Spring na inhoud

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

“Dit het gelyk of ek alles het waarvoor ek ooit kon hoop”

“Dit het gelyk of ek alles het waarvoor ek ooit kon hoop”
  • GEBORE: 1962

  • GEBOORTELAND: Kanada

  • GESKIEDENIS: Onsedelike lewe

MY VERLEDE

 Ek is in Montreal gebore, die grootste stad in die Kanadese provinsie Quebec. Ek en my ouer suster en twee jonger broers is in die mooi gebied van Rosemont deur liefdevolle ouers grootgemaak. Ons het ’n stil en gelukkige lewe gehad.

 As ’n jong seun het ek in die Bybel belanggestel. Ek onthou toe ek 12 jaar oud was, het ek in die Nuwe Testament oor Jesus se lewe gelees en dit baie geniet. Ek is geraak deur sy liefde en meegevoel vir ander en ek wou net soos hy wees. Ongelukkig het hierdie begeerte geleidelik verdwyn soos ek ouer geword het en met verkeerde mense vriende gemaak het.

 My pa was ’n professionele saksofoonspeler. Hy het my nie net sy instrument gegee nie, maar ook ’n eindelose liefde vir musiek. Dit het my fokus in die lewe geword. Ek het musiek so baie geniet dat ek geleer het om kitaar te speel. Ek het ’n rockgroep met ’n paar vriende begin, en ons het by ’n paar plekke opgetree. Party welbekende mense in die musiekbedryf het ons musiek gehoor en het my ’n aanbod gemaak. Ek het ’n musiekkontrak met ’n groot platemaatskappy geteken. My musiek het nogal bekend geword en is gereeld op die radio in Quebec gespeel.

 Dit het gelyk of ek alles het waarvoor ek ooit kon hoop. Ek was jonk, beroemd en het baie geld gemaak deur te doen waarvoor ek lief is. Deur die dag het ek gym toe gegaan, onderhoude gevoer, my handtekening uitgegee en was ek op televisie. Maar in die aand het ek by plekke opgetree en partytjie gehou. Toe ek jonger was, het ek gedrink sodat ek nie so senuweeagtig voor al die mense sou wees nie. Maar later het ek dwelms begin gebruik. Ek was wild en het rondgeslaap.

 Baie mense wou soos ek lewe omdat dit gelyk het of ek gelukkig is. Maar diep binne-in my was daar ’n leemte, en ek het dit veral gevoel wanneer ek alleen was. Ek was depressief en angstig. Toe ek die toppunt van my sukses bereik het, het twee van my produksieleiers aan vigs gesterf. Ek was geskok! Alhoewel ek lief was vir musiek, was hierdie lewenstyl vir my walglik.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET

 Al was ek suksesvol, het ek besef dat daar iets fout is met die wêreld. Hoe kan daar soveel ongeregtigheid wees? Ek het gewonder hoekom God niks hieraan doen nie. Ek het gereeld tot God gebid vir antwoorde. Toe my musiektoere ’n tyd lank gestop het, het ek weer begin om die Bybel te lees. Alhoewel ek die meeste van die dinge wat ek gelees het, nie regtig verstaan het nie, kon ek aflei dat die einde van die wêreld naby is.

 Terwyl ek die Bybel gelees het, het ek uitgevind dat Jesus eenkeer meer as 40 dae lank gevas het (Matteus 4:1, 2). Ek het gedink dat God dalk vir my sou wys wie hy is as ek dieselfde doen. Ek het toe op ’n datum besluit om te begin vas. Twee weke voordat ek begin vas het, het twee van Jehovah se Getuies aan my deur geklop. Ek het hulle toe ingenooi asof ek hulle verwag het. Een van die Getuies se naam was Jacques. Ek het hom in die oë gekyk en gevra: “Hoe weet ons dat ons in die laaste dae van hierdie wêreld lewe?” Hy het toe sy Bybel oopgemaak en 2 Timoteus 3:1-5 gelees. Hierna het ek hulle met baie ander vrae gebombardeer. Ek was beïndruk met die antwoorde wat hulle my gegee het. Dit het sin gemaak en het altyd uit die Bybel gekom. Nadat hulle ’n paar keer by my was, het ek besef dat dit nie nodig is om te vas nie.

 Ek het die Bybel gereeld met die Getuies begin studeer. Ná ’n tydjie het ek my lang hare geknip en al die vergaderinge by die Koninkryksaal begin bywoon. Hier het die mense my vriendelik verwelkom, en dit het my nog meer oortuig dat ek uiteindelik die waarheid gekry het.

 Ek moes groot veranderinge in my lewe maak sodat my lewe met die Bybel kon ooreenstem. Ek moes ophou om dwelms te gebruik en rond te slaap. Ek moes ook wys dat ek vir ander omgee en nie net aan myself dink nie. As ’n enkelouer moes ek leer om emosioneel en geestelik na my twee kinders om te sien. Ek het toe my musiekloopbaan agtergelaat en by ’n fabriek begin werk waar ek baie min geld verdien het.

 Om hierdie veranderinge te maak, was nie maklik nie. Ek het hard probeer om op te hou dwelms te gebruik, maar ek het gesukkel met onttrekkingsimptome en het ’n paar keer weer dwelms gebruik (Romeine 7:19, 21-24). Dit was veral moeilik om op te hou om onsedelik te lewe. My nuwe werk het my ook baie moeg gemaak, en dit het my moedeloos gemaak om so min te verdien. Dit het my drie maande geneem om dieselfde geld te maak as wat ek in net twee uur as ’n musikant gemaak het.

 Gebed het my gehelp om dit reg te kry om hierdie moeilike veranderinge te maak. Ek het ook gevind dat dit baie belangrik is om die Bybel gereeld te lees. Spesifieke Bybelverse het my baie aangemoedig. Een van die verse is 2 Korintiërs 7:1 wat Christene aanspoor om hulle “van elke verontreiniging van die vlees en die gees [te] reinig”. ’n Ander vers wat my verseker het dat dit moontlik is om van hierdie slegte gewoontes ontslae te raak, is Filippense 4:13 wat sê: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.” Jehovah God het my gebede beantwoord en my gehelp om uiteindelik die Bybel te verstaan en te doen wat dit sê. Dit het gemaak dat ek my lewe aan hom toewy (1 Petrus 4:1, 2). In 1997 is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop.

HOE DIT MY LEWE BETER GEMAAK HET

 Ek glo vas dat ek vandag dood sou gewees het as ek nie my lewe verander het nie. Maar nou geniet ek ’n gelukkige lewe! My wonderlike vrou, Elvie, is regtig ’n seën van Jehovah af. Ons geniet dit om saam as voltydse dienaars ander mense van die Bybel te leer. Dit maak my regtig gelukkig en gee my innerlike vrede. Ek is regtig dankbaar dat Jehovah my getrek het. — Johannes 6:44.