Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DIE BYBEL VERANDER LEWENS

“My gedrag was aanstootlik”

“My gedrag was aanstootlik”
  • GEBORE: 1960

  • GEBOORTELAND: FINLAND

  • GESKIEDENIS: HEAVY METAL-MUSIKANT

MY VERLEDE:

Ek het grootgeword in ’n arbeidersbuurt in die hawestad Turku. My pa was ’n bokskampioen, en ek en my jonger broer het ook geboks. Op skool is ek dikwels uitgedaag tot ’n geveg, en ek het nooit gehuiwer om my vuiste te gebruik nie. As ’n tiener het ek by ’n berugte bende aangesluit, met die gevolg dat ek by selfs gewelddadiger gevegte betrokke geraak het. Ek het ook van heavy metal-musiek begin hou, en ek het daarvan begin droom om ’n rockster te word.

Ek het ’n stel tromme gekoop, ’n rockgroep gevorm en was kort voor lank die hoofsanger van die groep. Ek het daarvan gehou om wild te kere te gaan op die verhoog. Omdat ons groep aggressief was en ’n wilde voorkoms gehad het, het ons mettertyd heelwat publisiteit gekry. Ons het voor groot gehore begin optree en ons het ’n paar opnames gemaak, waarvan die laaste een gunstige resensies gekry het. In die laat 1980’s het ons na die Verenigde State gereis om ons groep te bevorder. Ons het ’n paar keer in New York en in Los Angeles opgetree en het goeie kontakte in die musiekbedryf gekry voordat ons na Finland teruggekeer het.

Hoewel ek dit geniet het om deel van die rockgroep te wees, het ek na ’n sinvoller lewe gesmag. Die hardvogtigheid van mense in die musiekbedryf het my ontnugter, en my oppervlakkige lewenswyse het my begin frustreer. Ek het gedink dat ek ’n slegte persoon is, en ek was bang dat ek in die helse vuur sou brand. Ek het antwoorde in allerhande geestelike boeke probeer vind en het ook vurig tot God gebid, hoewel ek gedink het dat ek hom nooit sou kon behaag nie.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

Om my te onderhou, het ek by die plaaslike poskantoor gewerk. Eendag het ek uitgevind dat ’n werksmaat een van Jehovah se Getuies is. Ek het hom met vrae bestook. Sy logiese, skriftuurlike antwoorde het my belangstelling gewek, en daarom het ek ingestem om die Bybel saam met hom te studeer. Nadat ek ’n paar weke gestudeer het, is my rockgroep ’n aantreklike opnamekontrak aangebied met die moontlikheid om ’n album  in die Verenigde State vry te stel. Ek het gedink dat dit ’n unieke geleentheid is.

Ek het vir die Getuie wat met my gestudeer het, gesê dat ek nog een album wou maak en dat ek daarna ’n ernstige poging sou aanwend om Bybelbeginsels in my lewe toe te pas. Hy het nie sy mening hieroor uitgespreek nie; hy het my bloot gevra om Jesus se woorde in Matteus 6:24 te lees. Die vers sê: “Niemand kan twee here as slaaf dien nie.” Ek was verstom toe ek besef wat Jesus se woorde beteken. Maar ná ’n paar dae was dit my Bybelonderrigter se beurt om verstom te wees! Ek het vir hom gesê dat ek die groep verlaat het omdat ek Jesus wil volg!

Die Bybel was soos ’n spieël wat my my foute duidelik laat sien het (Jakobus 1:22-25). Ek het gesien dat my gedrag aanstootlik is: Ek was trots en vol onversadigbare ambisie. Ek het slegte taal gebruik, en ek het baklei, gerook en straf gedrink. Toe ek besef het dat my lewenswyse reëlreg in stryd is met Bybelbeginsels, het dit gevoel asof ek my teen ’n muur vasgeloop het. Maar ek was bereid om die nodige veranderinge aan te bring.—Efesiërs 4:22-24.

‘Ons hemelse Vader is barmhartig, en hy wil die wonde genees van diegene wat oor hulle foute berou het’

Veral aan die begin was ek oorweldig deur gewetenswroeging oor my vorige sondes. Maar die Getuie wat met my gestudeer het, het my baie gehelp. Hy het vir my gewys wat die Bybel in Jesaja 1:18 sê: “Al sou julle sondes soos skarlaken wees, dit sal wit soos sneeu gemaak word.” Hierdie en ander Bybelverse het my daarvan oortuig dat ons hemelse Vader barmhartig is en die wonde wil genees van diegene wat oor hulle foute berou het.

Toe ek Jehovah as ’n Persoon leer ken en liefkry het, wou ek my lewe aan hom toewy (Psalm 40:8). Ek is in 1992 gedoop by ’n internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in St. Petersburg, Rusland.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Ek het talle goeie vriende gemaak onder Jehovah se aanbidders. Nou en dan kom ons bymekaar om goeie musiek te maak en hierdie gawe van God te geniet (Jakobus 1:17). My huwelik met my geliefde vrou, Kristina, is vir my ’n spesiale seën. Ek en sy het al baie dinge saam ervaar, insluitende die vreugdes en uitdagings van die lewe. Sy is die persoon wat ek van my diepste gevoelens vertel.

As ek nie een van Jehovah se Getuies geword het nie, sou ek vandag dalk al dood gewees het. In die verlede het ek die een probleem en krisis ná die ander gehad. Nou het ek ’n ware doel in die lewe, en dit maak my lewe sinvol.