Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat is God se naam?

Wat is God se naam?

Die eerste ding wat ons gewoonlik doen wanneer ons iemand wil leer ken, is om te vra: “Wat is jou naam?” As jy God hierdie vraag sou vra, wat sou hy sê?

“Ek is Jehovah. Dit is my naam.” Jesaja 42:8.

Het jy hierdie naam al ooit gehoor? Heel moontlik nie, want baie Bybelvertalers gebruik God se naam bitter min, of selfs glad nie. Hulle gebruik eerder die titel “HERE”. Maar die feit is, toe die Bybel oorspronklik geskryf is, het God se naam ongeveer 7 000 keer daarin voorgekom. In Hebreeus word die naam met vier letters geskryf wat ooreenstem met die letters JHWH of JHVH, en in Afrikaans word dit gewoonlik as “Jehovah” vertaal.

God se naam kan regdeur die Hebreeuse teks en in baie vertalings gevind word

Dooie See-rol van Psalms Eerste eeu HJ, HEBREEUS

Tyndale se vertaling 1530, ENGELS

Reina-Valera-vertaling 1602, SPAANS

Union Version 1919, CHINEES

HOEKOM GOD SE NAAM BELANGRIK IS

Die naam is vir God self belangrik. Niemand het vir God sy naam gegee nie, hy het dit self gekies. Jehovah het gesê: “Dit is ewig my naam, dit is die naam waarmee ek aangeroep moet word van geslag tot geslag” (Eksodus 3:15, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling van 1983). God het baie titels, soos Almagtige, Vader, Here of God. Maar sy naam word meer in die Bybel gebruik as enige van hierdie titels. En dit word ook meer gebruik as enigiemand anders se naam soos Abraham, Moses, Dawid of Jesus s’n. Dit is duidelik dat Jehovah wil hê dat almal sy naam moet ken. Die Bybel sê: “Sodat mense kan weet dat u, wie se naam Jehovah is, u alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is.” – Psalm 83:18.

Die naam is vir Jesus belangrik. In ’n bekende gebed wat die Onse Vader genoem word, het Jesus sy volgelinge geleer om tot God te bid en te sê: “Laat u naam geheilig word” (Matteus 6:9). Jesus het ook self tot God gebid: “Vader, verheerlik u naam” (Johannes 12:28). Een van die belangrikste dinge in Jesus se lewe was om God se naam te verheerlik. Daarom kon hy in gebed sê: “Ek het u naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak.” – Johannes 17:26.

Die naam is vir dié wat God ken, belangrik. God se knegte het nog altyd verstaan dat hulle beskerming en redding hand aan hand gaan met God se unieke naam. “Die naam van Jehovah is ’n sterk toring. Die regverdige hardloop daarin en word beskerm” (Spreuke 18:10). “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word” (Romeine 10:13). Die Bybel wys dat God se knegte aan sy naam uitgeken sal word. “Want wat al die volke betref, elkeen sal in die naam van sy god wandel; maar wat ons betref, ons sal in die naam van Jehovah ons God wandel . . . vir ewig.” – Miga 4:5; Handelinge 15:14.

WAT DIE NAAM ONS LEER

Die naam wys dat God uniek is. Baie geleerdes stem saam dat die naam Jehovah “Hy laat word” beteken. Jehovah God het ons gehelp om te verstaan wat sy naam beteken. Toe hy met Moses gepraat het, het hy na homself verwys met die woorde: “Ek sal word wat ek sal word” (Eksodus 3:14). Hierdie Hebreeuse uitdrukking kan ook vertaal word as “Ek sal word wat ek besluit om te word”. God se naam wys vir ons dat hy die Skepper van alles is. Maar dit sluit ook die idee in dat hy die vermoë het om homself en sy skepping te laat word wat ook al nodig is sodat sy wil kan plaasvind. Hoewel titels God se posisie, gesag of krag kan beskryf, is dit net sy naam, Jehovah, wat regtig vir ons sê wie hy is en wat hy alles kan word.

Die naam wys dat God in ons belangstel. Uit die betekenis van God se naam kan ons sien dat hy vir sy skepping omgee, wat ons insluit. God het vir ons gesê wat sy naam is, selfs nog voordat ons geweet het dat ons daarvoor kon vra. Dit is duidelik, hy wil hê dat ons hom moet leer ken. Party mense dink dat God ’n verborgenheid is, ’n geespersoon wat ver van ons af is. Maar God wil eerder hê dat ons hom moet sien as ’n werklike Persoon met wie ons ’n vriendskap kan hê. – Psalm 73:28.

Deur God se naam te gebruik, wys ons dat ons in hom belangstel. Wanneer jy byvoorbeeld met iemand vriende wil wees, vra jy hom dalk om jou op jou naam te noem. Hoe sou jy voel as daardie persoon aanhoudend weier om jou naam te gebruik? Jy sal seker later begin wonder of die persoon regtig jou vriend wil wees. Dit is dieselfde met God. Jehovah het vir mense gesê wat sy naam is, en hy moedig ons aan om dit te gebruik. As ons dit doen, wys ons vir Jehovah dat ons nader aan hom wil kom. Ja, selfs wanneer iemand “aan sy naam dink”, sien hy dit raak! – Maleagi 3:16.

Die eerste belangrike stap om nader aan God te kom, is om sy naam te leer. Maar dit is nie genoeg nie. Ons moet die Persoon agter die naam leer ken. Ons moet leer watter eienskappe hy het.

WAT IS GOD SE NAAM? God se naam is Jehovah. Hierdie naam leer ons dat God ’n unieke Persoon is wat sy wil kan laat plaasvind