Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | DIE HUWELIK

Hoe om ’n kompromis aan te gaan

Hoe om ’n kompromis aan te gaan

DIE UITDAGING

Jy en jou huweliksmaat het verskillende voorkeure oor iets. Jy het ten minste drie opsies:

  1. Jy kan hardkoppig daarop aandring om jou sin te kry.

  2. Jy kan passief toegee aan jou maat se wense.

  3. Julle albei kan ’n kompromis aangaan.

‘Maar ek hou nie van die idee van ’n kompromis nie’, sê jy dalk. ‘Dit klink asof nie een van ons sal kry wat ons wil hê nie!’

Wees verseker dat ’n kompromis nie hoef te beteken dat julle albei verloorders is nie—nie as julle dit reg doen nie. Maar voordat ons bespreek hoe om ’n kompromis aan te gaan, is daar ’n paar dinge wat jy oor hierdie belangrike vaardigheid moet weet.

WAT JY MOET WEET

’n Kompromis verg spanwerk. Voordat jy getrou het, was jy moontlik daaraan gewoond om besluite op jou eie te neem. Nou het dinge verander, en jy sowel as jou maat moet julle huwelik bo julle persoonlike voorkeure stel. In plaas daarvan om dit as ’n nadeel te beskou, kyk na die voordeel daarvan. “Wanneer twee mense koppe bymekaarsit, kan dit tot ’n beter oplossing lei as waarmee elkeen op sy eie vorendag kon gekom het”, sê ’n vrou met die naam Alexandra.

’n Kompromis verg ’n oop gemoed. “Jy hoef nie saam te stem met alles wat jou maat sê of glo nie, maar jy moet opreg bereid wees om sy of haar beskouing te oorweeg”, skryf die huweliksberader John M. Gottman. “As jy met jou arms gevou sit en jou kop skud (of selfs net nee dink) wanneer jou maat ’n probleem met jou probeer bespreek, sal julle gesprek niks bereik nie.” *

’n Kompromis verg selfopoffering. Niemand geniet dit om saam met ’n maat te lewe wat glo dat sy of haar manier die enigste manier is nie. Dit is baie beter as albei maats selfopofferend is. “Daar is tye wanneer ek toegee om my man gelukkig te maak, maar soms doen hy dieselfde vir my”, sê ’n vrou met die naam June. “Dit is hoe ’n huwelik moet wees—gee en neem, nie net neem nie.”

WAT JY KAN DOEN

Begin reg. Die toon waarop ’n bespreking begin, is dikwels die toon waarop dit eindig. As julle met kwaai woorde begin, is die kanse skraal dat julle ’n vreedsame kompromis sal bereik. Volg dus die Bybel se raad: “Beklee julle [met] medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid” (Kolossense 3:12). Hierdie eienskappe sal jou en jou maat help om ’n rusie te vermy en eerder die probleem saam aan te pak.—Bybelbeginsel: Kolossense 4:6.

Probeer gemeenskaplike grond vind. As julle pogings om ’n kompromis aan te gaan, net in hewige rusies ontaard, konsentreer jy en jou maat dalk te veel op waar julle beskouings verskil. Probeer eerder vasstel waar dit ooreenstem. Om gemeenskaplike grond te vind, probeer die volgende:

Julle albei moet ’n lys met twee kolomme opstel. Skryf in die eerste kolom die aspekte van die saak neer waaroor jy die sterkste voel. Skryf in die tweede kolom die aspekte neer waaroor jy bereid is om toe te gee. Bespreek dan julle lyste. Julle sal dalk vind dat die aspekte waaroor julle albei die sterkste voel, in werklikheid nie so onversoenbaar is nie. As dit die geval is, behoort ’n kompromis nie te moeilik te wees nie. Selfs al is dit nie versoenbaar nie, sal dit jou en jou maat help om die situasie duideliker te sien as julle al die aspekte van die saak op skrif het.

Dink saam aan oplossings. Party geskille is dalk redelik maklik om op te los. Maar met ingewikkelder sake kan ’n man en vrou hulle band versterk deur saam aan ’n oplossing te dink waarmee nie een van hulle moontlik op hulle eie vorendag sou gekom het nie.—Bybelbeginsel: Prediker 4:9.

Wees bereid om van beskouing te verander. Die Bybel sê: “Elkeen van julle moet ook afsonderlik sy vrou so liefhê soos homself; die vrou daarenteen moet diep respek vir haar man hê” (Efesiërs 5:33). Wanneer huweliksmaats liefde en respek vir mekaar het, sal albei bereid wees om die ander een se beskouing in ag te neem—en selfs van mening te verander. ’n Getroude man met die naam Cameron sê: “Daar is dinge wat jy liewer nie wil doen nie, maar waarvan jy later—danksy die invloed van jou maat—baie begin hou.”—Bybelbeginsel: Genesis 2:18.

^ par. 12 Uit die boek The Seven Principles for Making Marriage Work.