Spring na inhoud

HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

Hoe om met kinders oor rassisme te praat

Hoe om met kinders oor rassisme te praat

 Van ’n jong ouderdom af mag jou kind dalk sien dat party mense velkleur of nasionaliteit as ’n verskoning gebruik om sommige mense anders te behandel. Hoe kan jy jou kind help om nie beïnvloed te word deur die rassediskriminasie van ander nie? Wat kan jy doen as hy of sy sleg behandel word as gevolg van sy of haar ras?

In hierdie artikel

 Hoe om aan kinders te verduidelik hoekom daar verskillende rasse is

 Wat jy kan sê. Daar is ’n wonderlike verskeidenheid in die fisiese voorkoms en kulture van mense regoor die wêreld. Hierdie verskille het veroorsaak dat party mense ander sleg behandel op grond van hoe hulle lyk en optree.

 Maar die Bybel leer ons dat alle mense dieselfde voorouers het. Met ander woorde, ons is almal familie.

[God] het uit een mens elke nasie van die mensdom gemaak.”Handelinge 17:26.

 “Ons het gesien dat wanneer ons kinders met mense van verskillende rasse assosieer, hulle vir hulleself kon sien dat elke persoon ons liefde en respek verdien.”Karen.

 Hoe om rassisme aan kinders te verduidelik

 Die een of ander tyd sal jou kind nuusberigte hoor oor haatmisdade of ander gevalle van rassisme. Hoe kan jy verduidelik wat besig is om te gebeur? Dit hang af van hoe oud jou kind is.

  •   Kleuters. In die tydskrif Parents sê dr. Allison Briscoe-Smith: “Klein kindertjies is baie bewus van wat regverdig en onregverdig is. Dit kan jou ’n goeie geleentheid gee om met hulle oor ongeregtigheid te praat.”

“God [is] nie partydig . . . nie. In elke nasie is die mens wat hom vrees en doen wat reg is, vir hom aanvaarbaar.”Handelinge 10:34, 35.

  •   Jonger kinders. Kinders tussen die ouderdom van 6 en 12 is nuuskierig, en partykeer vra hulle moeilike vrae. Probeer om hierdie vrae so goed as moontlik te beantwoord. Praat met jou kinders oor wat hulle by die skool en in die media sien. Gebruik hierdie besprekings as ’n geleentheid om te verduidelik dat rassisme verkeerd is.

“Julle almal [moet] verenig wees in julle denke. Betoon medelye, broederlike liefde, empatie en nederigheid.”1 Petrus 3:8.

  •   Tieners. Vir jongmense is dit ’n tyd in hulle lewe wanneer hulle dinge kan verstaan wat meer ingewikkeld is. Wanneer jou kind ’n tiener is, is dit ’n goeie geleentheid vir jou en jou kind om nuusberigte oor rassisme te bespreek.

‘Volwasse mense, wat hulle denkvermoë geoefen het, kan onderskei wat reg en wat verkeerd is.’Hebreërs 5:14.

 “Ons praat met ons kinders oor rassisme omdat dit iets is wat hulle die een of ander tyd sal ondervind, maak nie saak waar hulle woon nie. As hulle nie oor hierdie onderwerp by die huis hoor nie, kan hulle dalk die denke van ander aanneem. Baie inligting wat verkeerd is, kan aan ons kinders oorgedra word as feite.” – Tanya.

 Hoe om die voorbeeld te stel

 Kinders leer uit ander se voorbeeld, so as ’n ouer is dit belangrik dat jy mooi dink oor wat jy sê en doen. Byvoorbeeld:

  •   Maak jy grappe oor mense van ander rasse, of verneder jy hulle? Die Amerikaanse Akademie vir Kinder- en Adolessentepsigiatrie sê: “Jou kinders kyk en luister na jou en doen van nature wat jy doen.”

  •   Geniet jy dit om saam met mense te wees wat van ander dele van die wêreld afkom? Alanna Nzoma, ’n kinderspesialis, sê: “As jy wil hê dat jou kinders . . . [goeie] verhoudings met mense van verskillende agtergronde moet hê, moet hulle sien dat jy dit doen.”

“Eer alle soorte mense.”1 Petrus 2:17.

 “Oor die jare het mense van regoor die wêreld by ons huis kom kuier. Ons het geleer oor hulle kos en musiek en het selfs hulle tradisionele klere gedra. Ons het met ons kinders gepraat oor mense, en nie oor rasse nie. En ons het nie oor ons eie kultuur gespog nie.” – Katarina.

 As iemand teen jou kind diskrimineer

 Hoewel baie mense in die wêreld sê dat ons almal gelyk is, is daar baie rassisme in die wêreld. Dit beteken dat jou kind dalk sleg behandel sal word, veral as hy of sy beskou word as deel van ’n minderheidsgroep. As dit gebeur . . .

 Kry die feite. Was die persoon opsetlik lelik met jou kind of het hy net gepraat sonder om te dink? (Jakobus 3:2). Is dit nodig dat iemand met die persoon moet praat oor wat hy gedoen het of kan jy dit net ignoreer?

 Dit is duidelik dat balans nodig is. Die Bybel gee wyse raad: “Moenie gou aanstoot neem nie” (Prediker 7:9). Rassisme is ’n ernstige probleem, maar dit beteken nie dat jy alle beledigings of onregverdige behandeling as ’n haatmisdaad of rassehaat moet beskou nie.

 Elke situasie is natuurlik anders, so vind uit wat regtig gebeur het voordat jy besluit om op te tree.

“Iemand wat op ’n saak antwoord voordat hy die feite hoor, is dwaas en kom in die skande.”Spreuke 18:13.

 Nadat jy die feite gekry het, vra jou af:

  •   ‘Sal dit my kind help as hy dink dat almal rassisties is en dat elke belediging as gevolg van sy ras is?’

  •   ‘Kan dit my kind help as hy die volgende raad in die Bybel volg: “Moet jou ook nie steur aan elke woord wat mense sê nie”?’ – Prediker 7:21.

“Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word.”Filippense 4:5.

 Wat as dit lyk asof die optrede opsetlik is? Help jou kind om te besef dat dinge beter of slegter kan word afhangende van hoe hy of sy reageer. Soms as ’n persoon ander uittart, boelie of beledig, soek hulle net ’n reaksie. In sulke gevalle is die beste reaksie, geen reaksie.

“Waar daar geen hout is nie, gaan die vuur dood.”Spreuke 26:20.

 Maar as dit veilig is om dit te doen, kan jou kind dalk met die persoon praat. Miskien kan jou kind (op ’n vreedsame manier) sê: “Ek dink nie dat dit wat jy gesê (of gedoen) het, mooi is nie.”

 Wat as jy die optrede wil rapporteer? As jou kind in gevaar is of as jy vir die een of ander rede voel dat die situasie nie geïgnoreer kan word nie, praat asseblief met die personeel by die skool of selfs met die polisie as dit nodig is.