Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DIE BYBEL VERANDER LEWENS

“Dit was my droom om ’n priester te word”

“Dit was my droom om ’n priester te word”
  • GEBORE: 1957

  • GEBOORTELAND: MEXIKO

  • GESKIEDENIS: STUDENT AAN ’N GODSDIENSSKOOL; VERSKRIKLIKE HUMEUR

MY VERLEDE:

Ek is in Texcoco gebore, ’n klein dorpie wat destyds meestal stowwerige grondpaaie gehad het. Mense van nabygeleë dorpies het dikwels met hulle volgelaaide donkies in ons dorpie kom handel dryf. Ons gesin was baie arm. Ons was nege kinders, en ek was die sewende. My pa het guaraches (sandale) reggemaak om ons gesin te onderhou. Maar hy het gesterf toe ek sewe jaar oud was. Van toe af het my ma gesukkel om kos vir die gesin te voorsien.

My oupa het viool gespeel en was die dirigent van ’n orkes wat hoofsaaklik klassieke godsdienstige musiek gespeel het. Byna al my familielede kon ’n musiekinstrument bespeel. My ma het in die kerkkoor gesing, en my oom was ’n operasanger en klavierspeler. Ons was godsdienstig—ek was ’n altaarknaap, en dit was my droom om ’n Katolieke sendeling te word. Terselfdertyd was ek versot op karateflieks. Hoe meer ek hierdie flieks gekyk het, hoe gewelddadiger het my persoonlikheid geword.

Ek het ’n godsdiensskool in Puebla begin bywoon wat soos ’n kweekskool gefunksioneer het. My doel was om ’n Katolieke priester te word. Maar gedurende my laaste jaar by dié skool is ek ontnugter deur die Katolieke Kerk. ’n Jong non het seksuele toenadering by my gesoek. Ek het die versoeking weerstaan, maar die situasie het by my die begeerte gewek om te trou. Ook het ek gesien dat verskeie priesters se lewenswyse skynheilig is. Ek het uiteindelik my doelwit om ’n priester te word, laat vaar.

As ’n altaarknaap was dit my droom om ’n Katolieke sendeling te word, maar ek was ook versot op karateflieks, en my persoonlikheid het gewelddadig geword

Ek het besluit om musiek te studeer aan die Nasionale Musiekskool in Mexikostad. Nadat ek gegradueer het, het  ek getrou, en ek en my vrou het kort voor lank vier kinders gehad. Ek het my gesin onderhou deur tydens die mis in die Katolieke Kerk te sing.

Van die staanspoor af het ons huweliksprobleme gehad. Ek en my vrou was gewelddadig teenoor mekaar, grotendeels omdat ons jaloers was. Ons het mekaar eers met woorde en later fisies aangeval. Ná 13 jaar het ons uiteindelik besluit om uitmekaar te gaan, en later om te skei.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

Ek het Jehovah se Getuies die eerste keer ontmoet kort voordat ek en my vrou uitmekaargegaan het. Twee Getuies het aan ons deur geklop en aangebied om die Bybel met ons te bespreek. Ek het gedink dat ek baie omtrent godsdiens weet, en daarom het ek besluit om hulle verkeerd te bewys. Ek het moeilike vrae gestel wat ek gedink het geen antwoord het nie. Maar tot my verbasing het hulle my altyd goeie antwoorde gegee wat op die Bybel gegrond was. Ek het begin besef hoe min ek eintlik weet. Maar omdat my vrou baie onbeskof was teenoor die Getuies en ek baie besig was, het die besoeke tot ’n einde gekom.

Vyf jaar later, toe ek met ’n ander vrou, Elvira, saamgewoon het, het ek weer eens met Jehovah se Getuies in aanraking gekom. Elvira het die Getuies nie teëgestaan nie, en daarom was dit vir my makliker om gereeld ’n Bybelstudie te hê. Dit het my nogtans ’n hele paar jaar geneem om my lewe te verander.

Ek het besef dat ek groot veranderinge sal moet aanbring as ek Jehovah heelhartig wil aanbid. Eers moes ek bedank uit my werk om tydens die mis in die Katolieke Kerk te sing, wat beteken het dat ek ’n ander manier moes vind om my gesin te onderhou (Openbaring 18:4). Ek moes ook my huwelik met Elvira registreer.

Maar een van die moeilikste veranderinge wat ek moes aanbring, was om te leer om my opvlieënde humeur te beteuel. Twee Bybelverse wat my baie gehelp het, was: Psalm 11:5, wat toon dat Jehovah geweld haat, en 1 Petrus 3:7, wat my geleer het dat ek my vrou moet eer as ek wil hê dat Jehovah na my gebede moet luister. Omdat ek oor hierdie verse nagedink het en Jehovah in gebed gevra het om my te help, het ek geleidelik daarin geslaag om my humeur in toom te hou.

In die Bybel het ek geleer dat ek my vrou moet eer as ek wil hê dat Jehovah na my gebede moet luister

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Ek geniet nou ’n gelukkige gesinslewe. Ek probeer om my verhouding met my seuns uit my eerste huwelik te herstel en om my huidige gesin te help om sterk in die geloof te bly.

Toe ek ’n kind was, was dit my droom om ’n priester te word en mense te help. Nou voel ek dat my lewe waarlik sinvol is. Ek onderhou my gesin deur musiekonderrig te gee. Ek is so dankbaar dat Jehovah geduldig met my was en my die geleentheid gegee het om te verander en ’n beter mens te word!