Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK EEN

‘Hy spreek nog, hoewel hy gesterf het’

‘Hy spreek nog, hoewel hy gesterf het’

1. Wat het Adam en Eva se gesin verhinder om in die tuin van Eden in te gaan, en waarna het Abel gesmag?

ABEL het na sy kudde skape gekyk wat rustig teen die heuwel wei. Toe het hy moontlik na ’n plek in die verte getuur waar hy ’n dowwe skynsel kon sien. Hy het geweet dat ’n vlammende lem heeltyd daar in die rondte draai om die ingang na die tuin van Eden te versper. Sy ouers het vroeër daar gewoon, maar nie hulle of hulle kinders kon nou daar ingaan nie. Stel jou voor hoe die laatmiddagwindjie deur Abel se hare speel terwyl hy na die hemel opkyk en aan sy Skepper dink. Sou die breuk tussen die mens en God ooit herstel word? Dít is waarna Abel gesmag het.

2-4. In watter sin spreek Abel vandag tot ons?

2 Abel spreek vandag tot jou. Kan jy hom hoor? Jy sê miskien dat so iets onmoontlik is. Hierdie tweede seun van Adam het immers lank gelede gesterf. Sy liggaam is al byna 60 eeue lank deel van die stof van die aarde. Die Bybel leer ons omtrent die dooies: “Hulle is bewus van hoegenaamd niks” (Pred. 9:5, 10). Wat meer is, nie ’n enkele woord van Abel is in die Bybel opgeteken nie. Hoe kan hy dan tot ons spreek?

3 Die apostel Paulus is geïnspireer om oor Abel te sê: “Daardeur spreek hy nog, hoewel hy gesterf het.” (Lees Hebreërs 11:4.) Waardeur spreek Abel? Deur geloof. Abel was die heel eerste mens wat hierdie voortreflike eienskap opgebou het. Hy het sulke sterk geloof geopenbaar dat sy voorbeeld lewend is, ’n treffende maatstaf wat ons vandag kan toepas. As ons uit sy geloof leer en dit probeer navolg, spreek die verslag van Abel op ’n baie realistiese en doeltreffende manier tot ons.

4 Maar wat kan ons oor Abel en sy geloof leer as daar so min oor hom gesê word in die Bybel? Kom ons kyk.

Abel se jeugjare tydens “die grondlegging van die wêreld”

5. Wat beteken Jesus se woorde wat Abel met “die grondlegging van die wêreld” verbind? (Sien ook die voetnoot.)

5 Abel is kort ná die begin van die mensegeskiedenis gebore. Jesus het Abel later verbind met “die grondlegging van die wêreld”. (Lees Lukas 11:50, 51.) Jesus het klaarblyklik gepraat van die wêreld van mense wat van sonde losgekoop kan word. Hoewel Abel die vierde mens op aarde was, was hy blykbaar die eerste een wat God as loskoopbaar beskou het. * Dit is duidelik dat Abel nie grootgeword het tussen mense wat goeie voorbeelde was nie.

6. Watter soort ouers het Abel gehad?

6 Hoewel die wêreld jonk was, het ’n donker skaduwee van droefheid oor die mensegesin gehang. Abel se ouers, Adam en Eva, was waarskynlik pragtige, dinamiese mense. Maar hulle het diep gesink in die lewe, en hulle het dit geweet. Hulle was eens volmaak, met die vooruitsig om vir ewig te lewe. Toe het hulle teen Jehovah God in opstand gekom en is hulle uit hulle Paradystuiste in die tuin van Eden verban. Deur hulle eie begeertes eerste te stel—selfs bo die behoeftes van hulle nakomelinge—het hulle volmaaktheid en die ewige lewe verloor.—Gen. 2:15–3:24.

7, 8. Wat het Eva gesê toe Kain gebore is, en waaraan het sy moontlik gedink?

7 Nadat Adam en Eva uit die tuin verban is, was die lewe moeilik. Maar toe hulle eerste kind gebore is, het hulle hom Kain genoem, of “Iets wat voortgebring is”, en Eva het gesê: “Ek het ’n man met die hulp van Jehovah voortgebring.” Haar woorde gee te kenne dat sy moontlik gedink het aan Jehovah se belofte in die tuin toe hy voorspel het dat ’n sekere vrou ’n “saad”, of nageslag, sou voortbring wat eendag die bose sou vernietig wat Adam en Eva laat afdwaal het (Gen. 3:15; 4:1). Het Eva gedink dat sy die vrou in die profesie is en dat Kain die beloofde “saad” is?

8 Indien wel, het sy haar hopeloos misgis. Wat meer is, as sy en Adam Kain met sulke idees grootgemaak het, sou dit beslis nie goed gewees het vir sy onvolmaakte menslike trots nie. Ná verloop van tyd het Eva ’n tweede seun gehad, maar ons vind glad nie sulke oordrewe stellings oor hom nie. Hulle het hom Abel genoem, wat moontlik “Uitaseming”, of “Nietigheid”, beteken (Gen. 4:2). Het hierdie keuse van ’n naam laer verwagtinge weerspieël, asof hulle minder hoop gestel het in Abel as in Kain? Ons kan nie met sekerheid sê nie.

9. Wat kan ouers van vandag by ons eerste ouers leer?

9 Ouers van vandag kan baie by hierdie eerste ouers leer. Sal julle deur julle woorde en dade julle kinders se trots, ambisie en selfsugtige neigings voed? Of sal julle hulle leer om Jehovah God lief te hê en om ’n vriendskap met hom aan te kweek? Ongelukkig het die eerste ouers versuim om hulle verantwoordelikheid na te kom. Maar daar was hoop vir hulle nakomelinge.

Abel het geloof opgebou—Hoe?

10, 11. Wat het Kain en Abel onderskeidelik geword, en watter eienskap het Abel opgebou?

10 Terwyl die twee seuns grootgeword het, het Adam hulle waarskynlik opgelei om werk te doen wat nodig was om in die gesin se behoeftes te voorsien. Kain het ’n landbouer geword; Abel het ’n herder geword.

11 Maar Abel het iets gedoen wat baie belangriker was. Oor die jare heen het hy geloof opgebou—daardie pragtige eienskap waaroor Paulus later geskryf het. Dink daaraan! Abel het geen menslike voorbeeld gehad om te volg nie. Hoe het hy dan geloof in Jehovah God opgebou? Kyk na drie vaste grondslae waarop sy geloof waarskynlik berus het.

12, 13. Hoe het die waarneming van Jehovah se skeppingswerke moontlik Abel se geloof laat groei?

12 Jehovah se skeppingswerke. Jehovah het weliswaar ’n vloek oor die grond uitgespreek, sodat dit dorings en dissels voortgebring het wat dit moeilik gemaak het om gewasse te kweek. Nietemin het die grond oorgenoeg voedsel gelewer om Abel se gesin aan die lewe te hou. En geen vloek is uitgespreek oor die diere, insluitende die voëls en visse nie; ook nie oor die berge, mere, riviere en seë nie; en ook nie oor die lug, wolke, son, maan en sterre nie. Oral waar Abel gekyk het, het hy bewyse gesien van die groot liefde, wysheid en goedheid van Jehovah God, die een wat alles geskep het. (Lees Romeine 1:20.) Deur met waardering oor hierdie dinge te peins, het Abel ongetwyfeld sy geloof versterk.

Die skepping het Abel ’n vaste grondslag vir geloof in ’n liefdevolle Skepper gegee

13 Abel het sekerlik tyd geneem om oor geestelike dinge te peins. Stel jou Abel met sy kudde voor. ’n Herder moes baie stap. Hy het die saggeaarde diere oor heuwels, deur valleie, deur riviere gelei—altyd op soek na die groenste gras, die beste waterpoele, die mees beskutte rusplekke. Van al God se skepsele het skape na die hulpeloosste gelyk, asof hulle van nature die mens se leiding en beskerming nodig het. Het Abel besef dat hy ook die leiding, beskerming en sorg nodig het van Iemand wat baie wyser en magtiger is as enige mens? Hy het ongetwyfeld dikwels sulke gedagtes in gebed uitgespreek, en sy geloof het gevolglik bly groei.

14, 15. Hoe het Jehovah se beloftes Abel baie gegee om oor te peins?

14 Jehovah se beloftes. Adam en Eva het hulle seuns sekerlik vertel van die gebeure in die tuin van Eden wat daartoe gelei het dat hulle daaruit verdryf is. Abel het dus baie gehad om oor te peins.

15 Jehovah het gesê dat die grond vervloek sou wees. Abel kon duidelik die dorings en dissels sien wat hierdie woorde vervul het. Jehovah het ook voorspel dat swangerskap en kindergeboorte vir Eva pynlik sou wees. Toe sy nog kinders gekry het, het Abel ongetwyfeld gesien dat ook hierdie woorde vervul word. Jehovah het vooruitgesien dat Eva ’n ongebalanseerde begeerte sou hê na haar man se liefde en aandag en dat Adam haar sou oorheers. Abel het hierdie droewige werklikheid voor sy oë sien afspeel. In elkeen van hierdie gevalle het Abel gesien dat Jehovah se woord heeltemal betroubaar is. Abel het dus grondige redes gehad om geloof te stel in God se belofte van ’n “saad”, of nageslag, wat eendag alles sou regstel wat in Eden skeefgeloop het.—Gen. 3:15-19.

16, 17. Wat het Abel moontlik by Jehovah se gerubs geleer?

16 Jehovah se knegte. Abel het geen goeie voorbeelde onder die mensegesin gehad nie, maar mense was destyds nie die enigste intelligente skepsele op die aarde nie. Toe Adam en Eva uit die tuin verdryf is, het Jehovah seker gemaak dat nie hulle of hulle nakomelinge toegang tot daardie aardse Paradys sou verkry nie. Om die ingang te bewaak, het Jehovah gerubs—engele met ’n baie hoë rang—sowel as die vlammende lem van ’n immer draaiende swaard daar geplaas.—Lees Genesis 3:24.

17 Stel jou voor hoe dit moes gewees het vir Abel om hierdie gerubs te sien toe hy ’n seun was. Die voorkoms van hierdie gematerialiseerde engele het ongetwyfeld getuig van groot krag. En die immer vlammende, draaiende “swaard” was ook ontsagwekkend. Het Abel, terwyl hy grootgeword het, ooit gesien dat hierdie gerubs verveeld raak en hulle pos verlaat? Nee. Dag en nag, jaar ná jaar, dekade ná dekade het hierdie intelligente, kragtige skepsele op hulle pos gebly. So het Abel geleer dat Jehovah God regverdige, standvastige knegte het. In hierdie gerubs het Abel ’n voorbeeld van lojaliteit en gehoorsaamheid aan Jehovah gesien wat hy nie in sy gesin gesien het nie. Die voorbeeld van hierdie engele het ongetwyfeld sy geloof versterk.

Abel kon sy hele lewe lank sien dat die gerubs getroue en gehoorsame knegte van Jehovah is

18. Watter stewige grondslag het ons vandag waarop ons ons geloof kan bou?

18 Omdat Abel gepeins het oor alles wat Jehovah oor homself geopenbaar het deur middel van die skepping, goddelike beloftes en die voorbeeld van Sy engeleknegte, het Abel se geloof al hoe sterker geword. Sy voorbeeld spreek tot ons, nie waar nie? Veral jongmense sal dit dalk gerusstellend vind om te weet dat hulle ware geloof in Jehovah God kan opbou, ongeag wat hulle gesinslede doen. Die wonders van die skepping om ons en die hele Bybel wat tot ons beskikking is, sowel as talle menslike voorbeelde van geloof, gee ons vandag ’n stewige grondslag waarop ons ons geloof kan bou.

Abel se offer—Waarom dit voortreflik was

19. Watter belangrike waarheid het Abel met verloop van tyd begryp?

19 Abel se geloof in Jehovah het toegeneem, en nou het hy ’n manier gesoek om bewys te lewer van sy geloof. Maar wat kon ’n blote mens aan die Skepper van die heelal gee? God het beslis nie enige gawe of hulp van mense nodig nie. Met verloop van tyd het Abel ’n belangrike waarheid begryp: As hy eenvoudig die beste wat hy het—met die regte beweegrede—as offer aan Jehovah bring, sal dit sy liefdevolle hemelse Vader behaag.

Abel het sy offerande in geloof gebring; Kain het nie

20, 21. Watter offer het Kain en Abel onderskeidelik aan Jehovah gebring, en hoe het hy daarop gereageer?

20 Abel het besluit om van die skape van sy kudde te offer. Hy het die beste, die eerstelinge, en die dele wat hy as die beste beskou het, gekies. Intussen het Kain ook God se seën en guns probeer verkry, en hy het besluit om van die opbrengs van sy grond te offer. Maar sy beweegredes was anders as dié van Abel. Die verskil het duidelik geword toe die broers hulle offers gebring het.

21 Albei seuns van Adam het moontlik ’n altaar en vuur vir hulle offers gebruik, dalk waar die gerubs, die enigste lewende verteenwoordigers van Jehovah destyds op die aarde, hulle kon sien. Jehovah het daarop gereageer! Ons lees: “Jehovah [het] Abel en sy offer gunstig aangesien” (Gen. 4:4). Die Bybel sê nie hoe God sy guns getoon het nie.

22, 23. Waarom het Jehovah Abel se offer gunstig aangesien?

22 Waarom was Abel se offer vir God beter? Was dit die offer self? Wel, Abel het ’n lewende dier geoffer, waarvan die kosbare lewensbloed uitgestort is. Het Abel besef hoe waardevol so ’n offerande sou wees? Eeue ná Abel se tyd het God die offerande van ’n smetlose lam gebruik om die offerande af te beeld van Sy volmaakte Seun, “die Lam van God”, wie se onskuldige bloed uitgestort sou word (Joh. 1:29; Eks. 12:5-7). Maar Abel het sekerlik min van hierdie dinge geweet of verstaan.

23 Wat ons wel weet, is: Abel het die beste geoffer van wat hy gehad het. Jehovah het nie net die offer gunstig aangesien nie, maar ook die man. Abel is beweeg deur liefde vir Jehovah en ware geloof in hom.

24. (a) Waarom sê ons dat daar niks fout was met Kain se offer op sigself nie? (b) In watter opsig was Kain soos baie mense van vandag?

24 Dit was nie die geval met Kain nie. Jehovah het “Kain en sy offer glad nie gunstig aangesien nie” (Gen. 4:5). Daar was niks fout met Kain se offer op sigself nie; God se Wet het later die voorsiening gemaak dat landbouprodukte geoffer kon word (Lev. 6:14, 15). Maar die Bybel sê van Kain dat “sy eie werke goddeloos was”. (Lees 1 Johannes 3:12.) Soos baie mense van vandag, het Kain klaarblyklik gedink dat die blote uiterlike vertoon van toegewydheid aan God genoeg is. Sy gebrek aan ware geloof in Jehovah of enige liefde vir hom het gou uit sy dade geblyk.

25, 26. Watter waarskuwing het Jehovah Kain gegee, maar wat het Kain gedoen?

25 Het Kain, toe hy sien dat hy nie Jehovah se guns verkry het nie, uit Abel se voorbeeld probeer leer? Nee. Hy is met haat vir sy broer vervul. Jehovah het gesien wat in Kain se hart aangaan en het geduldig met hom probeer redeneer. Hy het Kain gewaarsku dat sy weg tot ernstige sonde sou lei, en Hy het Kain die vooruitsig op “’n verheffing” gebied as hy maar net sy weë sou verander.—Gen. 4:6, 7.

26 Kain het God se waarskuwing geïgnoreer. Hy het eerder sy niksvermoedende jonger broer genooi om saam met hom in die veld te gaan stap. Daar het Kain Abel aangeval en hom vermoor (Gen. 4:8). In sekere sin het Abel sodoende die eerste slagoffer van godsdiensvervolging geword, die eerste martelaar. Hy was dood, maar dit was nog lank nie die einde van sy verhaal nie.

27. (a) Waarom kan ons seker wees dat Abel ’n opstanding sal kry? (b) Hoe kan ons seker maak dat ons Abel eendag ontmoet?

27 In figuurlike sin het Abel se bloed na Jehovah God toe uitgeroep om wraak, of geregtigheid. En God het toegesien dat geregtigheid geskied deur die goddelose Kain vir sy misdaad te straf (Gen. 4:9-12). Nog belangriker, die verslag van Abel se geloof spreek vandag tot ons. Sy lewe—wat miskien ongeveer honderd jaar geduur het—was kort vir mense van daardie tyd, maar hy het sy jare op hierdie aarde goed gebruik. Hy het gesterf met die wete dat hy die liefde en goedkeuring van sy hemelse Vader, Jehovah, het (Heb. 11:4). Ons kan dus seker wees dat hy veilig in Jehovah se onbeperkte geheue is en op ’n opstanding tot lewe in ’n aardse paradys wag (Joh. 5:28, 29). Sal jy hom daar ontmoet? Jy kan as jy vasbeslote is om te luister wanneer Abel tot ons spreek en om sy uitsonderlike geloof na te volg.

^ par. 5 Die uitdrukking “die grondlegging van die wêreld” bevat die gedagte van die neerwerping van saad, wat op voortplanting dui; dit hou dus verband met die eerste menslike nakomelinge. Maar waarom het Jesus Abel met “die grondlegging van die wêreld” verbind en nie Kain, die eerste mens wat gebore is nie? Kain se besluite en dade het neergekom op opsetlike opstand teen Jehovah God. Kain, soos sy ouers, sal blykbaar nie vir ’n opstanding en verlossing in aanmerking kom nie.