Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

‘Jehovah het my nie vergeet nie’

‘Jehovah het my nie vergeet nie’
  • GEBORE: 1922

  • GEBOORTELAND: SPANJE

  • GESKIEDENIS: KATKISASIEONDERWYSERES

MY VERLEDE:

Ek is gebore in ’n middelklasbuurt in Bilbao, in die noorde van Spanje. Ek was die tweede van vier kinders. Ons gesin was getroue Katolieke, en ek het elke dag die mis bygewoon. Toe ek 23 was, het ek ’n onderwyseres geworddit was 40 jaar lank my beroep, en ek het dit baie geniet. Ek was trots daarop dat ek ook in die Katolieke godsdiens onderrig kon gee, en ek het saans katkisasieklasse gegeewaartydens ek meisies voorberei het om die Nagmaal vir die eerste keer te gebruik.

Nadat ek 12 jaar gelukkig getroud was, is my man oorlede en moes ek vir ons vier dogters sorg. Ek was net 33 jaar oud! Ek het vertroosting in my Katolieke geloof probeer vind, maar ek het onbeantwoorde vrae gehad. Ek het gewonder: ‘Waarom sterf mense nog as Christus ons losgekoop het? Waarom bid ons dat God se Koninkryk moet kom as goeie mense hemel toe gaan?’ En bowenal wou ek weet: ‘As God ons oordeel wanneer ons sterf, waarom moet ons dan later die hemel, die vaevuur of die hel verlaat vir die laaste oordeel?’

Ek het ’n paar priesters hierdie vrae gevra. Een van hulle het geantwoord: “Ek weet nie. Vra die biskop. Wat maak dit saak? Jy glo mos in God. Laat dit net daar!” Maar ek het aanhou soek na antwoorde. Later het ek lesings deur Jesuïete, Pinksterleraars en Gnostici bygewoon. Maar nie een van hulle het bevredigende antwoorde op my vrae gehad nie.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

Toe ek in my 60’s was, het ’n sewejarige leerling my genooi om ’n vergadering van Jehovah se Getuies by te woon. Ek het gehou van wat ek gesien en gehoor het, maar omdat my lewe so besig was, het ek op daardie tydstip geen verdere kontak met die Getuies gehad nie. Twee jaar later het ’n Getuie-egpaar, Juan en Maite, aan my deur geklop. Ons het drie maande lank diep vraag-en-antwoord-sessies gehad, wat uiteindelik tot ’n Bybelstudie gelei het.

Ek het baie uitgesien na elke studiesessie! Met behulp van drie Bybelvertalings het ek alles noukeurig ondersoek om seker te maak dat Jehovah se Getuies die waarheid leer. Ek het kort voor lank besef dat ek dekades lank verward was wat godsdiens betref. Die hemelsbreë verskil tussen my vorige opvattings en wat ek nou uit die Bybel geleer het, was vir my ontstellend. Ek het oorweldig gevoel, asof my opvattings soos ’n diepgewortelde boom uit die grond geruk is.

Ek het geweet dat ek ’n skat gevind het

Toe het my tweede man ernstig siek geword en gesterf. Om en by dieselfde tyd het ek afgetree en Bilbao vir ’n ruk verlaat. Juan en Maite het ook weggetrek. Ongelukkig het ek nie volgehou met my Bybelstudie nie. Maar ek het diep in my hart geweet dat ek ’n skat gevind het. Ek het dit nooit vergeet nie.

Sowat 20 jaar later, toe ek 82 was, het Juan en Maite na Bilbao teruggekeer en my besoek. Ek was baie bly om hulle weer te sien! Ek het besef dat Jehovah my nie vergeet het nie en het weer begin studeer. Juan en Maite was baie geduldig met my, al het ek dieselfde vrae oor en oor gevra. Ek moes die Bybelse redenasies herhaaldelik hoor om my emosionele band met my vorige opvattings te verbreek. Ek wou ook in staat wees om Bybelwaarhede op ’n doeltreffende wyse aan my vriende en familie te verduidelik.

Die dag toe ek uiteindelik gedoop isop 87-jarige ouderdomwas die gelukkigste dag van my lewe. Ek is by ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies gedoop. ’n Christen- ouer man het ’n Bybeltoespraak gehou wat veral gerig was op dié van ons wat gedoop sou word. Tydens die toespraak het ek trane in my oë gekry. Dit was asof Jehovah regstreeks met my gepraat het. Ná my doop het tientalle Getuies na my toe gekom en my gelukgewensal het die meeste van hulle my nooit tevore ontmoet nie!

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Ek het altyd geweet dat Jesus Christus “die weg” is (Johannes 14:6). Maar my Bybelstudie het my gehelp om Jehovah, die een na wie Jesus ons lei, te leer ken. Nou kan ek tot God bid as my geliefde Vader en Vriend. Nadat ek die boek Kom nader aan Jehovah * gelees het, het ek ’n keerpunt in my lewe bereik. Toe ek dit die eerste keer gelees het, het ek dit in een nag deurgelees! Ek is diep getref toe ek geleer het hoe barmhartig Jehovah werklik is.

Wanneer ek dink aan hoe lank ek na godsdienswaarheid gesoek het, herinner dit my aan Jesus se woorde: “Hou aan vra, en vir julle sal gegee word; hou aan soek, en julle sal vind; hou aan klop, en vir julle sal oopgemaak word” (Matteus 7:7). Noudat ek die antwoorde gevind het waarna ek so lank gesoek het, verskaf dit my groot vreugde om ander daarvan te vertel.

Al is ek 90 jaar oud, voel ek geestelik jonk. Elke vergadering wat ek by die Koninkryksaal bywoon, is ’n spesiale geleentheidweens die kosbare kennis wat ek inneem sowel as die geselskap van my dierbare broers en susters. Ek wil baie graag op die beloofde Paradysaarde weer ’n onderwyseres wees (Openbaring 21:3, 4). Ek sien veral daarna uit om my geliefdes wat gesterf het, in die opstanding terug te verwelkom en om hulle Bybelwaarheid te leer (Handelinge 24:15). Ek kan nie wag om hulle te vertel van die kosbare gawe wat Jehovah my op my oudag gegee het nie!

^ par. 15 Uitgegee deur Jehovah se Getuies.