Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Eksodus 20:12 – “Eer jou pa en jou ma”

Eksodus 20:12 – “Eer jou pa en jou ma”

“Eer jou pa en jou ma sodat jy lank kan lewe in die land wat Jehovah a jou God aan julle gee.” – Eksodus 20:12, Nuwe Wêreld-vertaling.

“Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee.” – Eksodus 20:12, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.

Betekenis van Eksodus 20:12

God het die eertydse Israeliete die gebod gegee om hulle ouers te eer. Deur ’n belofte saam met die gebod te gee, het hy hulle nog ’n rede gegee om dit te gehoorsaam. Alhoewel God se Wet aan die Israeliete, wat die Wet van Moses genoem word, nie meer op Christene van toepassing is nie, het God se standaarde nie verander nie. Die basiese waarhede waarop God se Wet gebaseer is, is nog steeds vandag van toepassing, en daarom is dit vir Christene belangrik. – Kolossense 3:20.

Kinders – jonk en oud – eer hulle ouers wanneer hulle hulle respekteer en gehoorsaam (Levitikus 19:3; Spreuke 1:8). Selfs wanneer kinders volwassenes word en hulle eie gesinne het, hou hulle aan om hulle ouers lief te hê en te help. Byvoorbeeld, hulle maak seker dat hulle bejaarde ouers versorg word, selfs deur hulle finansieel te help as dit nodig is. – Matteus 15:4-6; 1 Timoteus 5:4, 8.

Let op dat Israelitiese kinders hulle pa en ma moes eer. Op hierdie manier word die ma se belangrike rol in die gesin erken (Spreuke 6:20; 19:26). Kinders moet vandag dieselfde doen.

Die gebod om jou ouers te eer, het nog altyd perke gehad. Israelitiese kinders moes nie hulle ouers, of enige ander mens, gehoorsaam as dit beteken het dat hulle ongehoorsaam aan God sou wees nie (Deuteronomium 13:6-8). Net so moet Christene vandag “eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense”. – Handelinge 5:29.

In die Wet wat God aan Israel gegee het, het hy belowe dat kinders wat hulle ouers eer, ‘lank sou lewe’ en dat dit met hulle ‘goed sou gaan’ in die land wat God hulle gegee het (Deuteronomium 5:16). Hulle sou nie gestraf word soos die volwasse kinders wat God se wet geïgnoreer het en teen hulle ouers gerebelleer het nie (Deuteronomium 21:18-21). Die waarhede waarop hierdie wette gebaseer is, het nie met tyd verander nie (Efesiërs 6:1-3). Of ons nou oud of jonk is, ons is almal aanspreeklik voor ons Skepper. En net soos God belowe, sal kinders wat aan hom en aan hulle ouers gehoorsaam is, lank kan lewe. Hulle het eintlik die hoop om vir ewig te lewe. – 1 Timoteus 4:8; 6:18, 19.

Konteks van Eksodus 20:12

Ons kan iets interessants leer oor waar die gebod, wat in Eksodus 20:12 staan, in die Tien Gebooie gevind kan word (Eksodus 20:1-17). Die gebooie wat voor hierdie een genoem word, verduidelik wat die Israeliete se verantwoordelikheid teenoor God was, soos dat hulle hom alleen moes aanbid. Die gebooie wat daarna genoem word, verduidelik wat hulle verantwoordelikhede teenoor ander mense was, soos dat hulle lojaal moes wees aan hulle huweliksmaat en nie moes steel nie. So die gebod “eer jou pa en jou ma” word gesien as ’n natuurlike oorgang tussen ’n mens se verantwoordelikheid teenoor God en ander mense.

Lees Eksodus hoofstuk 20 saam met verduidelikende voetnote en kruisverwysings.

a Jehovah is die persoonlike naam van God. Psalm 83:18.