Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK DERTIEN

Hy het uit sy foute geleer

Hy het uit sy foute geleer

1, 2. (a) Wat het Jona oor homself en die seemanne op die skip gebring? (b) Hoe kan Jona se verhaal ons help?

JONA het gewens dat hy die verskriklike geluide kan ignoreer. Dit was nie net die hewige wind, wat deur die skip se takelwerk geloei het nie; en dit was ook nie net die reusegolwe, wat teen die kante van die vaartuig geslaan en elke plank laat kraak en kreun het nie. Nee, vir Jona was die uitroepe van die seemanne, die kaptein en sy bemanning, terwyl hulle gesukkel het om die skip drywend te hou, baie erger. Jona was seker dat hierdie manne gaan sterf—en dit was alles sy skuld!

2 Wat het Jona in so ’n benarde situasie laat beland? Hy het ’n ernstige fout begaan in sy optrede teenoor sy God, Jehovah. Wat het hy gedoen? Was dit te laat om sake reg te stel? Ons kan baie uit die antwoorde leer. Jona se verhaal help ons byvoorbeeld om te sien hoe selfs mense met ware geloof foute kan maak—en hoe hulle sake kan regstel.

’n Profeet uit Galilea

3-5. (a) Waarop konsentreer mense dikwels wanneer hulle aan Jona dink? (b) Wat weet ons omtrent Jona se agtergrond? (Sien ook die voetnoot.) (c) Waarom was Jona se diens as ’n profeet nie maklik of aangenaam nie?

3 Wanneer mense aan die man Jona dink, lyk dit of hulle dikwels op sy negatiewe eienskappe konsentreer, soos die ongehoorsaamheid of selfs die hardkoppigheid wat hy soms geopenbaar het. Maar daar het baie meer as dít in die man gesteek. Onthou, Jona is gekies om as ’n profeet van Jehovah God te dien. Jehovah sou hom nie vir so ’n gewigtige verantwoordelikheid gekies het as hy ontrou of onregverdig was nie.

Daar het baie meer in Jona gesteek as sy negatiewe eienskappe

4 Die Bybel vertel ons iets omtrent Jona se agtergrond. (Lees 2 Konings 14:25.) Hy was afkomstig van Gat-Hefer, net vier kilometer van Nasaret af, die dorp waar Jesus Christus ongeveer agt eeue later sou grootword. * Jona het gedurende die bewind van koning Jerobeam II van die tienstammeryk van Israel as profeet gedien. Dit was lank ná Elia se tyd; sy opvolger, Elisa, het gedurende die bewind van Jerobeam se vader gesterf. Hoewel Jehovah hierdie manne gebruik het om Baälaanbidding uit te wis, het Israel weer willens en wetens begin afdwaal. Die land was nou onder die invloed van ’n koning wat “bly doen [het] wat sleg was in Jehovah se oë” (2 Kon. 14:24). Jona se diens kon dus nie maklik of aangenaam gewees het nie. Tog het hy dit getrou uitgevoer.

5 Maar eendag het Jona se lewe ’n dramatiese wending geneem. Hy het ’n toewysing van Jehovah ontvang wat vir hom uiters moeilik was. Wat het Jehovah hom gevra om te doen?

“Staan op, gaan na Nineve”

6. Watter toewysing het Jehovah aan Jona gegee, en waarom het dit moontlik oorweldigend gelyk?

6 Jehovah het vir Jona gesê: “Staan op, gaan na Nineve, die groot stad, en verkondig daarteen dat hulle slegtheid voor my opgekom het” (Jona 1:2). Dit is nie moeilik om te sien waarom hierdie toewysing moontlik oorweldigend gelyk het nie. Nineve het ongeveer 800 kilometer na die ooste gelê, ’n reis oor land wat waarskynlik sowat ’n maand te voet sou neem. Maar die ontberinge van hierdie reis het dalk na die maklikste deel van die taak gelyk. In Nineve moes Jona Jehovah se oordeelsboodskap oordra aan die Assiriërs, wat daarvoor berug was dat hulle gewelddadig, selfs wreed, was. As Jona min reaksie onder God se volk gesien het, wat kon hy dan hoop om onder daardie heidene te sien? Hoe sou ’n enkele kneg van Jehovah vaar in die ontsaglike Nineve, wat later “die stad van bloedvergieting” genoem sou word?—Nah. 3:1, 7.

7, 8. (a) Presies hoe vasbeslote was Jona om weg te kom van die toewysing wat Jehovah hom gegee het? (b) Waarom moet ons Jona nie as ’n lafaard veroordeel nie?

7 Sulke gedagtes het heel moontlik by Jona opgekom. Ons weet nie. Wat ons wel weet, is dat hy gevlug het. Jehovah het vir hom gesê om in ’n oostelike rigting te gaan; Jona het in ’n westelike rigting gegaan, so ver wes as wat hy kon. Hy het afgegaan na die kus, na ’n hawestad genaamd Joppe, waar hy ’n skip onderweg na Tarsis gevind het. Party geleerdes sê dat Tarsis in Spanje was. As dit die geval is, was Jona van plan om ongeveer 3 500 kilometer van Nineve af te vlug. So ’n reis na die ander end van die Groot See kon tot ’n jaar geneem het. Só vasbeslote was Jona om weg te kom van die toewysing wat Jehovah hom gegee het!—Lees Jona 1:3.

8 Beteken dit dat ons Jona as ’n lafaard kan bestempel? Ons moet hom nie te gou oordeel nie. Soos ons sal sien, kon hy merkwaardige moed aan die dag lê. Maar soos ons almal was Jona ’n onvolmaakte mens wat met baie foute geworstel het (Ps. 51:5). Wie van ons het nog nooit met vrees geworstel nie?

9. Hoe voel ons dalk soms oor ’n toewysing van Jehovah, en watter waarheid moet ons dan in gedagte hou?

9 Dit voel dalk soms vir ons of God ons vra om iets te doen wat vir ons moeilik, selfs onmoontlik, lyk. Miskien is dit vir ons selfs oorweldigend om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig, soos daar van Christene verwag word (Matt. 24:14). Ons vergeet maar alte maklik die diepgaande waarheid wat Jesus geuiter het: “By God is alles moontlik” (Mark. 10:27). As ons van tyd tot tyd hierdie waarheid uit die oog verloor, kan ons dalk ook Jona se probleem verstaan. Maar wat was die gevolge van Jona se vlug?

Jehovah dissiplineer sy eiesinnige profeet

10, 11. (a) Wat het Jona moontlik gehoop terwyl die vragskip die hawe verlaat het? (b) Watter gevaar het die skip en die bemanning bedreig?

10 Ons kan ons net voorstel hoe Jona hom op daardie skip, waarskynlik ’n Fenisiese vragskip, gemaklik gemaak het. Hy het toegekyk hoe die kaptein en sy bemanning werskaf om hulle skip in beweging en uit die hawe te kry. Terwyl die kuslyn stadigaan verdwyn het, het Jona moontlik gehoop dat hy die gevaar ontvlug het waarvoor hy so bang was. Maar skielik het die weer verander.

11 Sterk winde het die see opgeswiep tot ’n angswekkende, bruisende watermassa, met golwe wat moontlik selfs hedendaagse skepe sou verdwerg. Hoe lank het dit geneem voordat daardie houtskip verskriklik klein en breekbaar gelyk het, verlore in ’n see van toringhoë golwe en diep laagtes? Het Jona op dié stadium geweet wat hy later geskryf het—dat ‘Jehovah ’n sterk wind op die see gewerp het’? Dit is moeilik om te sê. Maar hy het gesien hoe die seemanne tot hulle verskillende gode begin uitroep, en hy het geweet dat daar geen hulp uit daardie oord sou kom nie (Lev. 19:4). Sy verslag sê: “Die skip was op die punt om te vergaan” (Jona 1:4). En hoe kon Jona bid tot die God van wie hy wegvlug?

12. (a) Waarom moet ons Jona nie te gou veroordeel omdat hy geslaap het terwyl die storm gewoed het nie? (Sien ook die voetnoot.) (b) Hoe het Jehovah die oorsaak van die moeilikheid geopenbaar?

12 Jona het magteloos gevoel om te help; dus het hy afgegaan na die ruim van die skip en ’n plek gevind om te lê. Daar het hy vas aan die slaap geraak. * Die kaptein het Jona gevind, hom wakker gemaak en hom aangespoor om, soos al die ander, tot sy god te bid. Omdat die seemanne oortuig was dat daar iets bonatuurliks omtrent hierdie storm is, het hulle die lot gewerp om te sien wie van die mense aan boord moontlik die oorsaak van hulle moeilikheid is. Jona se hart het ongetwyfeld in sy skoene gesak toe die lot die een man ná die ander uitskakel. Kort voor lank is die waarheid onthul. Jehovah het die storm, sowel as die lot, gerig op een man—Jona!—Lees Jona 1:5-7.

13. (a) Wat het Jona aan die matrose bely? (b) Wat het Jona die matrose aangespoor om te doen, en waarom?

13 Jona het die matrose alles vertel. Hy is ’n kneg van die almagtige God, Jehovah. Dít is die God van wie hy vlug en vir wie hy aanstoot gegee het, sodat hulle almal in hierdie verskriklike moeilikheid beland het. Die manne was geskok; Jona kon die angs in hulle oë sien. Hulle het hom gevra wat hulle met hom moet doen om die skip en hulle lewe te red. Wat het hy gesê? Jona het moontlik gesidder by die gedagte om in daardie koue, onstuimige see te verdrink. Maar hoe kon hy al hierdie manne na so ’n dood stuur terwyl hy geweet het dat hy hulle kan red? Hy het hulle dus aangespoor: “Tel my op en gooi my in die see, en die see sal vir julle stil word; want ek weet dat hierdie groot storm weens my oor julle gekom het.”—Jona 1:12.

14, 15. (a) Hoe kan ons Jona se geloof navolg? (b) Hoe het die matrose op Jona se versoek gereageer?

14 Dit is nouliks die woorde van ’n lafaard, nie waar nie? Dit het ongetwyfeld Jehovah se hart verbly om Jona se dapper, selfopofferende gees in hierdie oomblik van benoudheid te sien. Hier sien ons Jona se geloof op sy beste. Ons kan dit vandag navolg deur ander se welsyn bo ons eie te stel (Joh. 13:34, 35). Doen ons alles in ons vermoë om te help wanneer ons sien dat iemand hulp nodig het, hetsy dit fisies, emosioneel of geestelik is? Hoe bly maak ons Jehovah tog wanneer ons dit doen!

15 Miskien is ook die matrose diep geraak, want hulle het aanvanklik geweier om aan sy versoek te voldoen! Hulle het eerder alles moontlik gedoen om deur die storm te kom—maar tevergeefs. Die storm het net al hoe erger geword. Uiteindelik het hulle gesien dat hulle geen keuse het nie. Terwyl hulle tot Jona se God, Jehovah, geroep het om barmhartigheid aan hulle te bewys, het hulle die man opgetel en in die see gegooi.—Jona 1:13-15.

Op Jona se aansporing het die matrose hom opgetel en in die see gegooi

Jona ontvang barmhartigheid en word gered

16, 17. Beskryf wat met Jona gebeur het toe hy van die skip afgegooi is. (Sien ook die prente.)

16 Jona het in die woeste golwe geval. Miskien het hy gespartel in ’n poging om nie te sink nie terwyl hy deur ’n waas van skuim en sproei die afstand tussen hom en die skip vinnig sien groter word het. Maar die kragtige golwe het oor hom gebreek en hom ondertoe gedruk. Hy het al hoe dieper gesink en gevoel dat daar vir hom geen hoop is nie.

17 Jona het later beskryf hoe hy op hierdie stadium gevoel het. Allerhande beelde het deur sy gedagtes geflits. Hy was hartseer om te dink dat hy nooit weer Jehovah se pragtige tempel in Jerusalem sou sien nie. Hy het gevoel dat hy in die dieptes van die see afsak, naby die grondveste van die berge, waar hy in die seegras verstrengel geraak het. Dit het gelyk of dít sy kuil, sy graf, sou wees.—Lees Jona 2:2-6.

18, 19. Wat het in die dieptes van die see met Jona gebeur, watter soort wese was daarby betrokke, en wie was agter hierdie gebeure? (Sien ook die voetnoot.)

18 Maar wag! Iets het naby hom beweeg—’n ontsaglike, donker voorwerp, ’n lewende wese. Dit het skielik dreigend nader gekom. ’n Groot mond het oopgegaan, oor hom toegegaan en hom ingesluk!

Jehovah “het ’n groot vis beskik om Jona in te sluk”

19 Dit is sekerlik klaarpraat met hom. Maar Jona het iets verbasends besef. Hy het nog gelewe! Hy is nie verbrysel, verteer of selfs versmoor nie. Nee, hy het nog asemgehaal, al is hy in wat in werklikheid sy graf moes gewees het. Jona is stadigaan met ontsag vervul. Dit was ongetwyfeld sy God, Jehovah, wat ‘’n groot vis beskik het om Jona in te sluk’. *Jona 1:17.

20. Wat kan ons oor Jona leer uit die gebed wat hy in die groot vis gedoen het?

20 Minute het verloop, en toe ure. Daar, in die diepste duisternis waarin hy al ooit was, het Jona sy gedagtes agtermekaar gekry en tot Jehovah God gebid. Sy gebed, wat in sy geheel in die tweede hoofstuk van Jona opgeteken is, is insiggewend. Dit toon dat Jona ’n uitgebreide kennis van die Skrif gehad het, want dit verwys dikwels na die Psalms. Dit openbaar ook ’n hartverblydende eienskap: dankbaarheid. Jona het afgesluit: “Wat my betref, met die stem van danksegging sal ek offerandes aan u bring. Wat ek plegtig belowe het, sal ek betaal. Redding behoort aan Jehovah.”—Jona 2:9.

21. Wat het Jona oor redding geleer, en watter waardevolle les kan ons in gedagte hou?

21 Daar, op die onwaarskynlikste plek—die “ingewande van die vis”—het Jona geleer dat Jehovah aan enigiemand, op enige plek en te eniger tyd redding kan verskaf. Selfs daar het Jehovah sy verontruste kneg gevind en gered (Jona 1:17). Slegs Jehovah kan ’n man drie dae en drie nagte lank in die maag van ’n groot vis lewend en gesond hou. Dit is vandag vir ons goed om te onthou dat Jehovah ‘die God is in wie se hand jou asem is’ (Dan. 5:23). Ons het elke asemteug, ons hele bestaan, aan hom te danke. Is ons dankbaar daarvoor? Is ons dan nie gehoorsaamheid aan Jehovah verskuldig nie?

22, 23. (a) Hoe is Jona se dankbaarheid kort voor lank op die proef gestel? (b) Wat kan ons by Jona leer aangaande die foute wat ons maak?

22 Wat van Jona? Het hy geleer om sy dankbaarheid teenoor Jehovah te toon deur middel van gehoorsaamheid? Ja, hy het. Ná drie dae en drie nagte het die vis Jona tot by die strand gebring en “Jona op die droë grond uitgebraak” (Jona 2:10). Dink net—dit was op die ou end nie eens vir Jona nodig om strand toe te swem nie! Hy moes natuurlik sy weg van daardie strand af vind, waar dit ook al was. Maar kort voor lank is sy dankbare gees op die proef gestel. Jona 3:1, 2 sê: “Toe het die woord van Jehovah die tweede keer tot Jona gekom en gesê: ‘Staan op, gaan na Nineve, die groot stad, en verkondig daaraan die boodskap wat ek vir jou sê.’” Wat sou Jona doen?

23 Jona het nie gehuiwer nie. Ons lees: “Daarop het Jona opgestaan en na Nineve gegaan ooreenkomstig die woord van Jehovah” (Jona 3:3). Ja, hy was gehoorsaam. Dit is duidelik dat hy uit sy foute geleer het. Ook hierin moet ons Jona se geloof navolg. Ons almal sondig; ons almal maak foute (Rom. 3:23). Maar gooi ons tou op, of leer ons uit ons foute en gaan ons voort om God gehoorsaam te dien?

24, 25. (a) Watter beloning het Jona later in sy lewe ontvang? (b) Watter belonings wag in die toekoms op Jona?

24 Het Jehovah Jona beloon vir sy gehoorsaamheid? Ja, hy het. Om maar een ding te noem, Jona het blykbaar later uitgevind dat daardie matrose die reis oorleef het. Die storm het onmiddellik ná Jona se selfopofferende daad bedaar, en daardie seemanne het “Jehovah grootliks begin vrees” en het ’n offerande aan hom gebring in plaas van aan hulle valse gode.—Jona 1:15, 16.

25 Heelwat later was daar ’n selfs groter beloning. Jesus het die tyd wat Jona in die reusagtige vis was, gebruik as ’n profetiese afbeelding van die tyd wat hy in die graf, of Sjeool, sou wees. (Lees Matteus 12:38-40.) Hoe verheug sal Jona tog wees om van hierdie seën te hoor wanneer hy tot lewe op die aarde opgewek word! (Joh. 5:28, 29). Jehovah wil jou ook seën. Sal jy, soos Jona, uit jou foute leer en ’n gehoorsame, onselfsugtige gees openbaar?

^ par. 4 Jona se herkoms uit ’n Galilese dorp is opmerkenswaardig, want die Fariseërs het ewe verwaand met verwysing na Jesus gesê: “Ondersoek en sien dat geen profeet uit Galilea verwek word nie” (Joh. 7:52). Baie vertalers en navorsers gee te kenne dat die Fariseërs ’n omvattende veralgemening gemaak het dat geen profeet al ooit uit die geringe Galilea gekom het of ooit daaruit kon kom nie. As dit die geval is, het daardie manne die geskiedenis sowel as die profesieë geïgnoreer.—Jes. 9:1, 2.

^ par. 12 Die Septuagint beklemtoon hoe diep Jona geslaap het deur by te voeg dat hy gesnork het. Maar voordat ons Jona se slaap as ’n teken van onverskilligheid vertolk, moet ons onthou dat mense wat baie terneergedruk is, soms oorweldig word deur die drang om te slaap. Gedurende Jesus se smartlike ure in die tuin van Getsemane het Petrus, Jakobus en Johannes ‘gesluimer van droefheid’.—Luk. 22:45.

^ par. 19 Toe die Hebreeuse woord vir “vis” in Grieks vertaal is, is dit weergegee met “seemonster” of “reusagtige vis”. Hoewel daar geen manier is om vas te stel presies watter soort seedier dit was nie, is daar al in die Middellandse See haaie opgemerk wat groot genoeg is om ’n mens heel in te sluk. Op ander plekke is daar veel groter haaie; die walvishaai kan tot 15 meter lank word—moontlik selfs langer!