Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

‘Ek het ernstig begin nadink oor waarheen my lewe op pad is’

‘Ek het ernstig begin nadink oor waarheen my lewe op pad is’
  • GEBORE: 1941

  • GEBOORTELAND: AUSTRALIË

  • GESKIEDENIS: HET GEROOK EN ALKOHOL MISBRUIK

MY VERLEDE:

Ek het grootgeword in Warialda, ’n plattelandse dorpie in Nieu-Suid-Wallis. Warialda is ’n boeregemeenskap waar daar met skape, beeste, graan en klein gewasse geboer word. Die dorpie is skoon, en daar is min misdaad.

As die oudste van tien kinders het ek op 13-jarige ouderdom begin werk om te help om ons gesin te onderhou. Aangesien ek min skoolopleiding gehad het, het ek op plase gewerk. Teen die tyd dat ek 15 was, het ek as ’n veekneg gewerk en perde getem.

Die werk op die plase het voor- en nadele gehad. Aan die een kant het ek die werk, asook die omgewing, baie geniet. Ek het gewoonlik saans by die kampvuur gesit en na die maan en sterrehemel gekyk terwyl die aandluggie die reuke van die omliggende bosveld na my toe aangewaai het. Ek onthou dat ek gedink het dat Iemand al hierdie wonderlike dinge moes geskep het. Aan die ander kant is ek op die plase aan skadelike invloede blootgestel. Ek het dikwels vloektaal gehoor, en dit was maklik om sigarette in die hande te kry. Ek het kort voor lank begin rook en vloek.

Toe ek 18 was, het ek na Sydney getrek. Ek het by die leër probeer aansluit, maar is afgekeur omdat ek min skoolopleiding gehad het. Ek het werk gekry en ’n jaar lank in Sydney gebly. Gedurende hierdie tyd het ek vir die eerste keer met Jehovah se Getuies in aanraking gekom. Ek het ’n uitnodiging aanvaar om een van hulle vergaderinge by te woon, en ek het onmiddellik besef dat hulle leringe die waarheid is.

Maar kort daarna het ek besluit om na die bosveld terug te keer. Ek het op die ou end in Goondiwindi, Queensland, gaan bly. Ek het werk gekry, getrou en ongelukkig ook begin drink.

Ek en my vrou het twee kinders gehad. Nadat my seuns gebore is, het ek ernstig begin nadink oor waarheen my lewe op pad is. Ek het onthou wat ek by die vergadering van die Getuies in Sydney gehoor het en het besluit om iets daaromtrent te doen.

Ek het ’n ou Wagtoring gevind, waarin die adres van die Australiese takkantoor van Jehovah se Getuies was. Ek het ’n brief gestuur en hulp gevra. ’n Goedhartige en liefdevolle Getuie is toe na my toe gestuur. Kort voor lank het hy die Bybel met my gestudeer.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

Terwyl ek die Bybel gestudeer het, het ek begin besef dat ek groot veranderinge in my lewe moet aanbring. ’n Bybelvers wat ’n groot indruk op my gemaak het, is 2 Korintiërs 7:1. Hierdie vers spoor ons aan om “ons van elke verontreiniging van die vlees [te] reinig”.

Ek het besluit om op te hou rook en nie meer alkohol te misbruik nie. Dit was nie maklik om hierdie veranderinge aan te bring nie, aangesien hierdie gewoontes al lank ’n deel van my lewe was. Maar ek was vasbeslote om te lewe op ’n manier wat God behaag. Wat my die meeste gehelp het, was om die beginsel in Romeine 12:2 toe te pas: “Moenie langer na hierdie stelsel van dinge gevorm word nie, maar word verander deur julle verstand te hervorm.” Ek het besef dat ek my gewoontes net sal kan verander as ek my denke verander en my gewoontes beskou soos God dit beskou—as skadelik. Met sy hulp het ek dit reggekry om op te hou rook en nie meer alkohol te misbruik nie.

“Ek het besef dat ek my gewoontes net sal kan verander as ek my denke verander”

Maar my moeilikste stryd was om op te hou vloek. Ek het geweet van die Bybelraad in Efesiërs 4:29: “Laat ’n slegte woord nie uit julle mond uitgaan nie.” Nogtans kon ek nie dadelik ophou vloek nie. Die woorde in Jesaja 40:26 het my gehelp. Hierdie vers sê omtrent die sterrehemel: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk. Wie het hierdie dinge geskep? Die Een wat hulle leër volgens getal uitlei, hulle almal selfs by die naam noem. Weens die oorvloed van dinamiese energie, en omdat hy sterk in krag is, ontbreek nie een van hulle nie.” Ek het gedink: As God die krag gehad het om die ontsaglike heelal te skep—waarna ek so graag kyk—kan hy my sekerlik die krag gee om veranderinge aan te bring om hom te behaag. Met baie gebed en inspanning het ek geleidelik my spraak onder beheer gebring.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

As ’n veekneg het ek nie baie geleenthede gehad om met mense te gesels nie, want ek het met min mense in aanraking gekom op die plase waar ek gewerk het. Maar deur middel van die opleiding wat by die vergaderinge van Jehovah se Getuies voorsien word, het ek geleer hoe om my uit te druk. Hierdie opleiding het dit onder andere vir my moontlik gemaak om met ander oor die goeie nuus van God se Koninkryk te praat.—Matteus 6:9, 10; 24:14.

Die afgelope paar jaar dien ek as ’n ouer man in die gemeente. Dit is vir my ’n voorreg om alles in my vermoë te doen om my medegelowiges te help. Maar die grootste seën wat ek geniet, is om met my getroue, liefdevolle vrou en ons pragtige kinders in Jehovah se diens verenig te wees.

Ek dank Jehovah omdat hy my—iemand met min skoolopleiding—toegelaat het om deur hom geleer te word (Jesaja 54:13). Ek stem heelhartig saam met die woorde in Spreuke 10:22: “Die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg daar geen pyn by nie.” Ek en my gesin sien daarna uit om meer omtrent Jehovah te leer en hom vir ewig te dien.