Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DIE BYBEL VERANDER LEWENS

“Ek voel nie meer dat ek die wêreld moet verander nie”

“Ek voel nie meer dat ek die wêreld moet verander nie”
  • GEBORE: 1966

  • GEBOORTELAND: FINLAND

  • GESKIEDENIS: KAMPVEGTER VIR MAATSKAPLIKE VERANDERING

MY VERLEDE:

Van jongs af was ek lief vir die natuur. Ons gesin het dikwels op uitstappies gegaan na die betowerende woude en pragtige mere om ons tuisdorp Jyväskylä, in Sentraal-Finland. Ek is ook ’n diereliefhebber. Toe ek ’n kind was, wou ek elke kat en hond wat ek gesien het, ’n drukkie gee! Terwyl ek grootgeword het, het dit my ontstel om te sien hoe mense dikwels diere mishandel. Later het ek by ’n diereregteorganisasie aangesluit, waar ek mense met dieselfde beskouing as ek ontmoet het.

Ons het ons vir diereregte beywer. Ons het inligting versprei en protesoptogte en betogings gereël teen pelshandelaars en laboratoriums wat toetse op diere doen. Ons het selfs ’n nuwe dierebeskermingsorganisasie gestig. Omdat ons drastiese stappe gedoen het om ons saak te bevorder, was ons dikwels in die moeilikheid by die owerheid. Ek is ’n hele paar keer in hegtenis geneem en voor die hof gebring.

Maar ek was nie net besorg oor diere nie; ander probleme oral in die wêreld het my ook bekommer. Ek het uiteindelik betrokke geraak by ’n aantal organisasies, waaronder Amnestie Internasionaal en Greenpeace. Ek het al my energie daaraan bestee om hulle bedrywighede te ondersteun. Ek was ’n kampvegter vir die armes, die verhongerdes en ander minderbevoorregtes.

Maar ek het stadigaan besef dat ek nie die wêreld kan verander nie. Hoewel hierdie organisasies ’n paar klein probleme kon regstel, het dit gelyk of die groot probleme net erger word. Dit was asof bose magte die hele wêreld verswelg het en almal onverskillig is oor alles. Ek het magteloos gevoel.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

My hulpeloosheid het my neerslagtig laat voel, en ek het oor God en die Bybel begin nadink. Ek het voorheen die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer. Hoewel die Getuies se goedhartigheid  en die persoonlike belangstelling wat hulle in my getoon het, ’n indruk op my gemaak het, was ek destyds nie gereed om my lewe te verander nie. Maar hierdie keer was dit anders.

Ek het my Bybel uitgehaal en dit begin lees. Dit was werklik balsem vir my wonde. Ek het gesien dat baie Bybelgedeeltes ons leer om diere goed te behandel. Spreuke 12:10 sê byvoorbeeld: “Goeie mense sorg vir hulle diere” (Good News Translation). Ek het ook besef dat God nie verantwoordelik is vir die wêreld se probleme nie. Ons probleme het eerder erger geword omdat die meeste mense nie sy leiding volg nie. Ek was baie beïndruk toe ek gelees het van Jehovah se liefde en lankmoedigheid.—Psalm 103:8-14.

Om en by dié tyd het ek ’n koepon vir die boek Wat leer die Bybel werklik? ingevul en weggestuur. Kort daarna het ’n Getuie-egpaar my kom besoek en vir my ’n Bybelstudie aangebied, en ek het dit aanvaar. Ek het ook Christelike vergaderinge by die Koninkryksaal begin bywoon. Gevolglik het Bybelwaarheid in my hart begin wortelskiet.

Die Bybel het my gehelp om baie veranderinge aan te bring. Ek het rook opgegee en nie meer te veel gedrink nie. Ek het my voorkoms verbeter en opgehou om vuil taal te gebruik. En ek het my gesindheid teenoor sekulêre gesag verander (Romeine 13:1). Ek het ook my uiters onsedelike lewenswyse die rug toegekeer.

Die moeilikste verandering wat ek moes aanbring, was om die regte beskouing van burgerlike organisasies te verkry. Dit het nie oornag gebeur nie. Aan die begin het dit vir my soos verraad gevoel om hierdie organisasies te verlaat. Maar ek het begin besef dat God se Koninkryk die enigste ware hoop vir ons wêreld is. Ek het besluit om al my energie te gebruik om hierdie Koninkryk te ondersteun en ander te help om daarvan te leer.—Matteus 6:33.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Toe ek ’n kampvegter vir maatskaplike verandering was, het ek mense in slegs twee groepe verdeel—óf goed óf sleg—en ek was bereid om op te tree teen dié wat ek gedink het sleg is. Maar die Bybel het my gehelp om ander mense nie meer te haat nie. Ek probeer eerder Christelike liefde vir alle mense aankweek (Matteus 5:44). Een van die maniere waarop ek hierdie liefde toon, is deur die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. Dit maak my gelukkig om te sien hoe hierdie goeie werk vrede en geluk bevorder en mense ware hoop gee.

Ek het nou gemoedsrus omdat ek sake in Jehovah se hande laat. Ek is daarvan oortuig dat hy, as die Skepper, nie sal toelaat dat diere en mense vir ewig mishandel word of dat ons pragtige aarde vernietig word nie. Inteendeel, hy sal al die skade wat aangerig is, binnekort deur middel van sy Koninkryk ongedaan maak (Jesaja 11:1-9). Ek put groot vreugde daaruit om hierdie waarhede te ken en om ander te help om geloof daarin te stel. Ek voel nie meer dat ek die wêreld moet verander nie.