Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Openbaring 21:4 – “God sal al die trane van hulle oë afvee”

Openbaring 21:4 – “God sal al die trane van hulle oë afvee”

 “God sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal nie meer daar wees nie. Daar sal geen getreur, geen gehuil en geen pyn meer wees nie. Die vorige dinge is verby.” – Openbaring 21:4, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.” – Openbaring 21:4, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

Betekenis van Openbaring 21:4

 God belowe dat hy nie net die pyn en swaarkry wat mense vandag ervaar, gaan wegneem nie, maar ook die oorsaak van hierdie probleme.

 “God sal elke traan van hulle oë afvee.” Hierdie woorde beklemtoon Jehovah a se belofte soos opgeteken deur die profeet Jesaja dat Hy “die trane van alle gesigte [sal] afvee” (Jesaja 25:8; Openbaring 7:17). Hierdie uitdrukking wys God se liefdevolle besorgdheid vir almal wat huil omdat hulle ’n geliefde aan die dood verloor het of as gevolg van enige ander oorsaak van swaarkry.

 “Die dood sal nie meer daar wees nie.” Hierdie uitdrukking kan ook vertaal word as “die dood sal nie meer bestaan nie” of “die dood sal weggeneem word”. God belowe om die dood en die swaarkry wat dit veroorsaak, weg te neem. Daar sal ook ’n opstanding van die dooies wees (1 Korintiërs 15:21, 22). So, die dood sal “vernietig word”. – 1 Korintiërs 15:26.

 “Daar sal geen getreur, geen gehuil en geen pyn meer wees nie.” God se belofte beteken nie dat mense nie meer enige pyn sal voel nie, soos die fisiese pyn wat ’n mens van nature ervaar en wat jou teen gevaar of moontlike beserings waarsku. Hierdie belofte dui eerder aan dat alle verstandelike, emosionele en fisiese pyn wat deur sonde b en onvolmaaktheid veroorsaak word, nie meer daar sal wees nie. – Romeine 8:21, 22.

 “Die vorige dinge is verby.” Hierdie laaste sin som die dramatiese veranderinge op wat mense sal ondervind. Een naslaanwerk sê: “Die manier waarop mense gelewe het, waar die dood, getreur, gehuil en pyn ’n onvermydelike deel van die mens se lewe is, sal vervang word met ’n nuwe manier van lewe.” Mense sal dan ewige lewe op aarde in volmaakte omstandighede kan geniet, net soos God dit oorspronklik wou gehad het. – Genesis 1:27, 28.

Konteks van Openbaring 21:4

 Aan die begin van hoofstuk 21 beskryf die apostel Johannes wat hy in ’n visioen gesien het: “Ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien” (Openbaring 21:1). Hy gebruik simboliese taal om die algehele verandering te beskryf wat ook in ander Bybelverse voorspel word (Jesaja 65:17; 66:22; 2 Petrus 3:13). God se hemelse regering, of die “nuwe hemel”, sal alle menseregerings vervang en oor “’n nuwe aarde” heers, dit wil sê ’n nuwe mensegemeenskap wat op die aarde sal lewe. – Jesaja 65:21-23.

 Hoe weet ons hierdie visioen verwys na lewe op aarde? Eerstens, God se belofte begin met die woorde: “Die tent van God is by die mensdom” (Openbaring 21:3). So hierdie belofte word gemaak, nie aan die engele in die hemel nie, maar aan mense op aarde. Tweedens, die visioen beskryf ’n wêreld waar ‘die dood nie meer daar sal wees nie’ (Openbaring 21:4). Die dood het nog nooit in die hemel bestaan nie, maar het net mense op die aarde geraak (Romeine 5:14). Dit is dus logies om af te lei dat hierdie vers toekomstige omstandighede op die aarde beskryf.

 Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek Openbaring te kry.

a Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?

b In die Bybel verwys sonde na enige optrede, gebrek aan optrede, gevoel of gedagte wat nie met God se standaarde ooreenstem nie (1 Johannes 3:4). Sien die artikel “Wat is sonde?