Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Jesaja 26:3 – “U sal ’n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar”

Jesaja 26:3 – “U sal ’n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar”

 “U sal dié beskerm wat ten volle op u vertrou. U sal hulle blywende vrede gee omdat hulle op u vertrou.” – Jesaja 26:3, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “U sal ’n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U.” – Jesaja 26:3, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

Betekenis van Jesaja 26:3

 Met hierdie gerusstellende woorde wys die profeet Jesaja dat God diegene beskerm wat ten volle op Hom vertrou. Hy doen dit deur hulle te help om veilig te voel en vrede te hê.

 “U sal dié beskerm wat ten volle op u vertrou.” Hierdie deel van die vers beskryf diegene wat heeltemal vasbeslote is om te alle tye op Jehovah a God te vertrou. Dié wat op God vertrou, besef dat hulle op hom moet staatmaak. Byvoorbeeld, hulle vertrou nie op hulle eie denke wanneer hulle belangrike besluite moet maak nie. Hulle neem eerder God se denke in ag in alles wat hulle doen (Spreuke 3:5, 6). Hulle vind uit hoe God oor ’n situasie voel deur sy Woord, die Bybel, deeglik te lees en deur diep daaroor na te dink (Psalm 1:2; 119:15). Wanneer hulle in ’n moeilike situasie is, bid hulle opreg tot Jehovah en vra hulle hom vir sy hulp (Psalm 37:5; 55:22). Deur dit te doen, wys hulle dat hulle op God vertrou, en as gevolg hiervan gee hy hulle vrede.

 “U sal hulle blywende vrede gee.” In die oorspronklike Hebreeus verskyn die woord vir “vrede” twee keer vir beklemtoning. So om hierdie beklemtoning aan te dui, kan dit vertaal word as “blywende vrede”, “volmaakte vrede” of “volle vrede”. Met ander woorde, diegene wat ten volle op Jehovah vertrou, geniet ’n gevoel van vrede, ’n innerlike kalmte wat nie van hulle omstandighede afhang nie (Psalm 112:7; 119:165). Hierdie vrede kom van ’n hegte, persoonlike verhouding met Jehovah en om te probeer doen wat reg is in sy oë. – Spreuke 3:32; Jesaja 48:18.

 Hierdie “blywende vrede” beteken nie dat God alle probleme van sy aanbidders af wegneem nie en dat hulle glad nie angstig voel nie (1 Samuel 1:6, 7; Job 6:1, 2; Psalm 31:9). Hy help hulle eerder om moeilike tye te hanteer (Jesaja 41:10, 13). Hy beantwoord hulle gebede deur vir hulle wysheid en krag te gee en deur hulle te vertroos (Psalm 94:19; Spreuke 2:6; Jesaja 40:29). As gevolg hiervan kan hulle selfs onder moeilike omstandighede kalm bly. – Filippense 4:6, 7.

Konteks van Jesaja 26:3

 Die profeet Jesaja het omtrent 2 800 jaar gelede gelewe. In daardie tyd en in die jare daarna het baie in Juda Jehovah God nie getrou aanbid nie. As gevolg daarvan het Jehovah uiteindelik toegelaat dat hulle hoofstad, Jerusalem, in die jaar 607 VHJ vernietig is.

 Maar meer as ’n honderd jaar voor die vernietiging het Jesaja die profetiese loflied aan Jehovah geskryf wat in hoofstuk 26 opgeteken is (Jesaja 26:1-6). Hierdie lied het ’n toekomstige tyd beskryf wanneer ’n stad in die land van Juda, heel moontlik Jerusalem, herstel sou word.

 In die jare ná 537 VHJ is Jerusalem herstel. Toe dit gebeur het, kon getroue Jode wat na Jerusalem teruggekeer het, veilig voel en sê: “Ons het ’n sterk stad” (Jesaja 26:1). Maar dit was nie die versterkte mure van die stad wat dit sterk gemaak het nie. Die veiligheid van die stad het eerder afgehang van Jehovah se seën en beskerming. – Jesaja 26:2.

 Dieselfde geld vandag. Diegene wat ten volle op Jehovah vertrou, voel veilig omdat hulle hom as hulle “Rots”, of beskerming, beskou. – Jesaja 26:4.

 Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek Jesaja te kry.

a Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?