Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 6

Sedelike standaarde is noodsaaklik

Sedelike standaarde is noodsaaklik

WAT IS SEDELIKE STANDAARDE?

Mense met hoë sedelike standaarde het ’n duidelike begrip van wat reg en verkeerd is. Hulle standaarde is nie gebaseer op hoe hulle op daardie oomblik voel nie. Dit is eerder gebaseer op ’n stel vaste beginsels wat hulle help om die regte ding te doen – selfs wanneer ander hulle nie sien nie.

HOEKOM IS SEDELIKE STANDAARDE BELANGRIK?

Kinders word gebombardeer met verkeerde idees oor wat reg en verkeerd is – by die skool, wanneer hulle na musiek luister en wanneer hulle na flieks en TV-programme kyk. Hierdie invloede kan hulle laat twyfel of die sedelike standaarde wat hulle geleer word, reg is.

Dit is veral waar wanneer hulle tieners is. Teen die tyd dat kinders tieners is, sê die boek Beyond the Big Talk, “moet hulle verstaan dat daar baie druk van vriende en die media is om gewild te wees en aanvaar te word. En hulle moet leer om besluite te neem wat in ooreenstemming is met hulle eie waardes en keuses, al beteken dit dat hulle nie optree soos hulle vriende wil hê hulle moet nie.” Dit is duidelik dat hierdie opleiding moet plaasvind voordat jou kind ’n tiener word.

LEER JOU KIND OM BY SEDELIKE STANDAARDE TE BLY

Stel sedelike standaarde vas.

BYBELBEGINSEL: ‘Volwasse mense se waarnemingsvermoëns is geoefen om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is.’ – Hebreërs 5:14.

  • Gebruik woorde wat wys wat reg en verkeerd is. Verwys na alledaagse situasies om jou kind te leer wat reg en verkeerd is. Jy kan dalk sê: “Dit is eerlik; dit is oneerlik.” “Dit is lojaal; dit is dislojaal.” “Dit is liefdevol; dit is nie liefdevol nie.” Mettertyd sal jou kind besef dat dade en standaarde hand aan hand gaan.

  • Verduidelik waarom jy sekere standaarde volg. Jy kan vrae vra soos: Hoekom is dit beter om eerlik te wees? Hoe kan leuens vriendskappe vernietig? Hoekom is dit verkeerd om te steel? Help jou kind om sy gewete op te lei en om logies te kan redeneer.

  • Verduidelik waarom dit goed is om by sedelike standaarde te bly. Jy kan sê: “As jy eerlik is, sal ander jou vertrou” of: “As jy liefdevol is, sal mense daarvan hou om by jou te wees.”

Maak sedelike standaarde deel van julle gesin se identiteit.

BYBELBEGINSEL: “Stel julleself voortdurend op die proef.” – 2 Korintiërs 13:5.

  • Julle sedelike standaarde moet deel wees van julle gesin se identiteit, sodat julle eerlik kan sê:

    • “In ons gesin lieg ons nie.”

    • “Ons slaan ander nie en ons skree nie op hulle nie.”

    • “Ons praat nie lelik met ander nie en ons beledig hulle nie.”

Jou kind sal sien dat sedelike standaarde nie net reëls is nie, maar dat dit deel van die gesin se identiteit is.

  • Praat gereeld met jou kind oor julle gesin se standaarde. Gebruik alledaagse situasies om jou kind waardevolle lesse te leer. Jy kan julle standaarde vergelyk met die standaarde wat jou kind in die media of by die skool sien. Vra jou kind vrae soos: “Wat sou jy gedoen het?” “Wat sou ons gesin in so ’n situasie gedoen het?”

Versterk jou kind se begeerte om by sedelike standaarde te bly.

BYBELBEGINSEL: “Behou ’n goeie gewete.” – 1 Petrus 3:16.

  • Prys jou kind as hy hom goed gedra. Prys jou kind as hy volgens sedelike standaarde optree, en sê vir hom hoekom jy hom prys. Jy kan byvoorbeeld sê: “Ek is trots op jou omdat jy eerlik was.” As jou kind vir jou sê dat hy iets verkeerds gedoen het, moet jy hom opreg prys vir sy eerlikheid voordat jy hom teregwys.

  • Dissiplineer jou kind as hy hom sleg gedra. Help jou kind om verantwoordelikheid te aanvaar vir sy dade. Kinders moet weet wat hulle verkeerd gedoen het en hoe hulle gedrag van die gesin se standaarde verskil. Party ouers wil nie hê dat hulle kind sleg moet voel omdat hy iets verkeerds gedoen het nie. Maar as jy met jou kind daaroor praat, kan dit help om sy gewete op te lei volgens wat reg en verkeerd is.