Spring na inhoud

Waarom verskil die manier waarop Jehovah se Getuies die Here se Aandmaal herdenk, van hoe ander godsdienste dit doen?

Waarom verskil die manier waarop Jehovah se Getuies die Here se Aandmaal herdenk, van hoe ander godsdienste dit doen?

 Ons bly streng by die Bybel wanneer dit kom by hoe ons die “Here se aandmaal” herdenk, wat ook as die Nagmaal en die Herdenking van Jesus se dood bekend staan (1 Korintiërs 11:20). In teenstelling hiermee is baie van die opvattings en gebruike van ander kerke in verband met hierdie herdenking nie op die Bybel gebaseer nie.

Die doel

 Die doel van die Here se Aandmaal is om Jesus te onthou en om dankbaarheid vir sy offerande te betoon (Matteus 20:28; 1 Korintiërs 11:24). Die herdenking is nie ’n sakrament, of godsdiensgebruik wat genade of die vergifnis van sondes bewerkstellig nie. a Die Bybel leer dat ons sondes vergewe kan word, nie deur middel van ’n godsdiensseremonie nie, maar slegs deur geloof in Jesus.—Romeine 3:25; 1 Johannes 2:1, 2.

Hoe dikwels?

 Jesus het sy dissipels beveel om die Here se Aandmaal te herdenk, maar hy het nie spesifiek gesê hoe dikwels dit gedoen moet word nie (Lukas 22:19). Party dink dat dit elke maand herdenk moet word. Ander herdenk dit weekliks, daagliks, ’n paar keer per dag of so dikwels as wat hulle dink gepas is. b Maar daar is ’n paar feite wat ons in gedagte moet hou.

 Jesus het die Here se Aandmaal op die datum van die Joodse Pasga ingestel, en hy het later dieselfde dag gesterf (Matteus 26:1, 2). Dit was nie per toeval nie. Die Skrif vergelyk Jesus se offerande met dié van die Pasgalam (1 Korintiërs 5:7, 8). Die Pasga is een keer per jaar gehou (Eksodus 12:1-6; Levitikus 23:5). Die vroeë Christene het die Herdenking van Jesus se dood ook een keer per jaar gehou, en Jehovah se Getuies volg hierdie Bybelse patroon. c

Die dag en tyd

 Die dag en tyd waarop Jesus die Gedenkmaal ingestel het, help ons om te sien hoe dikwels dit gehou moet word asook om die dag en tyd te bepaal. Hy het die herdenking ná sononder op 14 Nisan 33 HJ, volgens die Bybel se maankalender, ingestel (Matteus 26:18-20, 26). Ons hou die Gedenkmaal elke jaar op hierdie datum, in navolging van die vroeë Christene. d

 Hoewel 14 Nisan 33 HJ ’n Vrydag was, sal die herdenking van daardie datum moontlik elke jaar op ’n ander dag van die week val. Ons bepaal die datum waarop 14 Nisan elke jaar val deur dieselfde metode te gebruik wat in die tyd van Jesus gebruik is, eerder as om die metode te volg wat vir die hedendaagse Joodse kalender gebruik word. e

Die brood en die wyn

 Jesus het ongesuurde brood en rooiwyn gebruik wat ná die Pasgamaal oor was (Matteus 26:26-28). In navolging van sy voorbeeld gebruik ons brood wat geen suurdeeg of ekstra bestanddele bevat nie en gewone rooiwyn, nie druiwesap of wyn wat versoet is, versterk is of kruie bevat nie.

 Party kerke gebruik brood waarin daar suurdeeg of gis is, maar in die Bybel stel suurdeeg dikwels sonde en verdorwenheid voor (Lukas 12:1; 1 Korintiërs 5:6-8; Galasiërs 5:7-9). Daarom kan net brood wat geen suurdeeg of ander bymiddels bevat nie, ’n gepaste simbool wees vir Christus se sondelose liggaam (1 Petrus 2:22). Nog ’n gebruik wat nie deur die Bybel ondersteun word nie, is om wyn met ongegiste druiwesap te vervang. Party kerke doen dit as gevolg van ’n onskriftuurlike opvatting wat die gebruik van alkohol verbied.—1 Timoteus 5:23.

Embleme, nie letterlike vlees en bloed nie

 Die ongesuurde brood en rooiwyn wat by die Gedenkmaal gebruik word, is embleme, of simbole, van Christus se vlees en bloed. Dit word nie wonderdadig in sy vlees en bloed verander of daarmee vermeng, soos party dink nie. Kyk na wat die Bybel hieroor sê.

  •   As Jesus sy dissipels beveel het om sy bloed te drink, sou dit beteken dat hy hulle beveel om God se wet te verbreek om hulle van bloed te onthou (Genesis 9:4; Handelinge 15:28, 29). Maar dit is nie moontlik nie, want Jesus sou nooit vir ander sê om God se wet oor die heiligheid van bloed te verbreek nie.—Johannes 8:28, 29.

  •   As die apostels letterlik Jesus se bloed gedrink het, sou hy nie gesê het dat sy bloed “vir baie uitgestort sal word” nie, wat getoon het dat sy offerande nog moes plaasvind.—Matteus 26:28.

  •   Jesus het hom “eens en vir altyd” geoffer (Hebreërs 9:25, 26). Maar as die brood en wyn tydens die Here se Aandmaal in sy vlees en bloed verander word, sou dit beteken dat hy hom herhaaldelik offer.

  •   Jesus het gesê: “Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen”, nie “tot offerande van my” nie.—1 Korintiërs 11:24.

 Diegene wat glo aan transsubstansiasie, dat die brood en wyn Jesus se letterlike liggaam en bloed word, baseer hierdie lering op die bewoording van sekere Bybelverse. In baie Bybelvertalings word Jesus se woorde aangaande die wyn soos volg vertaal: “Dit is my bloed” (Matteus 26:28). Maar Jesus se woorde kan ook weergegee word as: “Dit beteken my bloed” of “Dit stel my bloed voor”. f Jesus het onderrig deur ’n vergelyking te gebruik, soos hy dikwels gedoen het.—Matteus 13:34, 35.

Wie gebruik die embleme?

 Wanneer Jehovah se Getuies die Here se Aandmaal hou, gebruik net ’n klein persentasie van ons van die brood en die wyn. Waarom?

 Jesus se vergote bloed het “’n nuwe verbond” in werking gestel wat die verbond tussen Jehovah God en die eertydse nasie van Israel vervang het (Hebreërs 8:10-13). Diegene wat in hierdie nuwe verbond is, gebruik die Gedenkmaalembleme. Dit sluit nie alle Christene in nie, maar net “dié wat [op ’n spesiale manier] geroep is” deur God (Hebreërs 9:15; Lukas 22:20). Hulle sal in die hemel heers met Christus, en die Bybel sê dat net 144 000 mense hierdie voorreg ontvang.—Lukas 22:28-30; Openbaring 5:9, 10; 14:1, 3.

 Die oorgrote meerderheid van ons is nie deel van die “klein kuddetjie” wat geroep is om met Christus te heers nie. Ons het die vooruitsig om deel te wees van “’n groot menigte” wat vir ewig op die aarde sal lewe (Lukas 12:32; Openbaring 7:9, 10). Hoewel dié van ons wat die aardse hoop het, nie die Gedenkmaalembleme gebruik nie, woon ons ook die Gedenkmaal by om ons dankbaarheid vir Jesus se offerande te toon.—1 Johannes 2:2.

a McClintock en Strong se Cyclopedia, Deel IX, bladsy 212 sê: “Die term sakrament word nie in die N[uwe] T[estament] gevind nie; en die Griekse woord μυστήριον [my·steʹri·on] word nooit gebruik om na doop of die Here se aandmaal of enige ander seremonie te verwys nie.”

b Party Bybelvertalings gebruik die frase “so dikwels as” met verwysing na die Here se Aandmaal, en dit word beskou as ’n aanduiding van hoe dikwels die geleentheid herdenk moet word. Maar in hierdie konteks is die korrekte betekenis van die term in die oorspronklike taal “wanneer” of “elke keer”.—1 Korintiërs 11:25, 26, New International Version; Good News Translation.

c Sien The New Schaff-Herzog Encyclopedia of Religious Knowledge, Deel IV, bladsy 43-​44 en McClintock en Strong se Cyclopedia, Deel VIII, bladsy 836.

d Sien The New Cambridge History of the Bible, Deel 1, bladsy 841.

e Die hedendaagse Joodse kalender gebruik die sterrekundige nuwe maan om die begin van die maand Nisan te bepaal, maar dit is nie die metode wat in die eerste eeu gebruik is nie. Die maand het eerder begin op die dag wat die nuwe maan in Jerusalem sigbaar geword het, wat ’n dag of meer ná die sterrekundige nuwe maan kan wees. Hierdie verskil is een rede waarom die datum waarop Jehovah se Getuies die Gedenkmaal hou, nie altyd ooreenstem met die datum waarop hedendaagse Jode die Pasga vier nie.

f Sien A New Translation of the Bible, deur James Moffatt; The New Testament​—A Translation in the Language of the People, deur Charles B. Williams; en The Original New Testament, deur Hugh J. Schonfield.