kan uitlê nie. En ek het gehoor dat daar van jou gesê word dat jy ’n droom net hoef te hoor om dit uit te lê.’” Weer eens het Josef se antwoord getuig van sy nederigheid en geloof in God. Hy het gesê: “Ek hoef nie in aanmerking geneem te word nie! God sal welsyn vir Farao aankondig.”—Genesis 41:14-16.

Josef het nederig vir Farao gesê: “Ek hoef nie in aanmerking geneem te word nie!”

Jehovah is lief vir nederige, getroue mense, en daarom is dit geen wonder dat hy Josef die antwoord gegee het wat die wyse manne en die priesters ontwyk het nie. Josef het verduidelik dat Farao se twee drome dieselfde betekenis het. Deur die boodskap te herhaal, het Jehovah aangedui dat die saak “stewig bevestig” is—dat dit beslis vervul sou word. Die vet koeie en die gesonde graanare het sewe jaar van oorvloed in Egipte voorgestel, terwyl die maer koeie en die sieklike graanare sewe jaar van hongersnood voorgestel het wat op die sewe jaar van oorvloed sou volg. Daardie hongersnood sou die land se oorvloed verteer.—Genesis 41:25-32.

Farao het geweet dat Josef die drome reg uitgelê het. Maar wat kon gedoen word? Josef het met ’n plan vorendag gekom. Farao moes “’n verstandige en wyse man” vind wat sou verseker dat die land se oortollige graan gedurende die sewe jaar van oorvloed in voorraadskure bymekaargemaak word. Dan moes hy daardie oorskot gedurende die daaropvolgende hongersnood aan die behoeftiges uitdeel (Genesis 41:33-36). Weens Josef se ondervinding en vermoëns het hy beslis vir hierdie amp gekwalifiseer, maar hy het homself nie daarvoor aanbeveel nie. Hy was te nederig om dit selfs te oorweeg om so verwaand op te tree, en omdat hy geloof gehad het, was dit nie nodig nie. As ons werklik in Jehovah geloof stel, hoef ons nie ambisieus te wees of onsself aan te beveel nie. Ons kan innerlike vrede hê en sake in sy bekwame hande laat!

“KAN ’N ANDER MAN GEVIND WORD SOOS HIERDIE EEN?”

Farao en al sy knegte het die wysheid van Josef se plan ingesien. Die koning het ook erken dat Josef se God die ware krag agter Josef se wyse woorde was. Hy het vir sy knegte in die koninklike hof gesê: “Kan ’n ander man gevind word soos hierdie een in wie die gees van God is?” Vir Josef het hy gesê: “Aangesien God dit alles aan jou bekend gemaak het, is daar niemand so verstandig en wys soos jy nie. Jy sal persoonlik oor my huis wees, en my hele volk sal jou onvoorwaardelik gehoorsaam. Net wat die troon betref, sal ek groter wees as jy.”—Genesis 41:38-41.

Farao het by sy woord gebly. Hy het Josef klere van fyn linne laat aantrek en hom ’n goue ketting, ’n seëlring en ’n koninklike strydwa gegee, sowel as volle gesag om deur die land te reis om sy plan in werking te stel (Genesis 41:42-44). Die een oomblik was Josef nog in die tronk, en die volgende oomblik was hy in die paleis. Toe hy daardie dag wakker geword het, was hy maar net ’n gevangene, maar toe hy gaan slaap het, was hy die heerser tweede onder Farao. Hoe duidelik is dit tog dat Josef se geloof in Jehovah God geregverdig was! Jehovah het al die onregte gesien wat sy kneg deur die jare heen verduur het. Hy het die situasie op net die regte tyd en net die regte manier reggestel. Jehovah wou nie net die onregte regstel wat Josef aangedoen is nie, maar ook die toekomstige nasie Israel behoue laat bly. Dit sal in ’n toekomstige artikel in hierdie reeks bespreek word.

As jy in ’n moeilike situasie is, byvoorbeeld, as jy onregverdige behandeling moet verduur wat voel asof dit jare lank voortsleep, moet jy nie hoop verloor nie. Dink aan Josef. Hy het volhard en het nooit sy goedhartigheid, nederigheid en geloof verloor nie, en daarom het hy Jehovah alle rede gegee om hom op die ou end te beloon.

^ par. 4 Sien die “Volg hulle geloof na”-artikels in Die Wagtoring van 1 Augustus en 1 November 2014.

^ par. 10 Die eertydse Egiptenaars het meer as 90 soorte brode en koeke gehad. Die hoof van Farao se bakkers was dus ’n belangrike man. En die hoof van die skinkers het toesig gehou oor knegte wat seker gemaak het dat Farao se wyn, en dalk bier, van ’n hoë gehalte was en dat die koning beskerm was teen enige pogings om hom te vergiftig—’n werklike gevaar, aangesien konkelary in die koningshof en sluipmoord iets algemeens was. Die skinker het dus dikwels ’n vertroude raadgewer van die koning geword.