Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Markus 1:15 – “Die Koninkryk van God is op hande”

Markus 1:15 – “Die Koninkryk van God is op hande”

“Die vasgestelde tyd is hier, en die Koninkryk van God het naby gekom. Toon berou en stel geloof in die goeie nuus.” – Markus 1:15, Nuwe Wêreld-vertaling.

“Die tyd is vervul en die koninkryk van God is op hande; toon berou en glo in die evangelie.” – Markus 1:15, English Standard Version.

Betekenis van Markus 1:15

Jesus Christus het gesê dat die Koninkryk van God a was “op hande”, of het “naby gekom”, omdat hy, as die toekomstige Koning van daardie Koninkryk, teenwoordig was.

Jesus het nie bedoel dat die Koninkryk alreeds begin regeer het nie. Hy het eintlik later vir sy dissipels gesê dat die Koninkryk in die toekoms sou begin regeer (Handelinge 1:6, 7). Maar hy het op tyd gekom, in die jaar wat die Bybel voorspel het hy as die toekomstige Koning sou verskyn. b Vir hierdie rede kon Jesus sê: “Die vasgestelde tyd is hier” – die tyd vir hom om sy openbare bediening te begin om die evangelie, of die goeie nuus, van die Koninkryk te verkondig. – Lukas 4:16-21, 43.

As mense deur die goeie nuus van die Koninkryk gehelp wil word, moet hulle berou toon, dit wil sê spyt voel oor hulle sondes in die verlede en volgens God se standaarde lewe. Mense wat berou getoon het, wys dat hulle geloof het in die goeie nuus van daardie toekomstige Koninkryk.

Konteks van Markus 1:15

Jesus het hierdie woorde aan die begin van sy bediening in Galilea gesê. Volgens die parallelle verslag in Matteus 4:17 het Jesus “van daardie tyd af” die Koninkryk van God verkondig. Die Koninkryk was die tema van Jesus se bediening. Om die waarheid te sê, die Koninkryk word meer as 100 keer in die vier Evangelies c genoem, en Jesus het in die meeste gevalle daarna verwys. In die Bybel praat Jesus meer oor die Koninkryk van God as wat hy oor enige ander onderwerp gepraat het.

Lees Markus hoofstuk 1 saam met verduidelikende voetnote, kruisverwysings, prente en ’n kaart.

a Die Koninkryk van God is die regering in die hemel wat deur God opgerig is. Hierdie regering sal sy wil vir die aarde laat gebeur (Daniël 2:44; Matteus 6:10). Vir meer inligting, lees die artikel “Wat is die Koninkryk van God?

b Jesus moes ’n koning word om een van sy rolle as die voorspelde Messias, God se spesiale verteenwoordiger, te vervul. Vir meer inligting oor Bybelprofesieë wat wys dat Jesus die Messias was, lees die artikel “Bewys Messiaanse profesieë dat Jesus die Messias was?”

c Die Evangelies is die eerste vier boeke van die Christelike Griekse Geskrifte, wat gewoonlik bekend staan as die Nuwe Testament, wat vertel van Jesus se lewe en bediening.