Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 4

Hoe om verantwoordelik te wees

Hoe om verantwoordelik te wees

WAT BETEKEN DIT OM VERANTWOORDELIK TE WEES?

Mense wat verantwoordelik is, is betroubaar. Hulle doen die take wat aan hulle gegee word en maak dit betyds klaar.

Selfs baie jong kinders kan begin leer om verantwoordelik te wees. “’n Kind se vermoë om met ander saam te werk, begin wanneer hy omtrent vyftien maande oud is, en wanneer hy omtrent agtien maande oud is, wil hy graag help om dinge te doen”, sê die boek Parenting Without Borders. “In baie kulture begin ouers hulle kinders leer om behulpsaam te wees wanneer hulle kinders tussen vyf en sewe jaar oud is, en kinders wat so jonk is, is heeltemal in staat om te help met baie van die takies by die huis.”

HOEKOM IS DIT BELANGRIK OM VERANTWOORDELIK TE WEES?

Die term “boemerang-generasie” beskryf jong volwassenes wat die huis verlaat en op hulle eie probeer woon, maar wat dan terugkeer huis toe wanneer hulle moeilike tye ondervind. Soms gebeur dit omdat die jong persoon nooit geleer is om met geld te werk, ’n huishouding te bestuur of daaglikse verantwoordelikhede na te kom nie.

Daarom moet jy jou kinders oplei vir die verantwoordelikhede wat hulle as volwassenes sal hê. “Jy wil nie hê dat hulle van jou afhanklik moet wees totdat hulle agtien is nie en hulle daarna net so in die regte wêreld los nie”, sê die boek How to Raise an Adult.

LEER JOU KIND OM VERANTWOORDELIK TE WEES

Gee jou kinders spesifieke takies.

BYBELBEGINSEL: “Deur elke soort moeisame arbeid [of, harde werk] kom voordeel.” – Spreuke 14:23.

Jong kinders wil hulle ouers graag met takies help. Jy kan hierdie gewilligheid tot jou kinders se voordeel gebruik deur vir hulle takies by die huis te gee.

Party ouers wil dit nie graag doen nie. Hulle redeneer dat hulle skoolgaande kinders elke dag ’n vrag huiswerk het om te doen en wil nie hulle vrag nog swaarder maak nie.

Maar kinders wat takies by die huis doen, sal waarskynlik beter doen op skool omdat hulle leer om toewysings te aanvaar en te voltooi. En die boek Parenting Without Borders sê: “As ons ons kinders se gretigheid om te help, ignoreer wanneer hulle klein is, begin hulle glo dat dit nie belangrik is om te help nie . . . Hulle begin ook verwag dat dinge vir hulle gedoen moet word.”

Hierdie aanhaling wys dat takies kinders leer om by te dra en nie net te gebruik nie, om te gee en nie net te neem nie. Takies help kinders besef dat hulle ’n spesiale plek in die gesin het en ook ’n verantwoordelikheid teenoor die gesin het.

Help jou kinders om verantwoordelikheid te aanvaar vir hulle foute.

BYBELBEGINSEL: “Luister na raad en aanvaar dissipline, sodat jy in jou toekoms wys kan word.” – Spreuke 19:20.

Wanneer jou kinders foute maak – byvoorbeeld, as jou seun of dogter per ongeluk iets beskadig wat aan iemand anders behoort – moet jy nie wegsteek wat hy of sy gedoen het nie. Kinders kan die gevolge van hulle dade dra. In hierdie geval kan hulle sê dat hulle jammer is en dalk help om die skade te herstel.

As kinders verantwoordelikheid aanvaar vir hulle foute, sal hulle leer om

  • eerlik te wees en hulle foute te erken

  • ander nie te blameer nie

  • nie verskonings te maak nie

  • jammer te sê wanneer dit nodig is