Spring na inhoud

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

“Ek het op die strate gebly”

“Ek het op die strate gebly”
  • Gebore: 1955

  • Geboorteland: Spanje

  • Geskiedenis: Was gewelddadig en het dwelms en alkohol misbruik

MY VERLEDE

 Dit vat party mense nogal lank om uit hulle eie bittere ondervinding te leer. Ek was een van hulle. Ek was gebore in Barcelona, die tweede grootste stad in Spanje, en het daar groot geword. Ons gesin het in Somorrostro gebly, ’n groot gebied in die stad langs die see. Somorrostro was bekend vir misdaad en die verkoop van dwelms.

 Ek was die oudste van nege kinders. Omdat ons baie arm was het my pa my gestuur om by die plaaslike tennisklub te gaan werk. Ek het die balle opgetel. Ek was tien jaar oud en het elke dag tien ure lank gewerk. As gevolg hiervan kon ek nie soos al die ander kinders skool toe gaan nie. Toe ek 14 was, het ek as ’n masjienwerker in ’n metaalwerkswinkel begin werk.

In 1975 het ek by die Spaanse Vreemdelegioen in Noord-Afrika aangesluit en hulle kenmerkende uniform gedra

 In Spanje was militêre diens verpligtend en ek is in 1975 opgeroep. Ek wou iets opwindends met my lewe doen, en daarom het ek by die Spaanse Vreemdelegioen aangesluit, in Melilla, ’n Spaanse grondgebied in Noord-Afrika. Gedurende daardie tyd het ek betrokke geraak by die vieslike wêreld van dwelm- en alkoholmisbruik.

 Toe ek weg is by die Legioen, is ek terug na Barcelona waar ek ’n bende begin het. Ons het enigiets gesteel wat ons in die hande kon kry. Dan het ons die gesteelde goed verkoop en die geld gebruik vir dwelms. Ek het LSD en amfetamien begin gebruik, en my lewe het net bestaan uit seks, alkohol en dobbel. Hierdie verwoestende manier van lewe het my meer en meer gewelddadig gemaak. Ek het altyd ’n mes, ’n byl of ’n kapmes by my gehad en was gereed om dit te gebruik as ek gedink het dat dit nodig was.

 Eenkeer het ek en my bende ’n kar gesteel en die polisie het ons gejaag. Dit was soos ’n aksierolprent. Ons het omtrent 30 kilometer ver gery, maar toe het die polisie op ons begin skiet. Uiteindelik het ons ’n ongeluk gemaak, en ons almal het weggehardloop. Toe my pa hiervan uitvind, het hy my uit die huis uitgegooi.

 Vir die volgende vyf jaar het ek op die strate gebly. Ek het by ingange, in vragmotors, op bankies in parke en in begraafplase geslaap. Ek het selfs ’n tyd lank in ’n grot gebly. My lewe het glad nie ’n doel gehad nie, en ek het nie gedink dat dit saak maak of ek lewe of dood is nie. Ek onthou dat ek my polse en arms gesny het terwyl ek onder die invloed van dwelms was. Ek het tot vandag toe die littekens.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET

 Toe ek 28 was, het my ma my kom soek en gevra dat ek moet terugkom huis toe. Ek het ja gesê en haar belowe om my lewe reg te ruk, maar dit het my ’n hele ruk gevat om te doen wat ek belowe het.

 Een middag het twee van Jehovah se Getuies aan ons deur geklop. Ek was besig om na hulle te luister, toe my pa skree dat ek die deur in hulle gesig moet toeklap. Ek het nooit daarvan gehou dat iemand vir my sê wat ek moet doen nie. Daarom het ek besluit om hom te ignoreer en die drie boekies te vat wat hulle vir my gewys het. Ek het hulle gevra waar hulle bymekaarkom, en ’n paar dae later het ek na die Koninkryksaal gegaan.

 Die eerste ding wat ek agtergekom het, was hoe netjies almal aangetrek was. Aan die anderkant het ek lang hare en ’n baard gehad en slordige klere gedra. Dit was duidelik dat ek nie daar hoort nie, daarom het ek eerder buite gebly. Maar ek was baie verbaas toe ek een van my vorige bendelede herken. Sy naam was Juan en hy het ’n netjiese pak klere aangehad. Ek het later uitgevind dat hy net ’n jaar tevore een van Jehovah se Getuies geword het. Omdat hy daar was, het dit my die moed gegee wat ek nodig gehad het om in te gaan en die vergadering by te woon. Dit is waar alles vir my begin verander het.

 Ek het ’n Bybelstudie aanvaar en baie gou agtergekom dat ek my gewelddadige en onsedelike lewe moes verander as ek God se hart wou bly maak. Om hierdie veranderinge te maak, was nie maklik nie. Ek het geleer dat ek ‘moet verander deur my verstand te hervorm’ as ek Jehovah God wil bly maak (Romeine 12:2). Ek was diep geraak deur God se genade. Al het ek so baie foute gemaak, het ek besef dat hy my ’n kans gee om oor te begin. Wat ek oor Jehovah God geleer het, het diep in my hart ingesink. Dit het vir my duidelik geword dat daar ’n Skepper is wat vir my omgee. — 1 Petrus 5:6, 7.

 Daarom het ek begin om veranderinge te maak. Byvoorbeeld, toe ek uitvind wat die Bybel oor tabak leer, het ek vir myself gesê: ‘As Jehovah God wil hê dat ek in alles rein en heilig moet wees, dan sal hierdie sigarette moet gaan!’ (2 Korintiërs 7:1). Ek het dit dadelik in die asblik gegooi!

 Ek moes ook ophou om dwelms te gebruik en te verkoop. Dit was bietjie moeiliker en het ’n bietjie langer gevat. Ek het geweet dat ek niks meer te doen kon hê met my vorige maats as ek dit wou regkry nie. Hulle invloed het my nie gehelp om geestelik te groei nie. Later het ek meer op God en die hulp van my nuwe vriende in die gemeente staatgemaak. Hulle liefde en belangstelling in my as ’n persoon was iets wat ek nog nooit ervaar het nie. Ná ’n paar maande kon ek uiteindelik ophou om dwelms te gebruik en kon ek my met “die nuwe persoonlikheid . . . beklee” sodat God my kon goedkeur (Efesiërs 4:24). Ek is in Augustus 1985 as een van Jehovah se Getuies gedoop.

HOE DIT MY LEWE BETER GEMAAK HET

 Die Bybel het my gehelp om ’n beter lewe te hê. Dit het my bevry van ’n lewenstyl wat besig was om my liggaam en my lewe te vernietig. Om die waarheid te sê, meer as 30 van my ou vriende is dood aan VIGS en ander dwelm-verwante siektes toe hulle nog jonk was. Ek is baie bly dat ek sulke slegte dinge kon vermy deur Bybelwaarhede in my lewe toe te pas.

 Die messe en byle wat ek gewoonlik saamgedra het as ’n gewelddadige jong man, is nou iets van die verlede. Ek het nooit gedink dat ek eendag eerder ’n Bybel sou saamdra en dit gebruik om mense te help nie. Ek en my vrou dien nou albei as voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies.

 My ouers het nooit Jehovah se Getuies geword nie, maar hulle kon sien dat my lewe beter geword het omdat ek die Bybel studeer het. My pa het selfs eenkeer die Getuies voor al sy werksmaats verdedig. Dit was vir hom duidelik dat my nuwe geloof my gehelp het om buitengewone veranderinge in my lewe te maak. My ma het al baie gesê dat ek die Bybel eerder vroeër moes begin studeer het. Ek dink ook so!

 Alles wat ek in die lewe deurgemaak het, het my gehelp om te besef hoe dom dit is om plesier te soek in dwelms en ander slegte dinge. Dit maak my nou baie bly om ander mense van die waarhede in God se Woord te vertel — waarhede wat my lewe gered het.