Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Wie is die “vrou” wat in Jesaja 60:1 genoem word, en hoe ‘staan sy op’ en ‘versprei sy lig’?

Jesaja 60:1 sê: “Staan op, o vrou, versprei lig, want jou lig het gekom. Die heerlikheid van Jehovah skyn op jou.” Die konteks wys dat die “vrou” Sion, of Jerusalem, was – die hoofstad van Juda op daardie tyd (Jes. 60:14; 62:​1, 2). a Jerusalem verteenwoordig die hele nasie Israel. Jesaja se woorde laat twee vrae ontstaan: Eerstens, wanneer en hoe het Jerusalem ‘opgestaan’ en geestelike lig versprei? Tweedens, het Jesaja se woorde ’n groter vervulling in ons dag?

Wanneer en hoe het Jerusalem ‘opgestaan’ en geestelike lig versprei? Jerusalem en sy tempel was in ’n slegte toestand terwyl die Jode vir 70 jaar in ballingskap in Babilon was. Maar nadat Babilon deur die Mede en die Perse verower is, kon Israeliete van regoor die Babiloniese Ryk na hulle tuisland terugkeer en ware aanbidding herstel (Esra 1:​1-4). Vanaf 537 VHJ het ’n getroue oorblyfsel uit al 12 stamme dit gedoen (Jes. 60:4). Hulle het begin om offerandes aan Jehovah te offer, die feeste te vier en die tempel te herbou (Esra 3:​1-4, 7-11; 6:​16-22). Jehovah se heerlikheid het weer begin skyn op Jerusalem – dit wil sê God se herstelde volk. Hulle het toe ’n figuurlike lig vir die nasies geword, wat in geestelike duisternis was.

Maar Jesaja se herstellingsprofesieë is op daardie tyd net gedeeltelik vervul. Die meeste Israeliete het nie aan God gehoorsaam gebly nie (Neh. 13:27; Mal. 1:​6-8; 2:​13, 14; Matt. 15:​7-9). Later het hulle selfs die Messias, Jesus Christus, verwerp (Matt. 27:​1, 2). In 70 HJ is Jerusalem en sy tempel vir die tweede keer vernietig.

Jehovah het daardie tragiese uiteinde voorspel (Dan. 9:​24-27). Dit was duidelik nie sy doel dat die aardse Jerusalem elke aspek van die herstellingsprofesieë in Jesaja hoofstuk 60 moet vervul nie.

Het Jesaja se woorde ’n groter vervulling in ons dag? Ja, maar in verband met ’n ander simboliese vrou – “die Jerusalem daar bo”. Die apostel Paulus het oor haar gesê: “Sy is ons moeder” (Gal. 4:26). Jerusalem daar bo is die hemelse deel van God se organisasie, wat bestaan uit lojale geesskepsele. Haar “kinders” sluit Jesus en die 144 000 geesgesalfde Christene in, wat soos Paulus ’n hemelse hoop het. Die gesalfde Christene vorm “’n heilige nasie” – “die Israel van God”. – 1 Pet. 2:9; Gal. 6:16.

Hoe het die Jerusalem daar bo ‘opgestaan’ en ‘lig versprei’? Sy het dit gedoen deur middel van haar aardse gesalfde kinders. Vergelyk hulle ondervindinge met wat voorspel is in Jesaja hoofstuk 60.

Die gesalfde Christene moes ‘opstaan’ omdat hulle in geestelike duisternis was toe die voorspelde onkruid van afvalligheid hulle in die tweede eeu HJ oorweldig het (Matt. 13:​37-43). Hulle het toe gevangenes geword van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens. Die gesalfdes het gevange gebly tot “die tyd van die einde”, ’n tydperk wat in die jaar 1914 begin het (Matt. 13:​39, 40). Kort daarna, in 1919, is hulle vrygelaat en het hulle onmiddellik geestelike lig begin versprei deur ten volle betrokke te raak by die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk. b Oor die jare het mense van alle nasies na daardie lig gekom, insluitende die oorblywendes van die Israel van God – die “konings” wat in Jesaja 60:3 genoem word. – Op. 5:​9, 10.

In die toekoms sal gesalfde Christene die lig van Jehovah op ’n selfs groter manier versprei. Hoe so? Wanneer hulle hulle aardse loopbaan voltooi, sal hulle deel word van “Nuwe Jerusalem,” of Christus se bruid van 144 000 medekonings en -priesters. – Op. 14:1; 21:​1, 2, 24; 22:​3-5.

Nuwe Jerusalem sal ’n belangrike rol speel in die vervulling van Jesaja 60:1. (Vergelyk Jesaja 60:​1, 3, 5, 11, 19, 20 met Openbaring 21:​2, 9-11, 22-26.) Net soos aardse Jerusalem die middelpunt van die regering in eertydse Israel was, so sal Nuwe Jerusalem en Christus die regering van die nuwe wêreld word. Hoe daal Nuwe Jerusalem “van God af uit die hemel [neer]”? Deur sy aandag op die aarde te vestig. Godvresende mense uit alle nasies “sal in die stad se lig lewe”. Hulle sal selfs bevry word van sonde en die dood (Op. 21:​3, 4, 24). As gevolg daarvan sal “alle dinge [heeltemal] herstel word,” soos Jesaja en ander profete voorspel het (Hand. 3:21). Daardie groot herstelling het begin toe Christus Koning word en sal eindig aan die einde van sy Duisendjarige Heerskappy.

a In Jesaja 60:1 gebruik die Nuwe Wêreld-vertaling “vrou” in plaas van “Sion”, of “Jerusalem”, omdat die Hebreeuse werkwoorde vir “staan op” en “versprei lig” in die vroulike geslag is, sowel as die een wat as “jou” aangespreek word. Die woord “vrou” help die Afrikaanssprekende leser om te verstaan dat daar met ’n simboliese vrou gepraat word.

b Die geestelike herstelling wat in 1919 plaasgevind het, word ook in Esegiël 37:​1-14 en Openbaring 11:​7-12 beskryf. Esegiël het voorspel dat alle gesalfde Christene ná ’n baie lang tydperk van gevangenskap geestelik herstel sou word. Die profesie in Openbaring verwys na die geestelike wedergeboorte van ’n klein groepie gesalfde broers wat die leiding geneem het nadat hulle Jehovah vir ’n kort rukkie nie aktief kon dien nie as gevolg van onregverdige gevangenskap. Hulle is in 1919 as “die getroue en verstandige slaaf” aangestel. – Matt. 24:45; sien Rein aanbidding van Jehovah – Uiteindelik herstel!, bl. 118.