Spring na inhoud

Wanneer het God die heelal begin skep?

Wanneer het God die heelal begin skep?

Die Bybel se antwoord

 Die Bybel sê nie wanneer God die heelal begin skep het of hoe lank dit geneem het nie. Dit sê net: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep” (Genesis 1:1). Die Bybel sê nie spesifiek wanneer “die begin” plaasgevind het nie. Maar die volgorde van gebeure wat opgeteken is in Genesis, plaas dit voor die ses skeppingstydperke, of “dae”.

 Was die ses skeppingsdae letterlike dae van 24 uur?

 Nee. In die Bybel kan die woord “dag” na verskillende tydperke verwys, afhangend van die konteks. Byvoorbeeld, een deel van die verslag beskryf die hele skeppingstydperk as een dag. – Genesis 2:4.

 Wat het gedurende die ses skeppingsdae gebeur?

 God het die ‘vormlose en leë’ aarde in ’n bewoonbare planeet omskep (Genesis 1:2, voetnoot). Toe het hy lewe op aarde geskep. Die Bybel beskryf ses skeppingstydperke, of dae:

  •  Dag 1: God het gemaak dat lig die aarde se oppervlak bereik, wat siklusse van dag en nag veroorsaak het. – Genesis 1:3-5.

  •  Dag 2: God het ’n uitgestrekte lugruimte gevorm, of ’n skeiding tussen die water op die aarde se oppervlak en die water hoog bo die aarde se oppervlak. – Genesis 1:6-8.

  •  Dag 3: God het droë grond laat verskyn. Hy het ook plante geskep. – Genesis 1:9-13.

  •  Dag 4: God het die son, maan en sterre gemaak wat duidelik sigbaar was van die aarde se oppervlak. – Genesis 1:14-19.

  •  Dag 5: God het seediere en vlieënde diere geskep. – Genesis 1:20-23.

  •  Dag 6: God het landdiere en mense geskep. – Genesis 1:24-31.

 Aan die einde van die sesde dag het God van hierdie werk gerus, of opgehou om dinge te skep. – Genesis 2:1, 2.

 Is die Genesisverslag wetenskaplik akkuraat?

 Die Bybel se verslag van die skepping van die wêreld beweer nie dat dit ’n breedvoerige wetenskaplike verslag is nie. Dit beskryf eerder die skepping op so ’n manier dat lesers selfs in Bybeltye die basiese volgorde van gebeure maklik kon begryp. Die skeppingsverslag is nie in stryd met wat die wetenskap al bewys het nie. Sterrekundige Robert Jastrow skryf: “Die besonderhede verskil, maar die wesenlike elemente in die astronomiese weergawe en die Bybel se Genesisverhaal is dieselfde; die reeks gebeure wat gelei het tot die mens het skielik en onverwags op ’n bepaalde oomblik in tyd, begin.”

 Wanneer is die son, maan en sterre geskep?

 Die son, maan en sterre het alreeds as deel van “die hemel” bestaan wat in “die begin” geskep is (Genesis 1:1). Maar hulle lig het blykbaar nie die aarde se oppervlak bereik nie omdat die atmosfeer om die aarde baie dik was (Genesis 1:2). So al was gedempte lig sigbaar op die eerste dag, was dit nog nie moontlik om te sien waar die lig vandaan gekom het nie. op die vierde dag het die atmosfeer heel moontlik opgeklaar. Die Bybel sê dat die son, maan en sterre nou begin het “om op die aarde te skyn”. Dit beskryf blykbaar hoe dit gesien was uit die perspektief van iemand wat op die aarde is. – Genesis 1:17.

 Hoe oud is die aarde volgens die Bybel?

 Die Bybel sê nie vir ons hoe oud die aarde is nie. Genesis 1:1 sê net dat die fisiese heelal, insluitende die aarde, ’n begin gehad het. Hierdie stelling bots nie met grondige wetenskaplike beginsels of met wat wetenskaplikes glo oor die ouderdom van die aarde nie.