Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOLG HULLE GELOOF NA | SARA

God het haar “Prinses” genoem

God het haar “Prinses” genoem

SARA rus ’n bietjie nadat sy hard gewerk het en kyk na die horison. Die knegte oor wie sy toesig hou, is gelukkig en werk hard saam met Sara omdat sy ook haar deel doen. Stel jou voor hoe sy ingedagte haar seer hande staan en vryf. Dalk was daar ’n skeur in hulle tent en het sy dit met groot sorg netjies met ’n naald en gare reggemaak. Die growwe bokhaarmateriaal van die tent is gebleik van jare se son en reën. Dit herinner Sara aan hoe lank hulle al van die een plek na die ander rondtrek en in tente woon. Die middag het vinnig verbygevlieg, en die son sit nou al laag. Daardie oggend het sy gekyk hoe Abraham * vertrek, en sy verwag dat hy nou enige oomblik gaan terugkom. ’n Glimlag verhelder haar pragtige gesig toe sy hom oor die randjie sien aankom.

Tien jaar is al verby sedert Abraham sy familie en ’n groot groep mense deur die Eufraatrivier na Kanaän gebring het. Sara het haar man op hierdie lang reis die onbekende in gewillig ondersteun, want sy het geweet dat hy ’n belangrike rol sou speel in Jehovah se voorneme om ’n spesiale nageslag en ’n nasie voort te bring. Maar watter rol sou Sara hierin speel? Sy was al 75 jaar oud en kon nooit kinders hê nie. Sy het seker gewonder: ‘Hoe kan Jehovah se belofte waar word terwyl ek Abraham se vrou is?’ ’n Mens kan verstaan dat sy bekommerd, selfs ongeduldig, was.

Partykeer wonder ons dalk ook wanneer God se beloftes waar gaan word. Dit is nie altyd vir ons maklik om geduldig te wees nie, veral nie wanneer ons op iets hoop en wag vir dit om te gebeur nie. Wat kan ons uit die geloof van hierdie merkwaardige vrou leer?

“JEHOVAH HET MY DAARVAN UITGESLUIT”

Die familie het onlangs van Egipte af teruggekeer (Genesis 13:1-4). Hulle kamp was op die oomblik op die hoogland oos van Bet-El, of Lus, soos die Kanaäniete dit genoem het. Van hier af kon Sara ver oor die Beloofde Land uitkyk. Sy kon Kanaänitiese dorpies sien, en paaie waarmee reisigers na ver lande kon reis. Maar hier was niks wat naastenby kon vergelyk met Sara se tuisdorp nie. Sy het grootgeword in Ur, ’n stad in Mesopotamië 1 900 kilometer hiervandaan. Daar het sy baie van haar familie agtergelaat, asook die geriewe van ’n besige stad met sy markte en basaars. Sy het ook ’n gerieflike huis met ’n dak, mure en moontlik lopende water agtergelaat. Maar Sara het beslis nie hartseer na die ooste sit en staar en terugverlang na die geriewe van die plek waar sy grootgeword het nie.

Let op wat die apostel Paulus ongeveer 2 000 jaar later geïnspireer is om te skryf. Hy het na Sara en Abraham se geloof verwys en gesê: “As hulle werklik bly dink het aan die plek waaruit hulle weggetrek het, [sou hulle] die geleentheid gehad het om terug te keer” (Hebreërs 11:8, 11, 15). Sara en Abraham het nie terugverlang na wat hulle agtergelaat het nie. As hulle hulleself toegelaat het om daaraan te dink, sou hulle waarskynlik omgedraai het en teruggegaan het huis toe. Maar in Ur sou hulle nie die ongelooflike voorreg gehad het wat Jehovah hulle gebied het nie. Niemand sou vandag eers geweet het wie hulle was nie en hulle sou nooit ’n aanmoedigende voorbeeld van geloof geword het en miljoene mense se harte geraak het nie.

Sara het nie teruggekyk nie, sy het eerder aan die toekoms gedink. Daarom het sy aangehou om haar man te ondersteun terwyl hy deur die land gereis het. Sy het gehelp om die tente op te pak, met die kuddes te trek en weer kamp op te slaan. Sy het ook ander uitdagings en veranderinge deurgemaak. Jehovah het sy belofte aan Abraham herhaal, maar Sara is weer nie genoem nie!—Genesis 13:14-17; 15:5-7.

Uiteindelik het Sara besluit dat dit tyd is om Abraham van haar plan te vertel. Stel jou voor hoe sy met haar gevoelens worstel terwyl sy vir hom sê: “Kyk tog! Jehovah het my daarvan uitgesluit om kinders te baar.” Toe het sy haar man gevra om kinders by haar diensmeisie, Hagar, te hê. Kan jy jou voorstel hoe dit Sara ontstel het toe sy haar man vra om dit te doen? Dit klink dalk vir ons vreemd, maar in daardie tyd was dit algemeen vir ’n man om meer as een vrou, of ’n byvrou, te neem sodat hy ’n erfgenaam kon hê. * Het Sara dalk gedink dat dit ’n manier is waarop God se voorneme om ’n nasie deur Abraham voort te bring, vervul kon word? Wat die geval ook al was, sy was bereid om ’n groot opoffering te maak. Hoe het Abraham gereageer? Ons lees dat hy “na die stem van [Sara] geluister” het.—Genesis 16:1-3.

Het Jehovah Sara beweeg om hierdie voorstel te maak? Nee. Haar voorstel wys eerder dat sy dinge uit ’n menslike oogpunt gesien het. Sy het geglo dat God haar probleme veroorsaak en het nie gedink dat hy ’n ander oplossing sou hê nie. Sara se eie oplossing sou vir haar baie pyn en probleme veroorsaak. Maar die feit dat sy so ’n voorstel gemaak het, wys dat sy glad nie selfsugtig was nie. Ons lewe in ’n wêreld waar die meeste mense gewoonlik hulle eie begeertes eerste stel, en daarom is Sara se onselfsugtige gesindheid iets buitengewoons. As ons bereid is om God se voorneme eerste in ons lewe te stel en nie ons eie selfsugtige belange soek nie, sal ons Sara se geloof navolg.

“JY HÉT GELAG”

Nie lank daarna nie het Hagar swanger geraak by Abraham. Hagar het dalk gedink dat sy belangriker as Sara is omdat sy swanger is, en daarom het sy op Sara begin neersien. Wat ’n klap in die gesig vir die kinderlose Sara! Met Abraham se toestemming en God se ondersteuning het Sara vir Hagar toe op haar plek gesit. Hagar het ’n seun met die naam Ismael gehad, en daarna het ’n hele paar jaar verbygegaan (Genesis 16:4-9, 16). Wanneer ons weer van Sara en Abraham lees, is sy 89 en hy 99. Dit is op hierdie stadium van hulle lewe dat hulle ’n ongelooflike boodskap van Jehovah ontvang!

Jehovah het weer vir sy vriend Abraham belowe dat Hy sy nageslag sal vermeerder. God het ook sy naam verander. Tot nou toe het hy as Abram bekend gestaan. Maar Jehovah het sy naam na Abraham verander, wat “Vader van ’n menigte” beteken. En vir die eerste keer het Jehovah nou gewys waar Sara in die prentjie pas. Hy het haar naam verander van Sarai, wat dalk “Twisgierig” beteken, na Sara, die naam wat ons almal so goed ken. Wat beteken die naam Sara? “Prinses!” Jehovah het verduidelik waarom hy hierdie naam vir haar gekies het: “Ek sal haar seën en jou ook ’n seun uit haar gee; en ek sal haar seën, en sy sal nasies word; konings van volke sal uit haar voortkom.”—Genesis 17:5, 15, 16.

Jehovah het ’n verbond met Abraham gesluit om ’n nageslag voort te bring waardeur alle nasies geseën sou word. Hierdie verbond sou deur Sara se seun vervul word! God het besluit om die seun Isak te noem, wat “Lag” beteken. Toe Abraham die eerste keer gehoor het van Jehovah se voorneme om Sara te seën met ’n kind van haar eie, het hy “op sy gesig geval en begin lag” (Genesis 17:17). Hy was verbaas en in die wolke oor hierdie nuus (Romeine 4:19, 20). En wat van Sara?

Nie lank daarna nie het drie vreemdelinge by Abraham se tent aangekom. Al was dit die warmste deel van die dag, het hierdie bejaarde egpaar dadelik hulle besoekers verwelkom. Abraham het vir Sara gesê: “Maak gou! Kry drie sea fynmeel, knie die deeg en maak ronde koeke.” Om gasvry te wees in daardie dae, was harde werk. Abraham het nie van sy vrou verwag om al die werk te doen nie. Hy het aan die werk gespring en ’n jong bul geslag en nog kos en drinkgoed voorberei (Genesis 18:1-8). Daardie “mans” was toe al die tyd Jehovah se engele! Die apostel Paulus het waarskynlik aan hierdie geval gedink toe hy geskryf het: “Moenie die gasvryheid vergeet nie, want daardeur het party, sonder dat hulle dit geweet het, engele onthaal” (Hebreërs 13:2). Kan jy Abraham en Sara se uitstekende voorbeeld van gasvryheid navolg?

Sara het daarvan gehou om gasvry te wees

Een van die engele het God se belofte aan Abraham herhaal. Sara was in haar tent en het gehoor hoe die engel sê dat sy aan ’n seun geboorte sou gee. Die gedagte dat sy op haar ouderdom ’n baba kon hê, het vir haar so onmoontlik geklink dat sy nie kon help om te lag nie. Sy het gesê: “Sal ek, noudat ek afgeleef is, werklik genot hê, terwyl my heer bowendien oud is?” Die engel het Sara dadelik reggehelp en gevra: “Is enigiets te buitengewoon vir Jehovah?” Sara was bang en het soos die meeste van ons verdedigend gereageer. Sy het vinnig gesê: “Ek het nie gelag nie!” Die engel het geantwoord: “Nee! maar jy hét gelag.”—Genesis 18:9-15.

Het Sara gelag omdat sy nie geloof gehad het nie? Glad nie. Die Bybel sê: “Deur geloof het ook Sara self krag ontvang om saad te ontvang, selfs toe sy verby die ouderdomsgrens was, aangesien sy hom wat beloof het, getrou geag het” (Hebreërs 11:11). Sara het Jehovah geken. Sy het geweet dat hy enige belofte wat hy maak, kon nakom. Ons almal het sulke geloof nodig. Dit sal goed wees as ons die God van die Bybel beter leer ken. As ons dit doen, sal ons sien dat Sara goeie rede gehad het om sulke geloof te hê. Jehovah is werklik betroubaar en doen alles wat hy belowe, maar partykeer doen hy dit op maniere wat ons so verbaas dat ons nie kan help om te lag nie!

“LUISTER NA HAAR”

Jehovah het Sara vir haar kosbare geloof beloon

Sara was 90 jaar oud toe sy uiteindelik die voorreg geniet het waarna sy haar hele lewe lank gesmag het. Sy en haar geliefde man, wat al ’n honderd jaar oud was, het ’n babaseuntjie gehad! Abraham het die baba Isak, of “Lag”, genoem, soos Jehovah gesê het. Ons kan ons Sara se moeë maar gelukkige glimlag voorstel terwyl sy sê: “God het vir my ’n gelag berei: almal wat daarvan hoor, sal vir my lag” (Genesis 21:6). Hierdie wonderdadige geskenk van Jehovah het haar beslis vir die res van haar lewe groot geluk gebring. Maar sy het nou ook ’n groot verantwoordelikheid gehad.

Toe Isak vyf jaar oud was, het Sara opgehou om hom te borsvoed. Die familie het toe ’n groot fees gehou om dit te vier. Maar daar was iets fout. Ons lees dat Sara iets “opgemerk” het wat haar gepla het. Ismael, Hagar se 19-jarige seun, het Isak die heeltyd geterg. Dit was nie net ’n onskuldige geterg nie. Die apostel Paulus is later geïnspireer om dit wat Ismael gedoen het, as vervolging te beskryf. Sara het besef dat haar seun geboelie word en dat dit ’n ernstige gevaar vir hom inhou. Sy het ook geweet dat Isak ’n belangrike rol in Jehovah se voorneme sou speel. Daarom het sy haar moed bymekaargeskraap en reguit vir Abraham gevra om Hagar en Ismael weg te stuur.—Genesis 21:8-10; Galasiërs 4:22, 23, 29.

Hoe het Abraham gereageer? Die Bybel sê: “Maar die saak aangaande sy seun het Abraham baie mishaag.” Hy was lief vir Ismael en sy gevoelens vir sy seun het veroorsaak dat hy nie kon sien hoe ernstig die saak is nie. Maar Jehovah het presies gesien wat aan die gang is, en daarom het hy ingegryp. Ons lees verder: “Toe het God vir Abraham gesê: ‘Moenie dat enigiets wat Sara vir jou oor die seun en oor jou slavin bly sê, jou mishaag nie. Luister na haar stem, want wat jou saad genoem sal word, sal deur middel van Isak wees.’” Jehovah het vir Abraham belowe dat Hy vir Hagar en die seun sou sorg. Daarom het die getroue Abraham ingestem.—Genesis 21:11-14.   

Sara was ’n goeie vrou vir Abraham, ’n ware komplement. Wanneer sy gepraat het, het sy nie vir haar man net gesê wat hy wil hoor nie. Toe sy besef dat daar ’n probleem is, iets wat haar gesin en hulle toekoms sou raak, het sy reguit met haar man gepraat. Die feit dat sy dit gedoen het, beteken nie dat sy disrespekvol teenoor hom was nie. Die apostel Petrus, wat self getroud was, het later na haar verwys as ’n uitstekende voorbeeld van ’n vrou wat diep respek vir haar man gehad het (1 Korintiërs 9:5; 1 Petrus 3:5, 6). Om die waarheid te sê, dit sou disrespekvol teenoor Abraham gewees het as Sara stilgebly het oor hierdie saak. Dit kon ook ernstige gevolge vir hom en die hele gesin gehad het. Sara het liefdevol gesê wat nodig was.

Baie vrouens probeer om Sara se voorbeeld te volg. Hulle leer by haar hoe om eerlik en respekvol met hulle mans te praat. Party vrouens wens soms dat Jehovah in hulle lewe sal ingryp soos hy met Sara gedoen het. Al gebeur dit nie, leer hulle nog steeds uit Sara se voorbeeld hoe om geloof, liefde en geduld te hê.

Jehovah het Sara “Prinses” genoem, maar sy het nie verwag om soos ’n prinses behandel te word nie

Al het Jehovah hierdie geliefde vrou “Prinses” genoem, het sy nie verwag om soos ’n prinses behandel te word nie. Daarom is dit heeltemal te verstane dat Abraham “ingekom [het] om oor Sara te weeklaag en te huil” toe sy op die ouderdom van 127 jaar gesterf het (Genesis 23:1, 2). * Hy het sy geliefde “Prinses” vreeslik gemis. Jehovah God verlang definitief ook na hierdie getroue vrou, en hy is van plan om haar weer te laat lewe wanneer die aarde ’n paradys sal wees. ’n Ewige en wonderlike toekoms wag op Sara en almal wat haar geloof navolg.—Johannes 5:28, 29.

^ par. 3 Hulle name was eers Abram en Sarai, maar God het later hulle name verander. Om dinge maklik te maak, sal ons die name gebruik wat die meeste mense goed ken.

^ par. 10 Jehovah het mans ’n tyd lank toegelaat om meer as een vrou asook byvroue te hê. Maar later het hy Jesus Christus die gesag gegee om die oorspronklike standaard vir die huwelik wat in Eden vasgestel is, te herstel. Die standaard is dat ’n man net een vrou mag hê.—Genesis 2:24; Matteus 19:3-9.

^ par. 25 Die enigste keer dat die Bybel vir ons sê hoe oud ’n vrou was toe sy gesterf het, is in die geval van Sara.