Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is waarheid nog belangrik?

Is waarheid nog belangrik?

 Voel dit vir jou asof dit al hoe moeiliker word om te weet wat waar en wat vals is? Dit lyk asof mense nou baie meer oortuig word deur hoe hulle voel en wat hulle persoonlik dink as deur waarheid en feite. Byvoorbeeld, die woord “post-waarheid”, wat geskep is om hierdie situasie te beskryf, het in onlangse jare al hoe gewilder geword. a Dit is ’n goeie beskrywing van die hele wêreld vandag, waar baie mense glo dat daar nie so iets soos waarheid is nie.

 Hierdie beskouing is nie iets nuuts nie. Omtrent 2 000 jaar gelede het die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus skepties vir Jesus gevra: “Wat is waarheid?” (Johannes 18:38). Alhoewel Pilatus nie vir ’n antwoord gewag het nie, was sy vraag belangrik. Die Bybel gee ’n antwoord wat jy dalk bevredigend sal vind en kan jou help om te weet wat waar en wat vals is in hierdie wêreld waar mense verward is hieroor.

Bestaan waarheid ooit?

 Ja. Die Bybel gebruik die woord “waarheid” om na dinge te verwys wat op feite gebaseer is en wat sedelik reg is. Dit leer ons dat Jehovah b God die Bron van absolute waarheid is en noem hom “die God van waarheid” (Psalm 31:5). Die Bybel bevat die waarheid van God, en dit vergelyk hierdie waarheid met lig omdat dit ons vandag deur al die verwarring in die wêreld kan lei. – Psalm 43:3; Johannes 17:17.

Hoe kan jy die waarheid vind?

 God wil nie hê dat ons die waarheid in die Bybel blindelings moet aanvaar nie. Daarom nooi hy ons om dit te ondersoek deur ons denkvermoë te gebruik eerder as om op ons emosies te vertrou (Romeine 12:1). Hy wil hê dat ons hom moet leer ken en vir hom lief moet wees deur ons “hele verstand” te gebruik, en hy moedig ons aan om aan onsself te bewys dat wat ons uit die Bybel leer, waar is. – Matteus 22:37, 38; Handelinge 17:11.

Waar kom leuens vandaan?

 Die Bybel sê dat leuens by God se vyand, Satan die Duiwel, begin het, wat die Bybel “die vader van die leuen” noem (Johannes 8:44). Hy het vir die eerste mense oor God gelieg (Genesis 3:1-6, 13, 17-19; 5:5). Van toe af het Satan aangehou om leuens te vertel en die waarheid oor God weg te steek. – Openbaring 12:9.

Hoekom is leuens vandag so algemeen?

 In ons dag, wat die Bybel “die laaste dae” noem, kan Satan mense meer as ooit tevore beïnvloed en mislei. Mense vertel dikwels leuens om ander te mislei en om misbruik van ander te maak (2 Timoteus 3:1, 13). Leuens is ook algemeen in die meeste godsdienste vandag. Soos die Bybel voorspel het vir ons tyd, maak mense “vir hulle onderrigters [bymekaar] wat dinge sê wat hulle graag wil hoor” en kies hulle om “nie meer na die waarheid [te] luister nie”. – 2 Timoteus 4:3, 4.

Hoekom is waarheid belangrik?

 Mense het waarheid nodig om mekaar te kan vertrou. Sonder vertroue kan vriendskappe en die samelewing uitmekaarval. Die Bybel sê dat God wil hê dat ons aanbidding op waarheid gebaseer moet wees. Dit sê: “Dié wat [God] aanbid, moet met gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:24). Om uit te vind hoe waarheid in die Bybel jou kan help om valse godsdiens te identifiseer en om te keer dat daardie leuens jou lewe beheer, lees die reeks artikels met die titel “Leuens wat dit moeilik maak om God lief te hê”.

Hoekom wil God hê dat ek die waarheid moet weet?

 God wil hê dat jy vir ewig moet lewe, en daarom moet jy die waarheid oor hom leer (1 Timoteus 2:4). As jy leer wat God se standaarde van reg en verkeerd is en daarvolgens lewe, sal jy ’n hegte vriendskap met hom kan hê (Psalm 15:1, 2). Om mense te help om die waarheid te leer, het God Jesus aarde toe gestuur. God wil hê dat ons na Jesus se leringe moet luister. – Matteus 17:5; Johannes 18:37.

Sal God ooit ’n einde maak aan leuens?

 Ja. God haat dit wanneer mense misbruik maak van ander deur vir hulle te lieg. Hy het belowe om diegene te vernietig wat vasbeslote is om aan te hou om leuens te vertel (Psalm 5:6). Wanneer God dit doen, sal hy ook sy belofte nakom: “Woorde van waarheid bly vir ewig.” – Spreuke 12:19.

a Die Oxford Dictionaries het gesê dat “post-waarheid” die woord van die jaar is vir 2016.

b Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?