Spring na inhoud

Wat beteken dit om ‘jou vader en moeder te eer’?

Wat beteken dit om ‘jou vader en moeder te eer’?

Die Bybel se antwoord

 Die opdrag “eer jou vader en jou moeder” verskyn ’n hele paar keer in die Bybel (Eksodus 20:12; Deuteronomium 5:16; Matteus 15:4; Efesiërs 6:2, 3). Dit behels dat jy vier belangrike dinge moet doen.

  1.   Waardeer hulle. Jy eer jou pa en ma wanneer jy dankbaar is vir alles wat hulle vir jou gedoen het. Jy kan vir hulle wys dat jy hulle waardeer deur na hulle raad te luister (Spreuke 7:1, 2; 23:26). Die Bybel spoor ons aan om ons ouers as ons “prag” te beskou, met ander woorde ons moet trots wees op hulle.—Spreuke 17:6.

  2.   Aanvaar hulle gesag. Jy eer jou pa en ma, veral terwyl jy nog jonk is, deur die gesag te erken wat God vir hulle gegee het. Kolossense 3:20 sê vir jongmense: “Wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want dit is welbehaaglik in die Here.” Selfs toe Jesus jonk was, was hy gewillig om gehoorsaam te wees aan sy ouers.—Lukas 2:51.

  3.   Behandel hulle met respek (Levitikus 19:3; Hebreërs 12:9). Dit hang baie keer af van wat jy sê en hoe jy dit sê. Dit is so dat party ouers soms dinge doen wat dit moeilik maak om hulle te respekteer. Selfs dan kan kinders hulle ouers eer deur nie disrespekvol met hulle te praat of hulle disrespekvol te behandel nie (Spreuke 30:17). Die Bybel sê dat dit ’n ernstige oortreding is om sleg te praat van jou pa of ma.—Matteus 15:4.

  4.   Sorg vir hulle. Wanneer jou ouers oud word, het hulle dalk praktiese hulp nodig. Jy kan hulle eer deur jou bes te doen om seker te maak dat hulle alles het wat hulle nodig het (1 Timoteus 5:4, 8). Jesus het byvoorbeeld kort voor sy dood gereël dat iemand vir sy ma sou sorg.—Johannes 19:25-27.

Wat mense dink jy moet doen om jou pa en ma te eer

 Wat mense sê: Om jou pa en ma te eer, moet jy hulle toelaat om jou huwelik te beheer.

 Wat die Bybel sê: Die Bybel leer dat die huweliksband belangriker is as enige ander familieverhouding. Genesis 2:24 sê: “’n Man [sal] sy vader en sy moeder verlaat, en hy sal sy vrou aankleef” (Matteus 19:4, 5). Getroude paartjies kan natuurlik bevoordeel word deur die raad van hulle ouers of hulle skoonouers (Spreuke 23:22). Maar dit sal nie verkeerd wees vir ’n paartjie om te besluit om familielede se betrokkenheid in hulle huwelik te beperk nie.—Matteus 19:6.

 Wat mense sê: Jou pa en ma het die hoogste gesag.

 Wat die Bybel sê: Hoewel God ouers gesag in die gesin gegee het, is mense se gesag altyd beperk—dit is nooit hoër as God se gesag nie. Byvoorbeeld, toe ’n hof Jesus se dissipels beveel het om aan God ongehoorsaam te wees, het hulle gesê: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense” (Handelinge 5:27-29). Net so moet kinders ook hulle ouers “in eenheid met die Here” gehoorsaam, met ander woorde in alle dinge wat nie teen God se wette is nie.—Efesiërs 6:1.

 Wat mense sê: Om jou pa en ma te eer, beteken dat jy hulle godsdiensoortuigings moet volg.

 Wat die Bybel sê: Die Bybel moedig ons aan om seker te maak dat die dinge wat ons geleer word, die waarheid is (Handelinge 17:11; 1 Johannes 4:1). Iemand wat dit doen, sal dalk later ’n ander godsdiens kies as die een waaraan sy ouers behoort. Die Bybel noem ’n hele paar getroue knegte van God wat nie in dieselfde godsdiens as hulle ouers gebly het nie. Dit sluit voorbeelde in soos Abraham, Rut en die apostel Paulus.—Josua 24:2, 14, 15; Rut 1:15, 16; Galasiërs 1:14-16, 22-24.

 Wat mense sê: Om jou pa en ma te eer, beteken dat jy aan die tradisionele gebruike van vooroueraanbidding moet deelneem.

 Wat die Bybel sê: “Jehovah jou God moet jy aanbid, en aan hom alleen moet jy heilige diens verrig” (Lukas 4:8). Iemand wat sy voorouers aanbid, maak God se hart seer. Boonop leer ons in die Bybel dat ‘die dooies van hoegenaamd niks bewus is’ nie. Hulle is glad nie bewus van enige eer wat aan hulle betoon word nie, en hulle kan ook nie die lewendes help of seermaak nie.—Prediker 9:5, 10; Jesaja 8:19.