Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 02

Die Bybel gee ons hoop vir die toekoms

Die Bybel gee ons hoop vir die toekoms

Mense regoor die wêreld het probleme wat hulle hartseer en angstig maak en selfs vir hulle pyn veroorsaak. Was jy al ooit in ’n situasie wat jou so laat voel het? Dalk gaan jy deur ’n baie moeilike tyd omdat jy siek is of omdat iemand vir wie jy lief is, doodgegaan het. Jy vra dalk: ‘Sal die lewe ooit beter word?’ Dit sal jou baie help as jy weet wat die Bybel se antwoord op daardie vraag is.

1. Hoe gee die Bybel ons hoop vir die toekoms?

Die Bybel verduidelik hoekom daar so baie probleme in die wêreld is. Dit gee ook vir ons die goeie nuus dat dinge nie vir ewig so sal aanhou nie en dat God binnekort al hierdie probleme sal wegvat. Die beloftes in die Bybel kan jou “’n toekoms en ’n hoop” gee. (Lees Jeremia 29:​11, 12.) Hierdie beloftes help ons om ons probleme te hanteer en positief te wees, en dit wys dat ons vir ewig gelukkig sal wees.

2. Watter soort toekoms word in die Bybel beskryf?

Die Bybel belowe die volgende vir die toekoms: “Die dood sal nie meer daar wees nie. Daar sal geen getreur, geen gehuil en geen pyn meer wees nie.” (Lees Openbaring 21:4.) Daar is baie probleme wat mense vandag hopeloos kan laat voel. Mense is arm, word onregverdig behandel, word siek en gaan dood, maar hierdie probleme sal nie meer daar wees nie. Die Bybel belowe dat mense die lewe vir ewig in ’n paradys op die aarde sal kan geniet.

3. Hoe kan ons seker wees dat die beloftes in die Bybel sal waar word?

Baie mense hoop dat goeie dinge sal gebeur, maar hulle kan nie seker wees dat hierdie dinge ooit sal gebeur nie. Die beloftes in die Bybel is anders. As jy “die Skrif . . . deeglik ondersoek”, kan dit jou help om te sien dat die Bybel se beloftes waar sal word (Handelinge 17:​11). Wanneer jy die Bybel studeer, sal jy self kan besluit of jy kan glo wat dit oor die toekoms sê.

SOEK DIEPER

Kyk na ’n paar van die beloftes wat die Bybel vir die toekoms maak. Kom ons kyk hoe die hoop wat die Bybel gee, mense vandag help.

4. Die Bybel belowe dat ons vir ewig kan lewe sonder enige probleme

Kyk na die volgende lys beloftes in die Bybel. Van watter beloftes hou jy die meeste? Hoekom?

Lees die tekste langs hierdie beloftes, en beantwoord die volgende vrae:

  • Dink jy dat hierdie tekste jou hoop kan gee? Kan dit jou familie en vriende hoop gee?

Verbeel jou jy lewe in ’n wêreld waar

NIEMAND . . .

ALMAL . . .

  • pyn voel, oud word of doodgaan nie. – Jesaja 25:8.

  • sien hoe hulle familie en vriende wat gesterf het, opgewek word en weer op die aarde lewe. – Johannes 5:​28, 29.

  • gesond, jonk en vol energie is. – Job 33:25.

  • ly as gevolg van pynlike herinneringe of negatiewe gedagtes nie. – Jesaja 65:17.

  • vir ewig in perfekte omstandighede lewe. – Psalm 37:29.

5. Die beloftes in die Bybel kan ’n verskil maak

Baie mense raak mismoedig of selfs kwaad wanneer hulle die probleme rondom hulle sien. Party mense probeer baie hard en veg selfs om dinge beter te maak. Kyk hoe die Bybel se belofte dat dinge beter sal word, mense nou al help. Speel die VIDEO, en bespreek dan die volgende vrae.

  • Watter onregverdige behandeling het Rafika gepla?

  • Hoe het die Bybel haar gehelp, al het die onregverdige behandeling wat sy gesien het, nie weggegaan nie?

Die hoop wat die Bybel vir die toekoms gee, kan ons help wanneer ons mismoedig is, en dit kan ons ook help om ons probleme suksesvol te hanteer. Lees Spreuke 17:22 en Romeine 12:​12, en bespreek dan hierdie vrae:

  • Dink jy dat die Bybel se boodskap van hoop nou ’n verskil in jou lewe kan maak? Hoekom?

PARTY MENSE SÊ: “Die Bybel se beloftes vir die toekoms is te goed om waar te wees.”

  • Hoekom dink jy dat dit belangrik is om self na die feite te kyk?

WAT ONS GELEER HET

Die Bybel gee ons hoop en help ons om probleme te hanteer deur ons ’n gelukkige toekoms te belowe.

Hersiening

  • Hoekom het mense hoop nodig?

  • Wat sê die Bybel oor die toekoms?

  • Hoe kan dit jou nou help as jy ’n hoop vir die toekoms het?

Doelwit

LEER MEER

Vind uit hoe hoop jou kan help wanneer jy probleme het.

“Hoop​—Waar kan jy dit vind?” (Ontwaak!, 22 April 2004)

Kyk hoe hoop vir die toekoms mense kan help wat aan ’n chroniese siekte ly.

“Kan die Bybel my help as ek aan ’n chroniese siekte ly?” (Web-artikel)

Kyk na hierdie musiekvideo, en verbeel jou dat jy en jou gesin die lewe geniet in die Paradys wat die Bybel vir die toekoms belowe.

Ek dink aan ’n tyd (3:​37)

Lees hoe iemand wat vir maatskaplike verandering geveg het, se lewe verander het toe hy geleer het van die Bybel se hoop vir die toekoms.

“Ek voel nie meer dat ek die wêreld moet verander nie” (Die Wagtoring, 1 Julie 2013)