Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | JONGMENSE

Hoe om teregwysing te aanvaar

Hoe om teregwysing te aanvaar

DIE UITDAGING

“Wanneer iemand jou teregwys, sê hy eintlik vir jou dat jy iets verkeerd doen. En ek ken niemand wat sê: ‘Ek is mal daaroor as iemand vir my sê dat ek iets verkeerd doen!’ nie.”—Amy, 17. *

Iemand wat teregwysing verwerp, is soos ’n vlieënier wat bevele van die beheertoring ignoreer. Dit kan rampspoedige gevolge hê.

Is dit vir jou moeilik om teregwysing van jou ouers, onderwysers en ander volwassenes te aanvaar? Indien wel, sal hierdie artikel jou help.

WAT JY MOET WEET

Almal het teregwysing nodig.

“Ons almal struikel dikwels.”Jakobus 3:2.

“Dit is nie ’n skande as jy tereggewys moet word wanneer jy iets verkeerd doen nie.”—Jessica.

As jy teregwysing ontvang, beteken dit nie dat jy ’n mislukking is nie.

“Jehovah * wys die een tereg wat hy liefhet, net soos ’n vader doen met ’n seun in wie hy behae het.”Spreuke 3:12.

“Wanneer mense my teregwys, probeer ek dink aan hoe moeilik dit vir hulle moet wees om dit te doen en hoe liefdevol dit van hulle is om my raad te gee.”—Tamara.

Teregwysing kan jou help om ’n beter mens te word.

“Luister na dissipline en word wys.”Spreuke 8:33.

“Teregwysing is noodsaaklik vir jou ontwikkeling. Dit gee jou insig in hoe ander jou sien en help jou om slegte eienskappe te oorkom wat jy dalk nie eers geweet het jy het nie.”—Deanne.

WAT JY KAN DOEN

Beskou die saak onbevooroordeeld. Jy is dalk geneig om aanstoot te neem wanneer jy tereggewys word. Maar probeer om jou gevoelens opsy te skuif. Om dit reg te kry, moet jy jou vir ’n oomblik uit die situasie verwyder en jou voorstel dat jy dieselfde teregwysing aan iemand anders gee—miskien aan ’n jonger boetie of sussie. Kan jy nou sien dat die raad ten minste tot ’n mate nodig is? Plaas jou nou terug in die situasie en probeer om hierdie beskouing van die raad te behou.—Bybelbeginsel: Prediker 7:9.

“Soms kan die kritiek jou so kwaad maak dat jy vergeet dat die persoon jou probeer help het om ’n beter mens te word en nie daarop uit was om jou gevoelens seer te maak nie.”—Theresa.

Bly nederig. Moenie toelaat dat trots jou die teregwysing laat verwerp nie. Maar moet ook nie deur ontmoediging oorweldig word net omdat daar iets is waarop jy moet verbeter nie. Nederigheid sal jou help om albei hierdie uiterstes te vermy. Onthou: Die teregwysing wat die seerste maak, is moontlik die teregwysing wat jy die nodigste het. As jy dit om die een of ander rede verwerp, laat jy ’n kosbare geleentheid om te groei, deur jou vingers glip.—Bybelbeginsel: Spreuke 16:18.

Die teregwysing wat die seerste maak, is moontlik die teregwysing wat jy die nodigste het

“As ’n mens werklik volwasse wil word, is dit belangrik dat jy teregwysing aanvaar. As ons nie leer om dit te aanvaar en daaruit voordeel te trek nie, sal dit op die lange duur tot ons nadeel wees.”—Lena.

Wees dankbaar. Al is dit vir jou moeilik om die teregwysing te aanvaar, sal dit goed wees as jy die persoon bedank wat dit gegee het. Hierdie persoon dra ongetwyfeld jou belange op die hart en wil werklik hê dat jy sukses moet behaal.—Bybelbeginsel: Psalm 141:5.

“Dit is altyd goed om ‘Dankie’ te sê, veral as jy die raad nodig gehad het. En al het jy dit nie nodig gehad nie, kan jy nog steeds vriendelik wees en die persoon bedank omdat hy die moeite gedoen het om jou te nader.”—Carla.

^ par. 4 Van die name in hierdie artikel is verander.

^ par. 11 Jehovah is God se naam soos dit in die Bybel geopenbaar word.