Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wanneer ’n ramp plaasvind

Wanneer ’n ramp plaasvind

“Aanvanklik het ons heeltemal hulpeloos gevoel. Al ons besittings is deur ’n modderstorting en oorstroming vernietig.” – Andrew, Sierra Leone.

“Ná die orkaan het ons na ons huis gaan kyk, en daar was niks oor nie. Ons was stomgeslaan. My dogter het op haar knieë geval en gehuil.” – David, Maagde-eilande.

AS JY al ’n natuurramp beleef het, sal jy dalk verstaan wat ander ondervind wanneer hulle so ’n ramp deurmaak: skok, verwarring, angstigheid, nagmerries en ’n weiering om te aanvaar dat dit werklik gebeur het. Baie van die oorlewendes is moedeloos en uitgeput en voel dat hulle nie die krag het om aan te gaan met die lewe nie.

As jy alles weens ’n natuurramp verloor het, sal jy miskien ook voel dat jy na aan breekpunt is. Jy kan selfs begin voel dat die lewe nie die moeite werd is nie. Maar die Bybel verduidelik dat die lewe wel die moeite werd is en dat jy seker kan wees dat daar ’n beter toekoms voorlê.

WAARHEDE IN DIE BYBEL GEE ONS HOOP

Prediker 7:8 sê: “Die uiteinde van ’n saak is beter as sy begin.” Ná ’n ramp kan die lewe hopeloos lyk. Maar wanneer jy geduldig werk om jou lewe weer in orde te probeer kry, kan jou omstandighede verbeter.

Die Bybel voorspel ’n tyd wanneer ‘die geluid van gehuil of die geluid van ’n klaaggeroep nie meer gehoor sal word nie’ (Jesaja 65:19). Dit sal gebeur wanneer die aarde onder God se Koninkryk in ’n paradys verander word (Psalm 37:11, 29). Natuurrampe sal iets van die verlede wees. Enige pynlike herinneringe en fisiese of emosionele letsels sal vir ewig weg wees, want God die Almagtige belowe: “Die vorige dinge sal nie onthou word nie, en ook sal dit nie in die hart opkom nie.” – Jesaja 65:17.

Dink net: Die Skepper het dit vir jou moontlik gemaak om “’n toekoms en ’n hoop” te hê – om in vrede te lewe onder God se volmaakte regering (Jeremia 29:11). Kan hierdie Bybelwaarheid jou help wanneer jy voel dat die lewe nie die moeite werd is nie? Sally, wat in die eerste artikel aangehaal word, sê: “As jy jouself herinner aan al die wonderlike dinge wat God se Koninkryk in die toekoms vir ons gaan doen, kan dit jou help om die verlede agter te laat en jou huidige omstandighede te verduur.”

Leer gerus meer oor wat God se Koninkryk binnekort vir die mensdom sal doen. Dit kan jou die versekering gee dat jou lewe wel die moeite werd is en dat daar ’n toekoms sonder enige natuurrampe voorlê. Intussen kan die Bybel jou praktiese raad gee wat jou kan help om moed te hou en die gevolge van ’n natuurramp te verduur. Kyk na ’n paar voorbeelde.