Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Genesis 1:1 – “In die begin het God die hemel en die aarde geskep”

Genesis 1:1 – “In die begin het God die hemel en die aarde geskep”

“In die begin het God die hemel en die aarde geskep.” – Genesis 1:1, Nuwe Wêreld-vertaling.

“In die begin het God die hemel en die aarde geskep.” – Genesis 1:1, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

Betekenis van Genesis 1:1

Die eerste woorde in die Bybel noem twee belangrike waarhede. Eerstens, die “hemel en die aarde”, of die fisiese heelal, het ’n begin gehad. Tweedens, dit was deur God geskep. – Openbaring 4:11.

Die Bybel sê nie hoe lank gelede God die heelal geskep het nie, en dit verduidelik ook nie hoe hy dit gedoen het nie. Maar dit verduidelik wel dat hy die heelal geskep het “weens die oorvloed van sy dinamiese energie en sy ontsaglike krag”. – Jesaja 40:26.

Die woord “geskep” is ’n vertaling van ’n Hebreeuse werkwoord wat gebruik word om iets te beskryf wat net deur God gedoen word. a In die Bybel word daar net na Jehovah b God verwys as die Skepper. – Jesaja 42:5; 45:18.

Konteks van Genesis 1:1

Die eerste vers van die boek Genesis lei die skeppingsverslag in wat in Genesis hoofstuk 1 en 2 gevind kan word. Van Genesis 1:1 tot 2:4 verduidelik die Bybel op ’n eenvoudige manier die dinge wat God gedoen het toe hy die aarde en alles wat daarop lewe, insluitende die eerste man en vrou, geskep het. Ná hierdie oorsig gee die Bybel meer besonderhede oor die skepping van die man en vrou. – Genesis 2:7-25.

Genesis beskryf God se skeppingswerk as iets wat oor ’n tydperk van ses “dae” gebeur het. Dit was nie letterlike dae van 24 uur nie, maar daar word ook nie gesê hoe lank hierdie tydperke was nie. So die woord “dag” kan toegepas word op tydperke wat nie noodwendig 24 uur lank is nie. Dit word gewys in Genesis 2:4 wat die woorde “dag” en “tyd” as sinonieme gebruik en beskryf alles wat God oor die vorige ses dae geskep het asof dit op een “dag” gebeur het.

Verkeerde idees oor Genesis 1:1

Verkeerde idee: God het die fisiese heelal ’n paar duisend jaar gelede geskep.

Feit: Die Bybel sê nie wanneer die heelal geskep is nie. Die woorde in Genesis 1:1 bots nie met wat wetenskaplikes vandag glo nie. Hulle glo dat die heelal miljarde jare oud is. c

Verkeerde idee: Genesis 1:1 wys dat God ’n Drie-eenheid is omdat die meervoud vir die Hebreeuse woord vir “God” in hierdie vers gebruik word.

Feit: Die titel “God” is ’n vertaling van die Hebreeuse woord ’Elo·himʹ, wat in die meervoud is om God se majesteit of grootheid aan te dui, nie ’n aantal persone nie. Die New Catholic Encyclopedia erken dat ’Elo·himʹ, wat in die meervoud in Genesis 1:1 gebruik word, “altyd met ’n werkwoord in die enkelvoud gebruik word. Dit wys dat die meervoud na grootheid verwys en nie na ’n aantal persone nie.” ­­– Tweede uitgawe, Deel 6, bladsy 272.

Lees Genesis hoofstuk 1 saam met verduidelikende voetnote en kruisverwysings.

a Die HCSB Study Bible sê oor hierdie woord: “In sy bedrywende vorm beskryf die Hebreeuse werkwoord bara’, wat ‘om te skep’ beteken, nooit iets wat ’n mens doen nie. So bara’ verwys na ’n werk wat net deur God gedoen word.” – Bladsy 7.

b Jehovah is die persoonlike naam van God. – Psalm 83:18.

c Wanneer daar verwys word na die tydperk wat deur die Hebreeuse uitdrukking vertaal word met “in die begin”, sê The Expositor’s Bible Commentary: “Die vertaling van die uitdrukking ‘in die begin’ sê nie hoe lank die tydperk was nie.”– Hersiene uitgawe, Deel I, bladsy 51.