Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Was Jesus se illustrasie oor die “hondjies” as ’n belediging bedoel?

’n Griekse of Romeinse beeldjie van ’n kind met ’n hondjie (eerste eeu VHJ tot die tweede eeu HJ)

Eenkeer, toe Jesus buite die grense van Israel in die Romeinse provinsie Sirië was, het ’n Griekse vrou na hom toe gekom en vir hulp gevra. Jesus se antwoord het ’n illustrasie ingesluit wat dit laat klink het asof hy nie-Jode met “hondjies” vergelyk. Volgens die Mosaïese Wet was honde as onrein diere beskou (Levitikus 11:27). Maar wou Jesus hierdie Griekse vrou en ander nie-Jode beledig?

Glad nie. Jesus het aan sy dissipels verduidelik dat dit op daardie stadium sy hoofdoel was om die Jode te help. Om dit duidelik te maak, het hy vir die Griekse vrou die volgende illustrasie vertel: “Dit is nie reg om die kinders se brood te neem en dit vir hondjies te gooi nie” (Matteus 15:21-26; Markus 7:26). Honde was vir die Grieke en Romeine geliefde troeteldiere wat in hulle huise gebly het en met die kinders gespeel het. Daarom sou die uitdrukking “hondjies” hulle aan iets ouliks laat dink het. Die Griekse vrou het verstaan wat Jesus bedoel en het gesê: “Ja, Here; maar die hondjies eet tog van die krummels wat van die tafel van hulle base afval.” Jesus het haar vir haar geloof geprys en haar dogter gesond gemaak.—Matteus 15:27, 28.

Het die apostel Paulus goeie raad gegee toe hy voorgestel het dat ’n seereis uitgestel moet word?

’n Kunswerk van ’n groot vragskip (eerste eeu HJ)

Paulus was op ’n skip op pad na Italië toe, maar teenwinde het die seereis moeilik gemaak. Terwyl die skip later in ’n hawe geanker was, het die apostel voorgestel dat die res van die seereis uitgestel moet word (Handelinge 27:9-12). Het hy ’n goeie rede hiervoor gehad?

Seemanne in Paulus se tyd het goed geweet dat dit gedurende die wintermaande baie gevaarlik is om op die Middellandse See te reis. Mense het gewoonlik nie seereise tussen November en Maart aangepak nie. Maar die seereis waarvan Paulus gepraat het, sou in September of Oktober begin. Die Romeinse skrywer Vegetius (vierde eeu HJ) het in sy Epitome of Military Science oor navigasie op die Middellandse See gesê: “Party maande is baie goed, ander maande vat jy ’n kans, en die res van die jaar is dit onmoontlik.” Vegetius het gesê dat dit van 27 Mei tot 14 September veilig was om op die see te reis. Maar die twee gevaarlike tye van die jaar was van 15 September tot 11 November en weer van 11 Maart tot 26 Mei. Paulus het baie met skepe gereis en was goed bekend met sulke feite. Die stuurman en die eienaar van die skip was heel moontlik ook hiervan bewus, maar hulle het Paulus se raad geïgnoreer. Die gevolg was dat die skip gestrand het.—Handelinge 27:13-44.