Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DIE BYBEL VERANDER LEWENS

“Baie mense het my gehaat”

“Baie mense het my gehaat”
  • GEBORE: 1978

  • GEBOORTELAND: CHILI

  • GESKIEDENIS: UITERS GEWELDDADIG

MY VERLEDE:

Ek het grootgeword in Santiago, die hoofstad van Chili, in ’n buurt waar dwelms, bendes en misdaad algemeen was. Toe ek vyf was, is my pa vermoor. Daarna het my ma met ’n wrede man saamgelewe. Hy het ons al twee gereeld geslaan. Ek het nog steeds emosionele letsels weens daardie jare.

Terwyl ek grootgeword het, het al die negatiewe invloede in my lewe my uiters gewelddadig laat word. Ek het na heavy metal-musiek geluister, te veel gedrink en soms dwelms gebruik. Ek was gereeld betrokke by straatgevegte met dwelmhandelaars, wat my ’n hele paar keer probeer doodmaak het. Eenkeer het ’n bende ’n berugte huurmoordenaar gevra om my dood te maak, maar ek het met net ’n steekwond daarvan afgekom. By ’n ander geleentheid het ’n groep dwelmhandelaars ’n pistool teen my kop gehou en my probeer hang.

In 1996 het ek verlief geraak op ’n vrou met die naam Carolina, en ons is in 1998 getroud. Nadat ons eerste seun gebore is, was ek bang dat ek weens my verskriklike humeur soos my stiefpa sou word en my gesin sou mishandel. Daarom het ek by ’n plaaslike rehabilitasiesentrum hulp gesoek. Ek het mediese behandeling en terapie ontvang, maar dit het niks gehelp nie. Ek het nog steeds woedend geword oor elke klein dingetjie; ek het geen selfbeheersing gehad nie. In ’n misplaaste poging om my gesin te beskerm, het ek probeer selfmoord pleeg. Gelukkig het ek dit nie reggekry nie.

Ek was baie jare lank ’n ateïs, maar ek wou aan God glo. Daarom het ek ’n ruk lank die dienste van ’n evangeliese godsdiens bygewoon. Intussen het my vrou die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Ek het die Getuies gehaat en dikwels op hulle geskreeu en hulle gevloek. Maar tot my verbasing het hulle altyd op ’n vredeliewende wyse gereageer.

Eendag het Carolina my gevra om Psalm 83:18 in my Bybel na te slaan. Hierdie vers sê duidelik dat God se naam Jehovah is. Ek het toe besef dat ek in my godsdiens van ’n god geleer het, maar nie van Jehovah nie. Vroeg in die jaar 2000 het ek ook die Bybel saam met die Getuies begin studeer.

 HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

Terwyl ek vooruitgang gemaak het, het die wete dat Jehovah ’n medelydende en vergewensgesinde God is, my vertroos. In Eksodus 34:6, 7 beskryf die Bybel Jehovah byvoorbeeld as “’n barmhartige en genadige God, wat nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid en waarheid, wat liefderyke goedhartigheid vir duisende bewaar, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe”.

Dit was nogtans nie maklik om toe te pas wat ek geleer het nie. Ek was oortuig dat ek nooit my verskriklike humeur sou kon beteuel nie. Elke keer as ek dit nie reggekry het nie, het Carolina my liefdevol aangemoedig. Sy het my daaraan herinner dat Jehovah my pogings raaksien. Haar ondersteuning het my die krag gegee om aan te hou om Jehovah te probeer behaag, hoewel ek dikwels gedink het dat daar geen hoop vir my is nie.

Eendag het my studiehouer, Alejandro, my gevra om Galasiërs 5:22, 23 te lees. Volgens hierdie verse is die vrug van God se gees “liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing”. Alejandro het verduidelik dat ek hierdie eienskappe nie in my eie krag kan aankweek nie, maar slegs met die hulp van God se heilige gees. Hierdie waarheid het my beskouing heeltemal verander!

Later het ek ’n groot streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies bygewoon. Die ordelikheid, netheid en broederskap wat ek daar gesien het, het my oortuig dat ek die ware godsdiens gevind het (Johannes 13:34, 35). Ek is in Februarie 2001 gedoop.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Jehovah het my van ’n gewelddadige na ’n vredeliewende mens verander. Ek voel dat hy my gehelp het uit die modder waarin ek vasgevang was. Baie mense het my gehaat, en ek neem hulle nie kwalik nie. Maar ek geniet nou ’n vreedsame lewe in Jehovah se diens saam met my vrou en twee seuns.

My familielede en voormalige vriende kan nie glo hoeveel veranderinge ek aangebring het nie. Gevolglik het ’n hele paar van hulle in Bybelwaarheid begin belangstel. Ek het ook die voorreg gehad om ander te help om Jehovah te leer ken. Hoe wonderlik was dit tog om te sien hoe Bybelwaarheid hulle lewe ook verander!