Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

My lewe het net om myself gedraai

My lewe het net om myself gedraai
  • GEBORE: 1951

  • GEBOORTELAND: DUITSLAND

  • GESKIEDENIS: TROTSE, ONAFHANKLIKE GESINDHEID

MY VERLEDE:

Die eerste paar jaar van my lewe het ons gesin naby Leipzig in Oos-Duitsland gewoon, nie ver van die Tsjeggiese en Poolse grense nie. Toe ek ses was, het ons weens my pa se werk na die buiteland getrek—eers na Brasilië en toe na Ecuador.

Toe ek 14 was, is ek na ’n kosskool in Duitsland gestuur. Omdat my ouers ver van my af in Suid-Amerika was, moes ek na myself omsien. Ek het baie onafhanklik geword en was nie besorg oor hoe my dade ander raak nie.

Ek was 17 toe my ouers teruggekeer het Duitsland toe. Ek het eers by hulle gebly. Maar weens my onafhanklike gesindheid was dit vir my onmoontlik om weer by ons gesin in te pas. Toe ek 18 was, het ek die huis verlaat.

Ek het al hoe rusteloser geword en na ’n doel in die lewe gesoek. Nadat ek verskeie lewenstyle en organisasies ondersoek het, was ek oortuig daarvan dat ek my lewe op die beste manier sou gebruik as ek hierdie pragtige planeet verken voordat die mensdom dit vernietig.

Ek het Duitsland verlaat, ’n motorfiets gekoop en koers gekry na Afrika. Maar ek moes kort voor lank terugkeer na Europa om herstelwerk aan my motorfiets te laat doen. Kort daarna was ek op ’n strand in Portugal. Ek het besluit om van my motorfiets ontslae te raak en per boot te begin reis.

Ek het by ’n groep jongmense aangesluit wat beplan het om oor die Atlantiese Oseaan te vaar. Onder hulle het ek my toekomstige vrou, Laurie, ontmoet. Ons het eers na die Karibiese Eilande gevaar. Nadat ons ’n rukkie in Puerto Rico gebly het, het ons na Europa teruggekeer. Ons het gehoop om ’n seilboot te vind wat ons in ’n huisboot kon omskep. Maar nadat ons net drie maande lank gesoek het, is ons planne in die wiele gery. Ek is deur die Duitse weermag opgeroep.

Ek was 15 maande lank in die Duitse vloot. Gedurende dié tyd is ek en Laurie getroud en het ons voorbereidings getref om aan te hou reis. Kort voordat ek met my militêre diens begin het, het ons die romp van ’n reddingsboot gekoop. Terwyl ek in die weermag gedien het, het ons die romp stelselmatig in ’n klein seilboot omskep. Ons het beplan om daarin te bly en aan te hou om hierdie pragtige planeet te verken. Op hierdie tydstip—nadat ek my militêre diens voltooi het, maar voordat ons die boot klaargemaak het—het ons Jehovah se Getuies ontmoet en die Bybel begin studeer.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

Ek het eers gedink dat dit nie nodig is om baie veranderinge in my lewe aan te bring nie. Ek en Laurie was reeds getroud en ek het nie meer gerook nie (Efesiërs 5:5). Ek het ook gedink dat ons planne om om die wêreld te reis en ons lewe daaraan te wy om God se wonderlike skeppingswerke waar te neem, beslis ’n prysenswaardige strewe is.

Maar in werklikheid wás daar veranderinge wat ek moes aanbring—veral in my persoonlikheid. Omdat ek uiters trots en onafhanklik was, was ek behep met my eie vermoëns en prestasies. My lewe het net om myself gedraai.

Eendag het ek Jesus se beroemde Bergpredikasie gelees (Matteus, hoofstukke 5-7). Jesus se geluksprekinge was aanvanklik vir my verwarrend. Hy het byvoorbeeld gesê dat dié wat honger en dors is, gelukkig is (Matteus 5:6). Ek het gewonder hoe iemand in so ’n situasie gelukkig kan wees. My studie van die Bybel het my later laat besef dat ons almal ’n geestelike behoefte het, maar dat ons dit nederig moet erken voordat hierdie behoefte bevredig kan word. Dit is soos Jesus gesê het: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte.”—Matteus 5:3.

Nadat ons die Bybel in Duitsland begin studeer het, het ek en Laurie na Frankryk en later na Italië getrek. Waar ons ook al gegaan het, het ons Jehovah se Getuies teëgekom. Hulle opregte liefde vir mekaar en hulle eenheid het my baie beïndruk. Ek het gesien dat die Getuies werklik ’n wêreldwye broederskap is (Johannes 13:34, 35). Ná verloop van tyd is ek en Laurie as Jehovah se Getuies gedoop.

Ná my doop het ek aangehou om veranderinge in my persoonlikheid aan te bring. Ek en Laurie het besluit om met die kus van Afrika langs en dan oor die Atlantiese Oseaan na die Verenigde State te vaar. Daar op die oseaan—met net ons twee in ’n bootjie wat omring is deur duisende kilometers water—het ek besef hoe nietig ek is in vergelyking met ons wonderlike Skepper. Aangesien ek baie tyd gehad het (daar is nie veel om in die middel van die oseaan te doen nie), het ek dit daaraan gewy om die Bybel te lees. Die verslae van Jesus se lewe op die aarde het veral ’n indruk op my gemaak. Hy was ’n volmaakte mens met wonderliker vermoëns as wat ek my ooit kon voorstel, en tog het hy nooit die aandag op homself gevestig nie. Sy lewe het nie om homself gedraai nie, maar om sy hemelse Vader.

Ek het besef dat ek God se Koninkryk eerste in my lewe moet stel

Terwyl ek oor Jesus se voorbeeld nagedink het, het ek besef dat ek God se Koninkryk eerste in my lewe moet stel en dit nie net moet inpas tussen alles wat ek wou doen nie (Matteus 6:33). Toe ek en Laurie uiteindelik in die Verenigde State aangekom het, het ons besluit om daar te bly en ons op ons aanbidding toe te spits.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

My vorige selfsugtige lewenswyse het met baie onsekerheid gepaardgegaan. Maar nou het ek ’n bron van onfeilbare wysheid gevind om my te lei (Jesaja 48:17, 18). Ek het nou ook ’n doel in die lewe wat ek nooit voorheen gehad het nie—om God te aanbid en ander te help om omtrent hom te leer.

Die toepassing van Bybelbeginsels het my en Laurie gehelp om ons huwelik baie te versterk. Ons is ook geseën met ’n pragtige dogter, wat Jehovah leer ken het en hom liefgekry het.

Ons lewe was nie altyd maklik nie. Maar ons is vasbeslote om met Jehovah se hulp nooit moed op te gee of op te hou om op hom te vertrou nie.—Spreuke 3:5, 6.