Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om by ’n nuwe gemeente aan te pas

Hoe om by ’n nuwe gemeente aan te pas

HET jy al ooit na ’n nuwe gemeente toe getrek? As jy het, stem jy heel moontlik saam met Jean-Charles, wat sê: “Dit is ’n uitdaging om by ’n nuwe gemeente aan te pas terwyl jy die geestelike balans van almal in die gesin behou.” Wanneer jy trek, sal jy dalk ’n nuwe werk, nuwe blyplek en dalk nuwe skole moet soek sowel as gewoond moet raak aan ’n erger klimaat, ’n ander kultuur en ’n nuwe velddiensgebied.

Nicolas en Céline het ’n ander uitdaging gehad. Hulle het ’n toewysing aanvaar van die takkantoor in Frankryk om na ’n nuwe gemeente toe te trek. Hulle vertel: “Aan die begin was ons baie opgewonde, maar toe het dinge begin moeilik raak omdat ons na ons vriende verlang het. Ons verhouding met die broers in ons nuwe gemeente was nog nie sterk genoeg nie.” a Hoe kan jy met hierdie uitdagings in gedagte ’n sukses daarvan maak wanneer jy na ’n nuwe gemeente toe trek? Wat kan ander doen om te help? En op watter maniere kan jy ander in jou nuwe gemeente aanmoedig en ook aangemoedig word?

VIER BEGINSELS OM JOU TE HELP OM DIE UITDAGING TE OORKOM

Vertrou op Jehovah

1. Vertrou op Jehovah (Ps. 37:5). Kazumi, in Japan, het die gemeente waaraan sy 20 jaar lank behoort het, verlaat toe hulle as gevolg van haar man se werk moes trek. Hoe het sy ‘haar weg aan Jehovah oorgelaat’? Sy sê: “Ek het my hart in gebed voor Jehovah uitgestort en hom vertel hoe bekommerd, eensaam en angstig ek gevoel het. Elke keer dat ek dit gedoen het, het hy my die krag gegee wat ek nodig gehad het.”

Hoe kan jy meer op Jehovah vertrou? Net soos ’n plant water en voedingstowwe uit die grond nodig het om te groei, moet ons geloof gevoed word om te groei. Nicolas, wat vroeër genoem is, het gevind dat sy vertroue in Jehovah se ondersteuning versterk is toe hy nagedink het oor die voorbeelde van Abraham, Jesus en Paulus – mans wat baie opofferings gemaak het om God se wil te doen. ’n Gereelde program van persoonlike Bybelstudie sal jou nie net help om enige veranderinge in jou lewe te hanteer nie maar sal jou ook toerus met geestelike geskenke wat jy met ander in jou nuwe gemeente kan deel.

Moenie vergelykings maak nie

2. Moenie vergelykings maak nie (Pred. 7:10). Jules moes by ’n hele ander kultuur aanpas toe hy van Benin na die Verenigde State getrek het. “Ek was onder die indruk dat ek my lewensverhaal moes vertel vir elke nuwe persoon wat ek ontmoet het,” sê hy. Omdat dit baie anders was as dit waaraan hy gewoond was, het hy homself van die gemeente begin afsonder. Maar nadat hy die broers en susters beter leer ken het, het hy sy beskouing verander. Hy sê: “Ek glo dat mense dieselfde is, maak nie saak waar ons op die aarde is nie. Hulle druk hulleself net anders uit. Dit is baie belangrik om mense te aanvaar soos hulle is.” So moenie jou vorige gemeente met jou nuwe gemeente vergelyk nie. Anne-Lise, ’n pioniersuster, het gesê: “Ek het nie getrek om te vind wat ek agtergelaat het nie. Ek het getrek om nuwe dinge te ontdek.”

Ouermanne moet ook nie hulle vorige gemeente met hulle nuwe gemeente vergelyk nie. Verskillende metodes is nie noodwendig verkeerd nie. Dit is wys om die plaaslike omstandighede te leer ken voordat jy voorstelle maak (Pred. 3:​1, 7b). Dit is beter om die broers deur jou goeie voorbeeld te leer as om jou eie idees op ’n gemeente af te dwing. – 2 Kor. 1:24.

Raak betrokke

3. Raak betrokke (Fil. 1:27). Dit kos baie tyd en energie om te trek, maar dit is baie belangrik om reg van die begin gemeentelike vergaderinge – in persoon indien moontlik – by te woon. Om die waarheid te sê, as dié in jou nuwe gemeente jou nooit of baie min sien, hoe kan hulle jou ondersteun? Lucinda, wat met haar twee dogters na ’n groot stad in Suid-Afrika getrek het, vertel: “My vriende het my aangemoedig om daarop te fokus om diep betrokke te raak by die gemeente, om saam met ander in die bediening te werk en om aan die vergaderinge deel te neem. Ons het ook ons huis aangebied om vir velddiensvergaderinge gebruik te word.”

Om “sy aan sy” met die broers en susters in jou nuwe gemeente aan teokratiese bedrywighede deel te neem, is ’n goeie manier om by te dra tot “geloof in die goeie nuus”. Anne-Lise, wat vroeër genoem is, is deur haar ouermanne aangemoedig om saam met almal in die bediening te probeer werk. Die gevolg? “Ek het vinnig besef dat dit ’n uitstekende manier is om deel te voel van die gemeente,” sê sy. En om deel te neem aan aktiwiteite soos om die Koninkryksaal skoon te maak en in stand te hou, sal wys dat jy nou hierdie gemeente as jou gemeente beskou. Hoe meer jy betrokke raak, hoe gouer sal jy aanvaar word en deel voel van jou nuwe geestelike familie.

Maak nuwe vriende

4. Maak nuwe vriende (2 Kor. 6:​11-13). Persoonlike belangstelling in ander is die beste manier om vriende te maak, so maak seker dat jy voor en ná vergaderinge genoeg tyd het om met ander te gaan gesels en hulle te leer ken. Probeer hard om hulle name te onthou. Wanneer jy mense se name onthou, en wanneer jy vriendelik is en maklik is om mee te gesels, sal hulle jou wil leer ken, en julle sal heel moontlik goeie vriende word.

Moenie te bekommerd wees oor of jou nuwe broers en susters jou gaan aanvaar nie; laat hulle eerder toe om jou te leer ken vir wie jy regtig is. Leer by Lucinda, wat gesê het: “Ons het nou baie goeie vriende omdat ons die inisiatief geneem het om ander na ons huis te nooi.”

“VERWELKOM MEKAAR”

Om by ’n Koninkryksaal vol vreemdelinge in te stap, kan vir party baie stresvol wees. So hoe kan jy dit vir die nuwe intrekkers makliker maak? Die apostel Paulus het ons aangemoedig: “Verwelkom mekaar . . . net soos die Christus ons ook verwelkom het” (Rom. 15:7). Ouermanne kan help om nuwes welkom te laat voel deur Christus na te volg. (Sien die venster “ Wat jou sal help om ’n sukses te maak van jou trek”.) Maar almal in die gemeente, insluitende kinders, kan help om nuwes welkom te laat voel.

Om ander te verwelkom sluit in dat ons gasvryheid aan hulle betoon, maar dit kan ook praktiese hulp insluit. Een suster het byvoorbeeld van haar kosbare tyd opgeoffer om ’n nuwe intrekker rond te wys en om vir haar te verduidelik hoe die openbare vervoerstelsel werk. Dit wat die suster gedoen het, het haar hart geraak en haar gehelp om aan te pas.

’N GELEENTHEID OM TE GROEI

Terwyl ’n sprinkaan volwasse word, vervel dit ’n hele paar keer voordat sy vlerke in staat is om te vlieg. Net so, wanneer jy na ’n nuwe gemeente toe trek, moet jy ontslae raak van enige bekommernis wat keer dat jy jou vlerke in Jehovah se diens sprei. “Om te trek, is uitstekende opleiding,” sê Nicolas en Céline. “Ons moes nuwe eienskappe ontwikkel sodat ons by nuwe mense en ’n ander omgewing kon aanpas.” Jean-Charles, wat aan die begin genoem is, sê hoe sy gesin baat gevind het: “Die verandering het ons kinders toegelaat om in die nuwe gemeente te floreer. Ná net ’n paar maande het ons dogter toewysings vir die vergadering in die week aanvaar, en ons seun het ’n ongedoopte verkondiger geword.”

Sê nou jou omstandighede keer byvoorbeeld dat jy trek na waar daar meer verkondigers nodig is? Hoekom maak jy dan nie ’n vars begin waar jy is en probeer om party van die voorstelle hierbo toe te pas nie? Vertrou op Jehovah en raak ten volle betrokke by gemeentelike aktiwiteite deur reëlings te maak om saam met ander in die bediening te werk en nuwe vriendskappe te ontwikkel of bestaande vriendskappe te versterk. Kan jy nuwes of dié wat hulp nodig het, op die een of ander praktiese manier help? Aangesien liefde die kenmerk is van ware Christene sal dit jou beslis help om geestelik te groei as jy dit doen (Joh. 13:35). Jy kan die vertroue hê dat “sulke offerandes . . . God bly [maak]”. – Heb. 13:16.

Ten spyte van die uitdagings het baie Christene ’n sukses daarvan gemaak om na ’n nuwe gemeente toe te trek – en jy kan ook! “Om na ’n nuwe gemeente toe te trek, het my gehelp om my hart wyd oop te maak,” sê Anne-Lise. Kazumi is nou oortuig dat as ’n mens trek “jy Jehovah se ondersteuning op maniere kan ondervind wat jy nog nooit voorheen ondervind het nie”. En wat van Jules? Hy sê: “Die vriendskappe wat ek gemaak het, het my gehelp om te voel dat ek iewers inpas. Ek voel nou so deel van my nuwe gemeente dat dit vir my baie moeilik sal wees om die gemeente te verlaat.”

a Vir raad oor “Hoe om heimwee in God se diens die hoof te bied” sien die artikel met daardie titel in Die Wagtoring van 15 Mei 1994.