Spring na inhoud

Is God oral en alomteenwoordig?

Is God oral en alomteenwoordig?

Die Bybel se antwoord

 God kan alles sien en op enige plek enigiets doen (Spreuke 15:3; Hebreërs 4:13). Die Bybel leer egter nie dat God alomteenwoordig is nie​—met ander woorde dat hy oral en in alles is nie. Die Bybel wys eerder dat hy ’n persoon is en in ’n spesifieke plek woon.

  •   Hoe God lyk: God is ’n geespersoon (Johannes 4:24). Hy is onsigbaar vir mense (Johannes 1:18). Wanneer God in visioene in die Bybel beskryf word, sê dit keer op keer dat hy op ’n spesifieke plek is. Hy word nooit uitgebeeld as iemand wat oral bestaan nie.—Jesaja 6:1, 2; Openbaring 4:2, 3, 8.

  •   Waar God woon: God bestaan in die geesteryk, wat heeltemal verskil van die fisiese skepping. In hierdie geesteryk het God ’n “woonplek in die hemel” (1 Konings 8:30). Die Bybel sê dat geesskepsele op ’n keer “ingekom het om hulle plek voor Jehovah in te neem”. a Hieruit kan ons aflei dat God op ’n spesifieke plek woon.—Job 1:6.

As God nie alomteenwoordig is nie, kan hy dan regtig vir my omgee?

 Ja. God gee regtig om vir elkeen van ons. Al woon God in die geesteryk, sien hy nogtans diegene op aarde raak wat sy hart wil bly maak, en hy help hulle (1 Konings 8:39; 2 Kronieke 16:9). Kom ons kyk na maniere hoe Jehovah wys dat hy vir opregte aanbidders omgee:

  •   Wanneer jy bid: Sodra jy bid, kan Jehovah jou gebed hoor.—2 Kronieke 18:31.

  •   Wanneer jy mismoedig voel: “Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy.”—Psalm 34:18.

  •   Wanneer jy leiding nodig het: Jehovah “sal jou insig gee en jou onderrig” deur middel van sy Woord, die Bybel.—Psalm 32:8.

Wat mense sê oor alomteenwoordigheid

 Wat mense sê: God is oral in die skepping teenwoordig.

 Wat die Bybel sê: God woon nie op die aarde nie en ook nêrens anders in die fisiese heelal nie (1 Konings 8:27). Dit is waar dat die sterre en ander skeppingswerke ‘die heerlikheid van God bekend maak’ (Psalm 19:1). Maar net soos ’n skilder nie in sy skildery woon nie, woon God ook nie in sy skepping nie. Tog kan ’n skildery ons iets omtrent die skilder vertel. Net so vertel die sigbare skepping ons iets omtrent die Skepper se “onsigbare eienskappe” soos sy krag, wysheid en liefde.—Romeine 1:20.

 Wat mense sê: Vir God om almagtig te wees en alles te weet, moet hy alomteenwoordig wees.

 Wat die Bybel sê: God se heilige gees, of werkende krag, is God se krag in aksie. God kan deur middel van sy heilige gees alles raaksien. Hy kan ook enige tyd, op enige plek, enigiets doen sonder om self daar te wees.—Psalm 139:7.

 Wat mense sê: Psalm 139:8 wys dat God alomteenwoordig is wanneer dit sê: “As ek na die hemel sou opklim, sou u daar wees; en as ek my slaapbank in Sjeool sou uitsprei, kyk! u sou daar wees.”

 Wat die Bybel sê: Hierdie teks verwys nie na waar God is nie. Dit verduidelik eerder dat God ons kan help waar ons ook al is.

a Volgens die Bybel is God se naam Jehovah.