Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Behalwe vir die Bybel, watter ander bewyse is daar dat die Israeliete slawe in Egipte was?

Die Bybel wys dat die aartsvader Jakob en sy familie van Kanaän na Egipte getrek het nadat die Midianiete Josef na Egipte geneem het. Hulle het in die deel van Egipte gebly wat Gosen genoem is, in die Nyldelta (Gen. 47:1, 6). Die Israeliete het “baie geword en buitengewoon vinnig magtiger geword”. Daarom was die Egiptenare bang vir die Israeliete en het hulle hulle forseer om slawe te word. – Eks. 1:7-14.

Party hedendaagse kritici het die Bybelverslag hierbo gespot en gesê dat dit nie waar is nie. Maar daar is bewyse dat die Semiete * as slawe in eertydse Egipte gebly het.

Argeoloë het byvoorbeeld eertydse nedersettings in Noord-Egipte ontdek. Dr. John Bimson sê dat daar bewyse is van 20 of meer Semitiese nedersettings in die gebied van Noord-Egipte. En die Egiptoloog James K. Hoffmeier sê: “Van omtrent 1800 tot 1540 VHJ was Egipte ’n aantreklike plek vir die Semitiese mense van Asië om na te trek.” Hy sê verder: “Hierdie tyd stem ooreen met die tyd van die aartsvaders en dit is dieselfde tyd en omstandighede wat in Genesis beskryf word.”

Daar is nog bewyse in Suid-Egipte. ’n Papirus wat tot die Middelryk (ca. 2000–ca. 1600 VHJ) dateer, bevat name van slawe wat in ’n huishouding in Suid-Egipte gewerk het. Meer as 40 van hierdie name is Semities. Hierdie slawe, of knegte, het as kokke, wewers en arbeiders gewerk. Hoffmeier sê: “Aangesien meer as veertig Semiete by hierdie een huishouding in die Tebaïs [Suid-Egipte] gewerk het, was die hoeveelheid Semiete regoor Egipte, veral in die Delta, heel moontlik baie groot.”

Die argeoloog David Rohl skryf dat party van die name van die slawe op die lys soos name klink wat ons in die Bybel sal lees. Die fragmente bevat byvoorbeeld name soos Issaskar, Aser en Sifra (Eks. 1:3, 4, 15). Rohl sê: “Dit is regte bewyse dat die Israeliete slawe in Egipte was.”

Dr. Bimson sê: “Die Bybelse tradisies van die gevangenskap in Egipte en die uittog het ’n sterk historiese grondslag.”

^ par. 4 Die naam Semiet kom van Sem, een van Noag se drie seuns. Die nakomelinge van Sem het heel moontlik die Elamiete, die Assiriërs, die vroeë Galdeërs, die Hebreërs, die Siriërs en verskillende Arabiese stamme ingesluit.