Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Watter voetspore los jy vir jou kind om te volg?

VIR OUERS

8: Voorbeeld

8: Voorbeeld

WAT DIT BETEKEN

Ouers wat ’n goeie voorbeeld stel, doen ook self die dinge wat hulle vir hulle kinders leer. Hulle verwag byvoorbeeld nie dat hulle kinders die waarheid moet praat as hulle self nie die waarheid praat nie. Hulle sal nie hulle kind stuur om vir iemand te sê dat hulle nie by die huis is nie, net omdat hulle nie lus is om met die persoon te praat nie.

“Baie mense sê: ‘Doen wat ek sê, nie wat ek doen nie.’ Maar dit werk nie met kinders nie. Hulle is soos sponse wat alles inneem. Hulle oë en ore mis niks nie. En hulle sal vir ons sê as ons nie self ook doen wat ons hulle geleer het nie.” — David.

BYBELWAARHEID: “Jy, die een wat preek: ‘Moenie steel nie’, steel jy?” — Romeine 2:21.

HOEKOM DIT BELANGRIK IS

Kinders en tieners word maklik deur hulle vriende beïnvloed. Maar niemand het ’n groter invloed op kinders as hulle ouers nie. Dit beteken dat jy in die beste posisie is om jou kind in die regte rigting te help. Maar dan moet jy ’n goeie voorbeeld stel.

“Jy kan dalk iets ’n honderd keer oor en oor sê en wonder of jou kind ooit luister. Maar daai een keer wat jy nie doen wat jy gesê het nie, sal jou kind dit raaksien en dit vir jou sê. Kinders sien alles raak wat ons doen, selfs wanneer ons dit nie besef nie.” — Nicole.

BYBELWAARHEID: “Die wysheid van bo is . . . nie huigelagtig nie.” — Jakobus 3:17.

WAT JY KAN DOEN

Kyk na jou eie standaarde. Na watter tipe TV-programme kyk jy? Hoe behandel jy jou maat en jou kinders? Watter tipe vriende het jy? Doen jy goeie dinge vir ander? In ’n neutedop, is jy die soort mens wat jy graag wil hê jou kind moet wees?

“Ek en my man verwag nie dat ons kinders dinge moet doen wat ons self nie bereid is om te doen nie.” — Christine.

Sê jammer wanneer jy ’n fout maak. Jou kinders weet dat jy foute maak. Moenie bang wees om vir jou maat en jou kinders te sê dat jy jammer is nie. Op hierdie manier wys jy vir hulle hoe belangrik dit is om eerlik en nederig te wees.

“Ons kinders moet hoor hoe ons jammer sê en erken dat ons verkeerd is. As ons dit nie doen nie, sal hulle nooit leer om hulle eie foute te erken nie.” — Robin.

“Ons as ouers het die grootste invloed op ons kinders. En die beste manier om hulle op te lei, is deur elke dag ’n goeie voorbeeld te stel, want dan sal hulle elke dag iets by ons kan leer.” — Wendell.