Spring na inhoud

Is dit verkeerd om te rook?

Is dit verkeerd om te rook?

Die Bybel se antwoord

 Die Bybel praat nie van rook a of ander maniere om tabak te gebruik nie. Maar dit bevat beginsels wat wys dat God nie ongesonde en vuil gebruike goedkeur nie, en daarom beskou hy dit as verkeerd as mense rook.

  •   Respek vir lewe. ‘God gee aan almal lewe en asem’ (Handelinge 17:24, 25). Omdat lewe ’n geskenk van God is, moet ons niks doen wat ons lewe sal verkort, soos om te rook, nie. Regoor die wêreld is rook een van die hoofoorsake van sterftes wat voorkom kon word.

  •   Liefde vir jou naaste. “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matteus 22:39). Om rondom ander mense te rook, is nie liefdevol nie. Mense wat gereeld aan tweedehandse rook blootgestel word, staan ’n groter kans om dieselfde siektes as rokers te kry.

  •   Ons moet heilig wees. ‘Bied julle liggaam aan as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is’ (Romeine 12:1). “Laat ons ons van elke verontreiniging van die vlees en die gees reinig en heiligheid in die vrees van God tot volmaaktheid bring” (2 Korintiërs 7:1). Om te rook is onnatuurlik en pas nie by iemand wat heilig is nie, dit wil sê iemand wat skoon en rein is nie. Mense wat tabak gebruik, neem opsetlik gifstowwe in wat hulle liggaam ernstig beskadig.

Sê die Bybel iets oor die gebruik van dagga of ander dwelms vir ontspanning?

 Die Bybel verwys nie spesifiek na dagga of soortgelyke dwelms nie. Maar dit bevat wel beginsels wat wys dat dit verkeerd is om sulke verslawende middels vir ontspanning te gebruik. Behalwe vir die beginsels wat vroeër genoem is, is die volgende beginsels ook van toepassing:

  •   Ons moet in beheer wees van ons denkvermoë. “Jy moet Jehovah jou God liefhê met . . . jou hele verstand” (Matteus 22:37, 38). “Bly volkome nugter van verstand” (1 Petrus 1:13). ’n Persoon kan nie heeltemal reg dink as hy dwelms gebruik nie, en baie mense word selfs daaraan verslaaf. Al waaraan hulle dink, is om dwelms in te hande te kry en te gebruik. Hulle dink nie aan opbouende gedagtes nie. — Filippense 4:8.

  •   Gehoorsaamheid aan die land se wette. ‘Wees gehoorsaam aan regerings en owerhede’ (Titus 3:1). In baie lande is daar streng wette oor die gebruik van sekere dwelms. As ons God se hart wil bly maak, moet ons gehoorsaam wees aan hierdie wette. — Romeine 13:1.

a Om te rook verwys hier na iemand wat aspris tabakrook inasem deur middel van sigarette, sigare, pype of tabakpype wat met water werk. Maar die beginsels wat hier bespreek word, is ook van toepassing op iemand wat tabak kou of snuif, elektroniese sigarette rook wat nikotien bevat en soortgelyke produkte gebruik.