Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | HOE OM MEER UIT JOU BYBELLEES TE KRY

Waarom moet jy die Bybel lees?

Waarom moet jy die Bybel lees?

“Ek het gedink dat dit baie moeilik sou wees om die Bybel te verstaan.”—Jovy

“Ek het gedink dat dit vervelig sou wees.”—Queennie

“Toe ek sien hoe dik die Bybel is, was ek glad nie meer lus om dit te lees nie.”—Ezekiel

Het jy dit al ooit oorweeg om die Bybel te lees, maar dit dan nie gedoen nie omdat jy soos die persone hierbo gevoel het? Om die Bybel te lees kan vir baie mense oorweldigend wees. Maar sê nou jy vind uit dat dit jou kan help om ’n gelukkiger en bevredigender lewe te lei? En sê nou jy vind uit dat daar maniere is waarop jy die Bybel kan lees wat dit interessanter kan maak? Sou jy bereid wees om uit te vind wat die Bybel jou kan bied?

Party mense het die Bybel begin lees en baie daarby baat gevind. Kyk wat ’n paar van hulle sê.

Ezekiel, wat in sy vroeë 20’s is, sê: “In die verlede was ek soos iemand wat ’n motor bestuur het sonder om te weet waarheen hy op pad is. Maar toe ek die Bybel begin lees, het dit my lewe betekenisvol gemaak. Dit bevat praktiese raad wat ek elke dag kan gebruik.”

Frieda, wat ook in haar 20’s is, verduidelik: “Ek het altyd baie maklik kwaad geword. Maar omdat ek die Bybel begin lees het, het ek geleer om selfbeheersing te hê. Mense kom nou makliker met my oor die weg, en daarom het ek nou meer vriende.”

’n Vrou in haar 50’s met die naam Eunice sê die volgende oor die Bybel: “Dit help my om ’n beter mens te wees en om my slegte gewoontes te verander.”

As jy die Bybel lees, kan dit jou help om die lewe meer te geniet, soos in die geval van hierdie lesers en miljoene ander (Jesaja 48:17, 18). Die Bybel kan jou onder andere help om (1) goeie besluite te neem, (2) ware vriende te maak, (3) stres te hanteer en bowenal (4) om die waarheid oor God te leer. Die Bybel se raad kom van God af, en dit is altyd goed vir jou. God gee nooit slegte raad nie.

Wat belangrik is, is dat jy ’n begin maak. Watter praktiese wenke kan dit vir jou makliker maak om die Bybel te begin lees en om dit meer te geniet?