Spring na inhoud

Watter betekenis het getalle in die Bybel? Is numerologie skriftuurlik?

Watter betekenis het getalle in die Bybel? Is numerologie skriftuurlik?

Die Bybel se antwoord

 Getalle in die Bybel kan dikwels letterlik opgeneem word, maar soms word dit as simbole gebruik. Die konteks dui gewoonlik aan of ’n sekere getal as ’n simbool gebruik word. Kyk na hierdie voorbeelde van die simboliese betekenis van getalle in die Bybel:

  •   1 Eenheid. Jesus het byvoorbeeld tot God gebid dat sy volgelinge “almal een kan wees, net soos u, Vader, in eenheid met my en ek in eenheid met u is”.—Johannes 17:21; Matteus 19:6.

  •   2 In ’n regsaangeleentheid bevestig twee getuies die waaragtigheid van ’n saak (Deuteronomium 17:6). Die herhaling van ’n visioen of ’n verklaring bevestig eweneens dat die saak seker en waar is. Toe Josef byvoorbeeld ’n droom uitgelê het wat aan Farao van Egipte gegee is, het hy gesê: “Die feit dat die droom twee keer vir Farao herhaal is, beteken dat die saak deur die ware God stewig bevestig is” (Genesis 41:32). In profesieë kan “twee horings” ’n tweeledige heerskappy voorstel, soos daar vir die profeet Daniël oor die Medo-Persiese Ryk gesê is.—Daniël 8:20, 21; Openbaring 13:11.

  •   3 Net soos drie getuies kragtig bevestig dat ’n saak waar is, word iets blykbaar kragtig bevestig of beklemtoon as dit drie keer herhaal word.—Esegiël 21:27; Handelinge 10:9-16; Openbaring 4:8; 8:13.

  •   4 Dit kan volkomenheid in vorm en funksie voorstel, soos in die uitdrukking “die vier hoeke van die aarde”.—Openbaring 7:1; 21:16; Jesaja 11:12.

  •   6 Omdat ses een minder is as sewe, wat dikwels volkomenheid verteenwoordig, kan dit iets voorstel wat onvolkome of onvolmaak is of wat met God se vyande verband hou.—1 Kronieke 20:6; Daniël 3:1; Openbaring 13:18.

  •   7 Hierdie getal word dikwels gebruik om die idee van volkomenheid oor te dra. God het die Israeliete byvoorbeeld beveel om sewe opeenvolgende dae om Jerigo te trek, en om op die sewende dag sewe keer om die stad te trek (Josua 6:15). Die Bybel bevat talle soortgelyke voorbeelde van hierdie gebruik van die getal sewe (Levitikus 4:6; 25:8; 26:18; Psalm 119:164; Openbaring 1:20; 13:1; 17:10). Toe Jesus vir Petrus gesê het dat hy sy broer “nie ‘tot sewe keer’ nie, maar ‘tot sewe-en-sewentig keer’” moet vergewe, het die herhaling van “sewe” die gedagte van “onbeperktheid” oorgedra.—Matteus 18:21, 22.

  •   10 Hierdie getal kan die geheel of totaal van iets voorstel.—Eksodus 34:28; Lukas 19:13; Openbaring 2:10.

  •   12 Hierdie getal stel blykbaar ’n volledige, goddelike reëling voor. Die visioen van die hemel wat aan die apostel Johannes gegee is, het byvoorbeeld ’n stad ingesluit met “twaalf fondamentstene . . . en daarop die twaalf name van die twaalf apostels” (Openbaring 21:14; Genesis 49:28). Veelvoude van 12 kan ’n soortgelyke betekenis hê.—Openbaring 4:4; 7:4-8.

  •   40 Etlike tydperke van oordeel of straf het met die getal 40 verband gehou.—Genesis 7:4; Esegiël 29:11, 12.

Numerologie en gematria

 Hierdie simboliese betekenisse van getalle in die Bybel verskil van numerologie, ’n studieveld waarin die okkulte betekenis van getalle, hulle kombinasies en totale gesoek word. Joodse Kabbaliste het byvoorbeeld die Hebreeuse Geskrifte ondersoek deur middel van gematria, ’n tegniek waarvolgens ’n geheime kode in die getalwaarde van letters gesoek word. Numerologie is ’n vorm van waarsêery, wat deur God veroordeel word.—Deuteronomium 18:10-12.