Spring na inhoud

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

‘Ek is nie meer ’n wrede man nie’

‘Ek is nie meer ’n wrede man nie’
  • Gebore: 1973

  • Geboorteland: Uganda

  • Geskiedenis: Gewelddadige en onsedelike dronkaard

MY VERLEDE

 Ek is gebore in Uganda in die streek Gomba. Meeste mense daar was baie arm. Ons dorpie het nie elektrisiteit gehad nie, so in die aand het ons olielampe gebruik wat ons kon ronddra.

 My ouers, wat plaasboere was, het van Rwanda af na Uganda getrek. Hulle het koffie en piesangs geplant, en van die piesangs het hulle ’n populêre drankie gemaak wat waragi genoem is. My ouers het ook geboer met hoenders, bokke, varke en beeste. My kultuur en hoe ek groot geword het, het my geleer dat ’n vrou altyd gehoorsaam aan haar man moet wees en nooit haar opinie mag gee nie.

 Toe ek 23 jaar oud was, het ek Rwanda toe getrek, waar ek saam met ander mense van my ouderdom na dansklubs toe gegaan het. Ek het so baie na een van die klubs toe gegaan dat die bestuurder vir my ’n kaart gegee het wat my toegelaat het om verniet in te gaan. Ek het ook van flieks gehou waarin hulle met mekaar baklei het en wat baie gewelddadige tonele gehad het. My assosiasie en vermaak het my beïnvloed om ’n gewelddadige en onsedelike dronkaard te word.

 In 2000 het ek saam met ’n jong vrou met die naam Skolastique Kabagwira ingetrek en ons het drie kinders gehad. Soos wat ek geleer het toe ek jonger was, het ek verwag dat sy voor my kniel as sy my groet of iets wil vra. Ek het ook gedink dat alles wat ons het net myne was om te gebruik soos ek wil. Ek het gereeld in die aand uitgegaan en eers omtrent drie-uur in die oggend dronk by die huis aangekom. Ek sou aan die deur klop en as Skolastique te lank vat om oop te maak, het ek haar geslaan.

 Op daardie stadium het ek as ’n opsigter vir ’n privaat sekuriteitsmaatskappy gewerk en het ek ’n goeie salaris verdien. By die huis het Skolastique my probeer oortuig om by haar Pinksterkerk aan te sluit. Sy het sonder twyfel gedink dat dit my sou verander. Maar ek het nie belanggestel nie. In plaas daarvan het ek ’n romantiese verhouding met ’n ander vrou begin. As gevolg van my wrede en onsedelike optrede het Skolastique ons drie kinders gevat en by haar ouers ingetrek.

 Een van ons bejaarde vriende het met my gepraat oor my lewenswyse. Hy het my aangemoedig om terug te gaan na Skolastique. Hy het gesê dat my pragtige kinders nie verdien om sonder hulle pa te wees nie. So in 2005 het ek opgehou drink, die ander vrou gelos en teruggegaan na Skolastique. In 2006 is ons getroud. Maar ek was nog steeds gewelddadig teenoor my vrou en ek het haar mishandel.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET

 In 2008 het een van Jehovah se Getuies met die naam Joël ons besoek, en ek het na sy boodskap geluister. Vir ’n paar maande het hy en ’n ander Getuie, Bonaventure, my gereeld besoek, en ons het diep gesprekke oor die Bybel gehad. Ek het baie vrae gevra, veral oor die boek Openbaring. Ek het eintlik probeer om die Getuies verkeerd te bewys. Byvoorbeeld, ek het gevra hoe kon hulle sê dat die “groot menigte” wat in Openbaring 7:9 genoem word, op die aarde sou lewe as die vers sê dat hulle ‘voor die troon en voor die Lam’, Jesus Christus, staan. Joël het geduldig my vrae beantwoord. Byvoorbeeld, hy het vir my Jesaja 66:1 gewys, waar God die aarde sy “voetbank” noem. So die groot menigte staan eintlik op die aarde voor God se troon. En ek het Psalm 37:29 gelees, wat sê dat die regverdiges vir ewig op die aarde sal lewe.

 Uiteindelik het ek ingestem om die Bybel te studeer. Bonaventure het toe met my en Skolastique studeer. Terwyl ons die Bybel studeer het, wou ek graag my lewe verander. Ek het geleer om my vrou met respek te behandel. Ek wou nie meer hê dat sy voor my moet kniel wanneer sy my groet of iets vra nie. En ek het opgehou om te sê dat alles wat my gesin besit het, net myne is. Ek het ook opgehou om gewelddadige flieks te kyk. Om hierdie veranderinge te maak, was moeilik en ek het baie selfbeheersing en nederigheid nodig gehad.

Die Bybel het my gehelp om ’n baie beter man te word

 ’n Paar jaar vroeër het ek my oudste kind, Christian, gevat om by familielede in Uganda te gaan bly. Maar nadat ek Deuteronomium 6:4-7 gelees het, het ek besef dat dit my en my vrou se verantwoordelikheid is om vir ons kinders te sorg. Dit het ingesluit dat ons vir hulle Bybelwaarhede moet leer. Ons en ons seun was baie bly toe ons hom huis toe gebring het!

HOE DIT MY LEWE BETER GEMAAK HET

 Ek het geleer dat Jehovah ’n genadige God is, en ek glo dat hy my vergewe het vir hoe ek in die verlede opgetree het. Ek is so bly dat Skolastique saam met my die Bybel studeer het. Ons het ons lewe aan Jehovah toegewy en ons is op 4 Desember 2010 saam gedoop. Ons vertrou mekaar nou en ons geniet dit om Bybelwaarhede in ons gesin toe te pas. My vrou is baie bly dat ek reguit huis toe kom ná werk. Sy waardeer dit ook dat ek haar met waardigheid en respek behandel, dat ek ’n persoonlike besluit geneem het om nie te drink nie en dat ek nie meer ’n wrede man is nie. In 2015 is ek as ’n ouerman aangestel om as herder in ons gemeente te dien. Drie van ons vyf kinders is gedoop.

 Toe ek begin het om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer, het ek nie net aanvaar wat hulle my geleer het sonder om dit aan myself te bewys nie. Maar ek was beïndruk dat hulle die Bybel gebruik het om my vrae te beantwoord. Ek en Skolastique het besef dat dié wat sê dat hulle die ware God dien, alles moet gehoorsaam wat hy sê en nie net die dinge wat hulle pas nie. Ek is so dankbaar dat Jehovah my na hom toe getrek het, en dat ek nou deel van sy geestelike familie kan wees. Wanneer ek dink aan my lewe, is ek oortuig dat enige opregte persoon met God se hulp die nodige veranderinge kan maak om hom gelukkig te maak.