Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK NEGENTIEN

Hy het beskerm, hy het voorsien, hy het volhard

Hy het beskerm, hy het voorsien, hy het volhard

1, 2. (a) Watter veranderinge het op Josef en sy gesin gewag? (b) Watter slegte nuus moes Josef sy vrou vertel?

JOSEF het nog ’n vrag op die donkie se rug gelaai. Stel jou voor hoe hy in die donkerte na die dorpie Betlehem kyk terwyl hy die stewig geboude pakdier op die sy klop. Hy het ongetwyfeld gedink aan die lang reis wat voorlê. Egipte! ’n Vreemde volk, ’n vreemde taal, vreemde gebruike—hoe sou sy gesinnetjie hulle by soveel veranderinge aanpas?

2 Dit was nie maklik om vir sy geliefde vrou, Maria, die slegte nuus te vertel nie, maar Josef het die moed bymekaargeskraap en dit gedoen. Hy het haar vertel van die droom waarin ’n engel hierdie boodskap van God oorgedra het: Die koning, Herodes, wou hulle seuntjie dood hê! Hulle moes dadelik padgee. (Lees Matteus 2:13, 14.) Maria was diep besorg. Waarom sou enigiemand haar onskuldige kindjie wil doodmaak? Nie Maria of Josef kon dit begryp nie. Maar omdat hulle op Jehovah vertrou het, het hulle hulle gereedgemaak vir die reis.

3. Beskryf Josef en sy gesin se vertrek uit Betlehem. (Sien ook die prent.)

3 Die hele Betlehem het geslaap, onbewus van die drama wat besig is om te ontvou, toe Josef, Maria en Jesus die dorpie ongemerk in die donker verlaat het. Terwyl Josef hulle suidwaarts gelei het en dit in die ooste begin lig word het, het hy waarskynlik gewonder wat voorlê. Hoe kon ’n eenvoudige timmerman sy gesin teen sulke sterk magte beskerm? Sou hy altyd in sy gesin se behoeftes kon voorsien? Sou hy hierdie gewigtige toewysing wat Jehovah God hom gegee het, enduit kon uitvoer, naamlik om vir hierdie unieke kind te sorg en hom groot te maak? Oorweldigende uitdagings het Josef in die gesig gestaar. Terwyl ons bespreek hoe hy elkeen die hoof gebied het, sal ons sien waarom hedendaagse vaders—en ons almal—Josef se geloof moet navolg.

Josef het sy gesin beskerm

4, 5. (a) Hoe het Josef se lewe heeltemal verander? (b) Hoe het ’n engel Josef aangespoor om ’n gewigtige toewysing te aanvaar?

4 Maande vroeër, in sy tuisdorp Nasaret, het Josef se lewe heeltemal verander nadat hy aan die dogter van Heli verloof geraak het. Josef het Maria geken as ’n onskuldige, getroue jong vrou. Maar toe het hy uitgevind dat sy swanger is! Hy was van plan om in die geheim van haar te skei om haar teen skande te beskerm. * Maar ’n engel het in ’n droom met hom gepraat en verduidelik dat Maria swanger was deur Jehovah se heilige gees. Die engel het bygevoeg dat die seun waarmee sy swanger was, “sy volk van hulle sondes [sou] red”. Hy het Josef verder verseker: “Moenie bang wees om jou vrou Maria huis toe te neem nie.”—Matt. 1:18-21.

5 Dit is presies wat Josef, ’n regverdige en gehoorsame man, gedoen het. Hy het die uiters gewigtige toewysing aanvaar: Om ’n seun wat nie syne is nie, maar vir God baie kosbaar is, groot te maak en vir hom te sorg. Later het Josef en sy swanger vrou, uit gehoorsaamheid aan ’n keiserlike bevel, na Betlehem gegaan om hulle daar te laat registreer. Dit is waar die kind gebore is.

6-8. (a) Watter gebeure het nog ’n verandering in die lewe van Josef en sy gesinnetjie meegebring? (b) Wat dui daarop dat Satan die “ster” gestuur het? (Sien ook die voetnoot.)

6 Josef het nie sy gesin na Nasaret teruggeneem nie. Hulle het hulle eerder in Betlehem gevestig, sowat tien kilometer van Jerusalem af. Hulle was arm, maar Josef het alles in sy vermoë gedoen om te voorkom dat Maria en Jesus gebrek ly of swaarkry. Ná ’n kort rukkie het hulle in ’n nederige huis ingetrek. Toe Jesus nie meer ’n baba was nie, maar ’n klein kindjie—dalk ouer as ’n jaar—het hulle lewe weer skielik verander.

7 ’n Groep mans het daar aangekom, sterrewiggelaars uit die Ooste, waarskynlik van vergeleë Babilon. Hulle het ’n “ster” tot by Josef en Maria se huis gevolg en het gesoek na ’n kind wat die koning van die Jode sou word. Die manne was baie respekvol.

8 Of die sterrewiggelaars dit nou besef het of nie, hulle het die klein Jesus in groot gevaar gestel. Die “ster” wat hulle gesien het, het hulle nie reguit na Betlehem gelei nie, maar eers na Jerusalem. * Daar het hulle vir die bose koning Herodes gesê dat hulle soek na ’n kind wat die koning van die Jode sou word. Dit het die man rasend van jaloesie gemaak.

9-11. (a) Hoe was sterker magte as Herodes of Satan aan die werk? (b) Hoe het die reis na Egipte verskil van wat in apokriewe mites beskryf word?

9 Maar gelukkig was daar sterker magte as Herodes of Satan aan die werk. Hoe so? Wel, toe die besoekers Jesus se huis bereik en hom by sy moeder sien, het hulle vir hom geskenke gegee en niks in ruil daarvoor gevra nie. Hoe vreemd moes dit tog vir Josef en Maria gewees het om skielik “goud en wierook en mirre”—waardevolle artikels—te hê! Die sterrewiggelaars was van plan om terug te gaan en vir koning Herodes te sê presies waar hulle die kind gevind het. Maar Jehovah het tussenbeide getree. In ’n droom het hy vir die sterrewiggelaars gesê om met ’n ander roete huis toe te gaan.—Lees Matteus 2:1-12.

10 Kort nadat die sterrewiggelaars vertrek het, het Josef hierdie waarskuwing van Jehovah se engel ontvang: “Staan op, neem die jong kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek vir jou sê; want Herodes staan op die punt om die jong kindjie te soek om hom dood te maak” (Matt. 2:13). Soos ons aan die begin gesien het, het Josef hierdie bevel sonder versuim gehoorsaam. Hy het sy kind se veiligheid eerste gestel en sy gesin na Egipte geneem. Omdat daardie heidense sterrewiggelaars sulke waardevolle geskenke vir die gesin gebring het, het Josef nou bates gehad wat hulle moontlik gedurende hulle verblyf in Egipte sou help.

Josef het beslissend en onselfsugtig opgetree om sy kind te beskerm

11 Apokriewe mites en legendes het later die reis na Egipte geromantiseer en beweer dat die klein Jesus die reis wonderdadig verkort het, struikrowers onskadelik gemaak het en selfs dadelpalms na sy moeder laat afbuig het sodat sy die vrugte kon pluk. * In werklikheid was dit net ’n lang, uitputtende reis na die onbekende.

Josef het sy eie gerief opgeoffer ter wille van sy gesin

12. Wat kan ouers wat kinders in hierdie gevaarlike wêreld grootmaak, by Josef leer?

12 Ouers kan baie by Josef leer. Hy het geredelik sy werk opsygeskuif en sy eie gerief opgeoffer om sy gesin teen gevaar te beskerm. Dit is duidelik dat hy sy gesin as ’n heilige pand van Jehovah beskou het. Ouers van vandag maak hulle kinders groot in ’n gevaarlike wêreld, ’n wêreld vol invloede wat kinders in gevaar kan stel, kan verderf of selfs hulle lewe kan verwoes. Hoe bewonderenswaardig is dit tog wanneer moeders en vaders Josef navolg deur beslissend op te tree en hulle in te span om hulle kinders teen sulke invloede te beskerm!

Josef het in sy gesin se behoeftes voorsien

13, 14. Hoe het dit gekom dat Josef en Maria hulle gesin in Nasaret grootgemaak het?

13 Die gesin het blykbaar nie lank in Egipte gebly nie, want die engel het Josef kort voor lank in kennis gestel dat Herodes dood is. Josef het sy gesin na hulle tuisland teruggebring. ’n Ou profesie het voorspel dat Jehovah sy Seun “uit Egipte” sou roep (Matt. 2:15). Josef het ’n rol in die vervulling van hierdie profesie gespeel, maar waarheen sou hy nou sy gesin neem?

14 Josef was versigtig. Hy het Herodes se opvolger, Argelaus, wyslik gevrees, want hy was ook wreed en moorddadig. Onder goddelike leiding het Josef sy gesin noordwaarts geneem, weg van Jerusalem met al sy intriges, terug na sy tuisdorp Nasaret in Galilea. Daar het hy en Maria hulle gesin grootgemaak.—Lees Matteus 2:19-23.

15, 16. Wat het Josef se werk ingesluit, en watter gereedskap het hy moontlik gebruik?

15 Hulle lewe was eenvoudig, maar nie maklik nie. Die Bybel noem Josef die timmerman en gebruik ’n woord wat verwys na iemand wat op baie maniere met hout werk, soos om bome af te kap, dit weg te sleep en die hout te droog sodat dit gebruik kon word om huise, bote en klein brûe te bou en om waens, wiele, jukke en allerhande plaasgereedskap te maak (Matt. 13:55). Dit was harde fisiese werk. ’n Timmerman in Bybeltye het dikwels naby die ingang van sy beskeie huis of in ’n werkswinkel langs sy huis gewerk.

16 Josef het ’n groot verskeidenheid gereedskap gebruik, waarvan party waarskynlik nog van sy vader gekom het. Hy het moontlik gewerk met ’n winkelhaak, ’n skietlood, ’n slaglyn, ’n handbyl, ’n saag, ’n dissel, ’n hamer, ’n houthamer, beitels, ’n boor waarmee hy gate gemaak het deur ’n boog heen en weer te trek, verskillende soorte lym en miskien ’n paar spykers, hoewel dit duur was.

17, 18. (a) Wat het Jesus by sy pleegvader geleer? (b) Waarom moes Josef al hoe harder werk?

17 Stel jou voor hoe Jesus as ’n seuntjie staan en kyk terwyl sy pleegvader werk. Terwyl hy elke beweging van Josef met groot oë dopgehou het, het hy ongetwyfeld die krag in daardie breë skouers en gespierde arms, die behendige hande en die intelligente oë bewonder. Dalk het Josef sy jong seun begin wys hoe om eenvoudige takies te verrig, soos om droë visvel te gebruik om growwe plekke op die hout mee glad te skuur. Hy het Jesus waarskynlik geleer om te onderskei tussen die verskillende soorte hout wat hy gebruik het—byvoorbeeld wildevye-, eike- of olyfhout.

Josef het sy seun as ’n timmerman opgelei

18 Jesus het ook uitgevind dat daardie sterk hande wat bome afkap, balke maak en voeë aanmekaarslaan, ook liefdevolle hande is wat hom, sy moeder en sy broers en susters gestreel en vertroos het. Ja, Josef en Maria se gesin het gegroei en uiteindelik ten minste ses kinders benewens Jesus ingesluit (Matt. 13:55, 56). Josef moes al hoe harder werk om in al hulle behoeftes te voorsien.

Josef het besef dat hy bowenal in sy gesin se geestelike behoeftes moet voorsien

19. Hoe het Josef in sy gesin se geestelike behoeftes voorsien?

19 Josef het egter besef dat hy bowenal in sy gesin se geestelike behoeftes moet voorsien. Hy het dus tyd gemaak om sy kinders van Jehovah God en Sy wette te leer. Hy en Maria het hulle gereeld na die plaaslike sinagoge geneem, waar die Wet voorgelees en verduidelik is. Miskien het Jesus agterna baie vrae gehad, en Josef het hard probeer om die seun se geestelike honger te bevredig. Josef het sy gesin ook na godsdiensfeeste in Jerusalem geneem. In die geval van die jaarlikse Pasga het dit Josef moontlik twee weke geneem om die reis van 120 kilometer af te lê, die fees te vier en terug te keer huis toe.

Josef het sy gesin gereeld na die tempel in Jerusalem geneem om daar te aanbid

20. Hoe kan Christengesinshoofde die patroon volg wat deur Josef vasgestel is?

20 Christengesinshoofde volg vandag ’n soortgelyke patroon. Hulle gee van hulleself vir hulle kinders en stel geestelike onderrigting bo alle ander belange, insluitende materiële geriewe. Hulle doen groot moeite om gesinsaanbidding by die huis te beoefen en om hulle kinders na Christelike vergaderinge, hetsy groot of klein, te neem. Soos Josef, weet hulle dat dit die allerbeste belegging is wat hulle ten behoewe van hulle kinders kan maak.

Angstige oomblikke

21. Hoe was die Pasgatyd vir Josef se gesin, en wanneer het Josef en Maria agtergekom dat Jesus nêrens te vinde is nie?

21 Toe Jesus 12 jaar oud was, het Josef sy gesin soos gewoonlik na Jerusalem geneem. Dit was die Pasga, ’n feestelike tyd, en groot gesinne het saam in lang karavane deur die groen lentelandskap gereis. Terwyl hulle die droër gebied naby die hoogliggende Jerusalem genader het, het baie die bekende liedere van die opgange gesing (Ps. 120-134). Die stad het waarskynlik gewemel van honderdduisende mense. Ná die fees het die gesinne met hulle pakdiere huiswaarts begin keer. Josef en Maria, wat moontlik baie gehad het om te doen, het aangeneem dat Jesus saam met ander in die groep, miskien familielede, reis. Eers nadat hulle ’n volle dagreis van Jerusalem af was, het hulle tot ’n verskriklike besef gekom—Jesus is nêrens te vinde nie!—Luk. 2:41-44.

22, 23. Wat het Josef en Maria gedoen omtrent hulle seun wat weg was, en wat het Maria gesê toe hulle hom uiteindelik gevind het?

22 Paniekbevange het hulle met dieselfde weg teruggegaan, tot by Jerusalem. Stel jou voor hoe leeg en vreemd die stad nou vir hulle moes gevoel het terwyl hulle op en af in die strate loop en hulle seun se naam uitroep. Waar kon die seun tog wees? Het Josef teen die derde dag van hulle soektog begin wonder of hy hopeloos misluk het in hierdie heilige toewysing wat hy van Jehovah ontvang het? Uiteindelik het hulle na die tempel gegaan. Daar het hulle gesoek totdat hulle by ’n vertrek gekom het waarin daar ’n hele klomp manne was, wat met die Wet vertroud was—en die jong Jesus was daar tussen hulle! Dink net hoe verlig Josef en Maria moes gewees het!—Luk. 2:45, 46.

23 Jesus het na die geleerde manne geluister en hulle gretig uitgevra. Die manne was verbaas oor die kind se begrip en sy antwoorde. Maria en Josef was egter verstom. In die Bybelverslag sê Josef niks. Maar Maria se woorde het albei se gevoelens goed uitgedruk: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.”—Luk. 2:47, 48.

24. Hoe skets die Bybel ’n realistiese prentjie van wat dit behels om ’n ouer te wees?

24 So skets God se Woord in net ’n paar sinne ’n realistiese prentjie van wat dit behels om ’n ouer te wees. Dit kan stresvol wees—selfs wanneer die kind volmaak is! Om ’n ouer in vandag se gevaarlike wêreld te wees, kan baie “angs” meebring, maar vaders en moeders kan vertroosting put uit die feit dat die Bybel erken hoe moeilik dit is.

25, 26. Hoe het Jesus sy ouers geantwoord, en hoe het Josef moontlik oor sy seun se woorde gevoel?

25 Jesus het die hele tyd gebly op die een plek in die wêreld waar hy die naaste aan sy hemelse Vader, Jehovah, gevoel het, en hy het alles wat hy kon leer, gretig ingedrink. Hy het sy ouers in alle opregtheid geantwoord: “Waarom moes julle na my gaan soek? Het julle nie geweet dat ek in die huis van my Vader moet wees nie?”—Luk. 2:49.

26 Josef het ongetwyfeld dikwels oor hierdie woorde nagedink. Miskien het dit hom laat oorloop van trots. Hy het immers hard gewerk om sy aangenome seun te leer om so oor Jehovah God te voel. Op hierdie stadium van Jesus se lewe het die woord “vader” reeds ’n warm gevoel by hom gewek—’n gevoel wat in groot mate deur sy jare saam met Josef gevorm is.

27. Watter voorreg het jy as ’n vader, en waarom moet jy Josef se voorbeeld in gedagte hou?

27 Besef jy, as jy ’n vader is, watter voorreg jy het om jou kinders te help om ’n beeld te vorm van wat ’n liefdevolle, beskermende vader is? En as jy stiefkinders of aangenome kinders het, moet jy ook Josef se voorbeeld in gedagte hou en elke kind as uniek en kosbaar behandel. Help hulle om nader aan hulle hemelse Vader, Jehovah God, te kom.—Lees Efesiërs 6:4.

Josef het getrou volhard

28, 29. (a) Wat openbaar die woorde in Lukas 2:51, 52 oor Josef? (b) Watter rol het Josef daarin gespeel om sy seun te help om in wysheid toe te neem?

28 Die Bybel bevat verder net ’n paar aanduidings van Josef se lewe, maar dit is die moeite werd om dit van naderby te beskou. Ons lees oor Jesus: “Hy het aan hulle [sy ouers] onderdanig gebly”. Ons lees ook: “Jesus het deurentyd toegeneem in wysheid en in grootte en in guns by God en die mense.” (Lees Lukas 2:51, 52.) Wat openbaar hierdie woorde oor Josef? Etlike dinge. Ons leer dat Josef voortgegaan het om die leiding in sy huisgesin te neem, want sy volmaakte seun het sy pa se gesag gerespekteer en hom daaraan bly onderwerp.

29 Ons leer ook dat Jesus voortgegaan het om in wysheid toe te neem. Josef het ongetwyfeld ’n belangrike rol gespeel in sy seun se groei in hierdie opsig. Daar was destyds ’n eeue oue gesegde onder die Jode. Dit kan vandag nog gevind en gelees word. Volgens hierdie gesegde kan slegs mense wat baie vrye tyd het, waarlik wys word, terwyl ambagsmanne, soos timmermanne, boere en ystersmede, “nie reg en geregtigheid kan bekend maak nie; en hulle sal nie gevind word waar gelykenisse vertel word nie”. Later het Jesus geopenbaar hoe onsinnig hierdie gesegde is. Hoe dikwels het hy tog as seun gehoor hoe sy pleegvader, al was hy ’n nederige timmerman, op bekwame wyse oor Jehovah se “reg en geregtigheid” onderrig! En dit ongetwyfeld by verskeie geleenthede.

30. Hoe het Josef ’n voorbeeld vir gesinshoofde van vandag gestel?

30 Ons kan ook bewyse sien van Josef se invloed op Jesus se fisiese groei. Omdat daar goed vir Jesus gesorg is, het hy ’n sterk, gesonde man geword. Josef het sy seun ook geleer om vaardig te wees in sy werk. Jesus het nie net bekend gestaan as die seun van die timmerman nie, maar ook as “die timmerman” (Mark. 6:3). Josef het hom dus goed opgelei. Gesinshoofde volg Josef wyslik na deur in hulle kinders se praktiese behoeftes te voorsien en seker te maak dat hulle hulleself kan onderhou.

31. (a) Waarop dui die getuienis met betrekking tot die einde van Josef se lewe? (Sluit die  venster in.) (b) Watter navolgenswaardige voorbeeld het Josef vir ons nagelaat?

31 Wanneer ons die punt bereik waar die Bybelverslag vertel van Jesus se doop op ongeveer 30-jarige ouderdom, kom Josef nie meer in die verhaal voor nie. Die getuienis dui daarop dat Maria ’n weduwee was teen die tyd dat Jesus met sy bediening begin het. (Sien die venster  “Wanneer het Josef gesterf?”) Nietemin het Josef ’n uitstekende voorbeeld nagelaat—dié van ’n vader wat sy gesin beskerm het, in hulle behoeftes voorsien het en tot die einde toe getrou volhard het. Enige vader, enige gesinshoof, eintlik enige ander Christen, sal verstandig wees om Josef se geloof na te volg.

^ par. 4 Destyds is ’n verlowing feitlik in dieselfde lig as ’n huwelik beskou.

^ par. 8 Hierdie “ster” was nie ’n natuurlike sterrekundige verskynsel nie; ook is dit nie deur God gestuur nie. Satan het klaarblyklik hierdie bonatuurlike verskynsel gebruik as deel van sy bose plan om Jesus van kant te maak.

^ par. 11 Die Bybel toon duidelik dat Jesus se eerste wonderwerk, “die begin van sy tekens”, eers ná sy doop plaasgevind het.—Joh. 2:1-11.