Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 1

Die voordele van selfbeheersing

Die voordele van selfbeheersing

WAT IS SELFBEHEERSING?

Selfbeheersing sluit die vermoë in om

  • te wag vir wat jy wil hê

  • te dink voordat jy optree

  • takies klaar te maak waarvan jy nie hou nie

  • ander bo jouself te stel

HOEKOM IS SELFBEHEERSING BELANGRIK?

Kinders wat selfbeheersing het, kan die versoeking weerstaan om iets verkeerds te doen, selfs al sou hulle dit geniet. Maar kinders wat min selfbeheersing het, sal miskien meer geneig wees om

  • aggressief te wees

  • aan depressie te ly

  • te rook, alkohol te misbruik of dwelms te gebruik

  • ongesond te eet

Volgens een studie is kinders met selfbeheersing minder geneig om as volwassenes gesondheidsprobleme en finansiële stres te hê en om die wet te oortree. Hierdie studie het professor Angela Duckworth van die Universiteit van Pennsilvanië tot die volgende slotsom laat kom: “Dit lyk nie of daar iets is soos ‘te veel’ selfbeheersing nie.”

LEER JOU KIND OM SELFBEHEERSING TE HÊ

Leer om nee te sê en dit te bedoel.

BYBELBEGINSEL: “Laat julle woord Ja eenvoudig Ja beteken, julle Nee, Nee.” – Matteus 5:37.

Jong kinders sal dalk toets of ’n ouer bedoel wat hy sê deur te huil of te skree – miskien selfs in die openbaar. As die ouer ingee, leer die kind dat hy sy ouer se nee in ’n ja kan verander as hy te kere gaan.

Maar as die ouer nee sê en dit bedoel, leer die kind ’n basiese lewensfeit: Ons kan nie altyd kry wat ons wil hê nie. “Ironies genoeg, mense wat hierdie les leer, is blykbaar die gelukkigste mense”, skryf dr. David Walsh. “Ons doen ons kinders nie ’n guns as ons vir hulle leer dat die wêreld altyd vir hulle op ’n silwerskinkbord sal gee wat hulle wil hê nie.” *

As jy nou vir jou kind nee sê, sal dit hom help om later in die lewe vir homself nee te sê – byvoorbeeld, as hy in die versoeking kom om dwelms te gebruik, voorhuwelikse seks te hê of ander skadelike dinge te doen.

Help jou kinders om te besef dat hulle dade goeie of slegte gevolge kan hê.

BYBELBEGINSEL: “Wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai.” – Galasiërs 6:7.

Jou kind moet verstaan dat dade gevolge het en dat ’n gebrek aan selfbeheersing slegte gevolge sal hê. Byvoorbeeld, as jou seun die gewoonte het om sy humeur te verloor wanneer hy ontsteld is, sal ander hom dalk vermy. Maar as hy leer om homself te beheer wanneer iemand hom kwaad maak – of om geduldig te wag eerder as om mense in die rede te val – sal ander meer van hom hou. Help jou kind om te verstaan dat dinge gewoonlik beter sal uitwerk as hy homself beheer.

Leer jou kind om prioriteite te stel.

BYBELBEGINSEL: “Maak [seker] van die belangriker dinge.” – Filippense 1:10.

Selfbeheersing beteken nie net dat jy jouself keer om iets verkeerds te doen nie. Dit sluit in dat ’n mens doen wat nodig is, selfs as dit nie opwindend of lekker is nie. Dit is belangrik dat jou kind leer hoe om prioriteite te stel en daarby te bly. Laat jou kind die belangrike dinge eerste doen. Laat hom byvoorbeeld eers sy huiswerk doen voordat hy kan speel.

Wees ’n goeie voorbeeld.

BYBELBEGINSEL: “Ek het vir julle die voorbeeld gestel, dat julle, net soos ek aan julle gedoen het, ook moet doen.” – Johannes 13:15.

Jou kind sal sien hoe jy reageer wanneer jy in ’n moeilike situasie is of gefrustreerd is. Wys deur jou voorbeeld dat dinge beter uitwerk as jy jouself beheer. Hoe reageer jy byvoorbeeld as jou kind jou geduld toets? Word jy kwaad of bly jy kalm?

^ par. 20 Uit die boek No: Why Kids—of All Ages—Need to Hear It and Ways Parents Can Say It.